Ook dit is gevaarlik

OOK DIT IS GEVAARLIK
Die Burger, 21 Augustus 1982, bladsy 8

In onlangse politieke kommentaar is daar in Die Burger gewys op die gevaar van afstomping wat die Israeliese gemeenskap in sy voortdurende stryd om voortbestaan bedreig. Israel is gewikkel in ’n titaniese stryd wat hom dwing tot buitengewone gewelddadigheid teenoor sy vyande.

Hierdie optrede bly egter nie sonder uitwerking op Israel self nie. Dit wil voorkom of ’n bepaalde gevoeligheid en hardheid in hulle gemoed posvat. Daar word selfs gepraat van ’n “renosterfisering” van die Israeliese gemeenskap.

Dit is een van die slegte vrugte van enige gewelddadige stryd tussen mense. Die gevaar van ’n oorlog is nie net dat ’n mens dit kan verloor nie. Dit is dat ’n mens – selfs al is jy die oorwinnaar – soveel ander dinge kan verloor, dat dit ’n vraag is of dit die moeite werd was.

Niemand kan betwyfel dat Israel in ’n stryd om sy voortbestaan gewikkel is nie. Maar dit kan gebeur dat Israel in hierdie bloedige stryd sy karakter kan verloor, sy menslikheid kan inboet, aan homself ontrou kan word en homself sy eie bestaansreg kan ontneem.

Dit is iets wat bedink moet word deur alle mense wat geweld as middel sien om politieke en maatskaplike probleme op te los. Hulle weet nie waarvan hulle praat nie. Gewelddadigheid het altyd ’n neerslag op die een wat geweld gebruik. Dit is ten minste net so gevaarlik vir die een wat dit gebruik as vir die een teen wie dit gebruik word.

Ons bevind ons in die huidige tydsgewrig tussen die twee pole van links en regs wat albei meen dat geweld ’n aanvaarbare middel is – selfs vir ’n Christen – om geskille te besleg. Vir albei hierdie kampe lyk dit na swakheid as daar mense is wat na ’n weg van onderhandelde vrede soek met alle mense wat potensiële gewelddadige vyande kan word. Daar word selfs hele teologieë ontwerp om geweld te heilig en selfs die seën van die kerk daaraan te gee.

Maar hier moet ons die woord van die Here Jesus onthou as Hy sê: Wat baat dit ’n mens as hy die hele wêreld win, maar sy siel verloor? In enige gewelddadige konflik gaan daar iets van ’n mens en van ’n volk se siel verlore. Daarom moet elke regdenkende mens, laat staan nog elke Christen, voortdurend vir vrede en versoening bid en werk.

Die magte van haat en onversoenlikheid mag nie die laaste woord in die wêreld hê nie. Alle moontlike weë moet geloop word om regverdige oplossings te vind vir probleme wat op gewelddadige konflik kan uitloop. As ’n volk ooit in ’n gewelddadige konflik betrokke raak, moet dit nie iets wees wat hy self gesoek of veroorsaak het nie, maar iets wat aan hom opgedwing word. En selfs dan moet hy daarteen waak om nie homself te verloor nie. – WDJ