’n Skewe beeld

’N SKEWE BEELD
Die Burger, 7 Augustus 1982, bladsy 10

By baie mense bestaan die ongelukkige misvatting dat die Christelike geloof wesenlik gepaard gaan met ’n gees van vreugdelose wetsonderhouding en innerlike gestrengheid waarin baie min ruimte is vir die blydskap en vryheid waarvan die Nuwe Testament getuig.

Dit is natuurlik ’n skewe beeld van die Christelike geloof, maar ongelukkig is dit ’n skewe beeld wat gedeeltelik gekweek word deur baie Christene wat self nie ten volle tot die vryheid van die kinders van God deurgebreek het nie. In hul geloof en godsdiens bly hulle staan op die vlak van algemene religieusiteit wat van nature ’n wettiese karakter dra.

Alle natuurlike godsdienstigheid is wetties van aard omdat dit daarvan uitgaan dat die mens God moet behaag deur wat hy op die terrein van godsdienstige en morele pligpleginge kan presteer. Daarom is dit streng, nougeset, bedug op gevare, ywerig in die onderhouding van reëls en seremonies, vol selfkastyding en humorloos. Die godsdiens van die Fariseërs in die tyd van Jesus is ’n ideaal-tipiese voorbeeld daarvan.

Maar Jesus self was totaal anders. Sy verhouding tot God was nie dié van ’n kneg teenoor ’n heer wat met nougesetheid en in vrees gedien moet word nie, maar dié van ’n kind in ’n huis wat met vryheid en blyheid in die dinge van sy Vader verkeer het.

Dit is goed om ’n slag die Evangelies deur te lees met die oog daarop om te sien hoe vry Jesus werklik was. Met ’n aansteeklike vryheid gaan Hy sy weg in ’n samelewing vol moets en moenies, en hoewel daar geen enkele twyfel kon bestaan oor sy vroomheid en volkome toewyding aan sy Vader nie, deurbreek Hy een na die ander van die barrikades wat die Fariseërs opgebou het om die mens terug te hou van ’n vreugdevolle lewe voor God en met die medemense.

Dieselfde vryheid en vreugde wil Jesus ook aan sy volgelinge skenk. Dit is ’n misvatting om te dink dat ons God meer behaag met ons somberheid en bedruktheid en sorge oor ’n verslegtende wêreld, as met ’n lewe van vrolike getuienis aangaande die vryheid wat daar in Christus is.

Dit is ’n groot vergissing om te dink dat vryheid iets gevaarliks is, omdat dit so maklik kan oorgaan in losbandigheid, terwyl ons nie besef hoe gevaarlik dit is om te bly steek in die onvryheid van wettisisme en mensgemaakte gebooie wat die egte gehoorsaamheid aan God noodwendig versper. Die egte vryheid voor God en die mense is die vryheid van die liefde wat die vervulling is van Gods wet. Dit is geen losbandigheid nie. Wettisisme daarenteen maak die wet los van die liefde en kan dit daarom nooit meer verstaan as die “wet van die vryheid” nie (Jakobus 1:25).

Uiteindelik was dit die wettisiste wat Jesus gekruisig het. Sy vryheid was vir hulle onuitstaanbaar. – WDJ