Ver benede die maat

VER BENEDE DIE MAAT
Die Burger, 24 Julie 1982, bladsy 8

Dit is deel van ons menslike ellende dat ons so ver benede die maat bly van wat ons behoort te wees. Dikwels is daar nie soveel aan te merk op ons uitgesproke ideale nie. Ons kan goed genoeg daarin slaag om in mooi formuleringe te omskryf wat ons as ons eintlike mikpunte sien. Die probleem is egter dat ons in die praktyk ver daarby te kort skiet.

Daar is geen terrein van ons lewe waarop dit nie geld nie. Dit is waar van ons persoonlike lewe, maar ook van ons gemeenskapslewe: Oral staan ideaal en werklikheid in ’n skrille kontras met mekaar.

Die groot gevaar is dat ons sal meen dat dit al goed genoeg is as ons maar mooi ideale en lofwaardige doelstellinge het. Die groot gaping tussen wat ons bedoel om te wees en wat ons in werklikheid is, word dan maklik vergoeilik of in elk geval minder ernstig opgeneem. Ons vergeet dan dikwels dat ander mense ons nie beoordeel volgens wat ons as ons ideaal voorop stel nie, maar volgens wat ons werklik in die harde praktyk van die lewe is en verrig.

Daarom is ons dikwels so verontwaardig oor die negatiewe oordele wat andere oor ons uitspreek. Ons voel dat hulle nie reg aan ons laat geskied nie, omdat hulle ons goeie bedoelinge en lofwaardige ideale nie in aanmerking neem nie. As hulle dit sou doen, so redeneer ons dan moes hulle tog milder oor ons geoordeel het en in aanmerking geneem het dat ons op weg is na ’n grootse ideaal – selfs al is dit nog nie verwesenlik nie. Daarom beskuldig ons hulle van kwaadwilligheid en van allerlei slegte motiewe wat by hulle oordeel ’n rol sou speel.

Ons vergeet egter dat hulle nie anders kan as om tye oordeel volgens wat voor oë is nie. Nie ons hoe ideale nie, maar ons konkrete lewe en dade moet bewys of ons dit werklik opreg bedoel met ons geformuleerde ideale en mikpunte. Hoe sal mense anders kan weet of ons eerlik is met wat ons sê, en of ons nie miskien hulle – dalk nog onsself ook – mislei deur te beweer dat ons hoe ideale het, terwyl ons doodgewone selfsugtige en onbekeerde mense is nie?

Daarom is dit so belangrik dat die kerk nie net ’n pragtige belydenis moet hê oor hoe hy homself in die lig van die Bybel verstaan nie, maar dat hy ook daarna moet streef om dit sigbaar te laat word dat hy sy eie belydenis verstaan. Net so moet dit in ons politiek nie by versekeringe bly dat ons reg en geregtigheid vir almal se ideale koester nie. Dit moet neerslag vind in ons wetgewing en in ons ordening van die samelewing.

Ons almal bly altyd in alles ver benede die maat. Die vraag is egter of ons dit goedpraat en of ons met alle mag daarteen stry. – WDJ