BEKEER TOT DIE GENADE
Die Burger, 3 Julie 1982, bladsy 8
Gewoonlik dink ons aan bekering as die afkeer van sonde. Dit is op sigself korrek. Bekering is ’n omdraai van die verkeerde weg. Dit is om te breek met die dinge waardeur ’n mens bekoor en geboei word tot jou eie verderf. Dit is om tot jouself te kom en die dwaasheid van jou verbroude lewe prys te gee.
Maar bekering kan ook anders beskryf word. Dit kan ook gesien word as ’n bekering tot die besef dat ons enkel uit die genade van God kan lewe. In dié sin is bekering méér as om jou net af te wend van verkeerde weë en sondige dade. Dit is niks minder nie as die prysgawe van jouself met alles wat jy het en is om enkel op die genade van God te vertrou.
’n Mens kan hierdie onderskeiding miskien die beste verduidelik deur na die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar te verwys. Jesus vertel ons dat die Fariseër en die tollenaar albei na die tempel opgegaan het om te aanbid. Die Fariseër het voor God gaan staan en God gedank dat hy nie soos die ander mense is nie. Hy kon ’n hele aantal dinge opnoem wat hy gelukkig nie doen nie, en ’n hele aantal dinge wat hy in onderskeiding van andere wel gedoen het.
Dit was op sigself goed dat hy daardie verkeerde dinge afgewys het en die goeie dinge gedoen het. Die probleem met hom was egter dat hy, ondanks al die goeie wat hy voorgestaan en gedoen het, volledig op homself vertrou het en niks daarvan geweet het om van Gods genade te lewe nie. Trouens, hy het nie eens besef dat hy die genade nodig het nie. En daarom bly hy, ondanks sy goeie dade, in sy hart wesenlik onbekeerd in sy ongebroke selfhandhawing teenoor God.
Daarenteen het die tollenaar homself volkome op die genade van God gewerp. Hy het die enigste ding gedoen wat ’n sondaar kan doen om gered te word. Hy het sy hele skuldige lewe voor God neergelê, God gelyk gegee in sy oordeel oor sy sonde en homself beroep op Gods genade – sonder om te probeer om self sy eie verlossing te probeer verdien.
Voordat die Fariseër nie ook presies dieselfde doen nie, kan hy nie gered word nie. Ook hy moet homself bekeer tot die genade. Om dit te kan doen, sal hy egter eers aan homself en sy eie sondigheid ontdek moet word. Daaroor dink hy veels te oppervlakkig. Die oer-sonde van die mens is om homself te handhaaf teenoor God, om sy eie verlossing te probeer verdien. Hy weier om van genade alleen te lewe. Hy oorskat homself en hy onderskat sy sonde. En so word sy goeie werke self tot ’n uitdrukking van die bodemloosheid van sy verdorwenheid voor God.
Dit is nie goed genoeg om te probeer om beter te lewe nie. Die kwaad in ons sit veel dieper as ons sondige dade. Egte bekering is die bekering tot die genade. Dit is om te rus op die barmhartigheid van God alleen. – WDJ