Anders verloor ons dit

ANDERS VERLOOR ONS DIT
Die Burger, 14 Augustus 1982, bladsy 8

As daar een ding is wat ons in hierdie tyd baie duidelik moet besef, dan is dit dat ons die dinge wat vir ons in die lewe waardevol is, alleen saam met ander mense kan besit, of anders heeltemal sal verloor.

Dink maar aan die voorbeeld van ons welvaart. Welvaart is nie as sodanig sleg nie. Dit is ’n gawe van God aan die mens dat hy genoeg mag hê om nie alleen in sy mees elementêre behoeftes voorsiening te kan maak nie; maar om ook aan homself ’n sekere weelde te veroorloof. Die mens se arbeid en spaarsin, sy kundigheid en vernuf – word beloon met meer as wat vir blote voortbestaan genoeg is.

Maar as ons sou dink dat net ’n sekere groep mense in die samelewing in die welvaart van die land mag deel, terwyl andere voortdurend net op of onder die broodlyn moet voortsukkel, maak ons ’n groot fout. Welvaart wat krampagtig vasgehou word tot voordeel van slegs ’n deel van die land se bevolking en nie tot beskikking gestel word om welvaart vir alle inwoners van die land te bewerk nie, word op die lang duur bitter in die mond van die besitters. Vroeër of later gaan hulle dit in elk geval verloor.

Dieselfde geld vir vryheid. Vryheid is kosbaar en dit kan op grond van die Bybel nie betwyfel word dat dit Gods wil vir alle mense is dat hulle vry moet wees om tot hul volle ontplooiing as mense te kom nie. As ons egter sou meen dat ons ons vryheid moet behou en verdedig ten koste van die vryheid van ander mense, sal ons agterkom dat ons op die lang duur ons eie vryheid gaan verloor.

Alle dinge wat vir die mens waardevol is, besit hy net in gemeenskap met andere, of anders verloor hy dit. Hoe kan dit ook anders? God het immers die mense nie as los individue geskep wat elkeen net vir homself moet sorg nie, maar Hy het ons in gemeenskap met mekaar geskep, sodat ons vir mekaar moet sorg en na mekaar se belange moet omsien. Wanneer ons dit nie doen nie, of nie in genoegsame mate doen nie omdat ons van nature selfsugtig is, loop dit altyd weer uit op botsings en die ontstaan van euwels wat vernietigende gevolge het.

Die geskiedenis van die wêreld is ’n geskiedenis van bloed en trane, omdat hierdie basiese beginsel van saambestaan altyd weer verkrag is. Agter al die groot konflikte en revolusies van die moderne wêreld sit ’n situasie van ongelykheid wat uit selfsug gebore is, en dan uitgeloop het op konflikte van ’n verbysterende aard. En meesal is daar net één wenner: die voortkruipende mag van die Kommunistiese wêreldheerskappy wat teer op situasies wat revolusionêr uitgebuit kan word. – WDJ