’n Doodloopstraat

’N DOODLOOPSTRAAT
Die Burger, 31 Julie 1982, bladsy 10

Daar is talle mense wat onder die verkeerde indruk verkeer dat godsdienstigheid ’n mens kan red. As jy indringend met hulle praat oor die vraag of hulle kinders van God is en met vertroue die dood en die ewigheid tegemoet kan gaan, antwoord hulle jou deur daarop te wys dat hulle tog godsdienstige mense is wat aan allerlei godsdienstige aktiwiteite deelneem.

Klaarblyklik bedoel hulle om daarmee te sê dat ’n mens wat godsdienstig is, tog nie verlore kan geen nie. Daarom vertel hulle jou van hul kerkbesoek, van hul bydraes vir goeie dinge, en veral vir die kerk, van hul gebede toe hulle in nood was, van hul inspanning om ordentlik te lewe en nie growwe sondes te pleeg nie. Hulle vergelyk hulself met andere wat die Sondag ontheilig, wat die Naam van die Here ydellik gebruik, wat nooit ’n voet in die kerk sit nie en onverskillig is teenoor ons Christelike tradisies. En hul slotsom is dat hulle tog redelik vergelyk met andere vir sover dit godsdienstigheid betref, en dus waarskynlik tog kwalifiseer as Christene.

Ons het hier egter met ’n basiese misverstand te doen. Godsdienstigheid as sodanig is nie verlossend nie. As dit die geval sou wees, sou alle heidene met ’n sterk godsdienstige instelling en rigoristies godsdienstige pligpleginge gered moet wees. Maar selfs godsdienstigheid wat homself op die Bybel beroep en probeer om so Christelik as moontlik te wees, is nie op sigself verlossend nie.

Die Fariseërs het hulself op die wet beroep en probeer om dit haarfyn te onderhou. En waar wil ’n mens groter godsdienstige erns kry as in die Middeleeue, toe mense hulself gekasty het, gevas het, ure lank gebid het, pelgrimstogte onderneem het, doelbewus van alle besit afgesien het – alles ter wille daarvan om deur hul godsdienstigheid die ewige lewe te verkry!

Hierdie soort godsdienstigheid is egter ’n doodloopstraat. Dit hou ’n mens besig met jou eie inspanning en dit verblind jou om die waarheid nie te sien nie, naamlik dat ’n mens net deur genade gered kan word. Dit is nie ons eie godsdienstigheid wat ons red nie; dit is Christus wat ons red, Christus wat die openbaring is van die liefde en genade van God wat ons red ten spyte van wat ons is.

Verlossing is nie die resultaat van godsdienstige inspanning nie, maar egte godsdiens is die vrug van verlossing uit genade alleen. Wie met godsdienstigheid begin en meen om daardeur gered te word, span die kar voor die perde. Wie egter vanuit die genade van God in Christus begin lewe, sal vanself op die regte wyse godsdienstig begin lewe, maar nie meer om iets daarmee by God te verdien of om daarmee sy eie heil uit te werk nie. Hy leef dan immers onder die genade, nie meer onder die wet nie. – WDJ