Verootmoediging

VEROOTMOEDIGING
Die Burger, 28 Augustus 1982, bladsy 8

Die gebeure in Ottawa waar twee Afrikaanse kerke deur die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke ernstig bestraf is, moet vir ons ’n saak van verootmoediging wees.

Die oordeel van hierdie liggaam raak veral wat gesien word as die rol van rassisme in ons kerklike lewe en standpunte speel. Dit kan vir ons geen verassing wees nie. Op die terrein van die politiek, kultuur en sport is ons al daaraan gewoond om deur die wêreldmening veroordeel en gekritiseer te word. Dit getuig van ’n sekere mate van geduld van die kerke in die wêreld dit nou eers in 1982 op kerklike gebied tot so ’n kwaai konfrontasie kom.

Die ernstige vraag waarvoor ons tans gestel is, is hoe ons daarop reageer. Die gevaar is dat ons hierdie stem wat tot ons spreek, op allerlei maniere kan probeer neutraliseer. Dit is so maklik om dit te doen. Die manier waarop in Ottawa opgetree is, kan maklik gekritiseer word. Ons kan selfs veronreg voel oor die wyse waarop ons daar voorgestel is. Ons kan politieke motiewe vermoed. Ons kan vra of die wêreldliggaam duidelik genoeg radikale teologiese tendensies by sy lede onderskei en dit óók afgewys het.

Maar ons moet versigtig wees om om dié redes die boodskap wat tot ons gekom het, eenvoudig naas ons neer te lê. Die verkeerde wyse waarop dit tot ons gerig kan wees, ontslaan ons nie van die verpligting om ernstig aandag daaraan te gee nie. Ons moet dit goed op ons laat inwerk dat dit nie net radikale elemente is wat ons veroordeel nie. Dit is werklik die hele wêreldkerk, in en buite die gemeenskap van kerke wat in Ottawa byeen was. Daar is geen enkele kerk in die wêreld wat ons gelyk kan en sal gee nie. Is ons dan werklik seker dat ons alleen gelyk het?

Die ergste is dat dit nie net nuwe dinge is wat aan ons gesê word nie. Van ons eie teoloë het dit oor die loop van 30 jaar ook al gesê. Maar ons wou nie na hulle luister nie.

Ons afgevaardigdes het verduidelik dat ons nie bedoel om rassisties te wees nie en dat die kerke die pogings tot politieke hervorming steun. As dit waar is, moet dit in die toekoms duideliker blyk. Baie van ons eie mense glo dat die kerke en veral sommige van ons predikante die taaiste teenstanders van die politieke hervorming is. Hieroor moet groter duidelikheid kom.

Ons kan daarvan seker wees dat die radikale tendensies van die politieke teologie soos dit ook in Ottawa sigbaar geword het, vroeër of later deur die wêreldkerk net so skerp veroordeel sal word as wat tans met rassisme gebeur. Vir ons is dit egter nóú belangrik om onsself duidelik van elke vorm van rassisme te distansieer, nie omdat Ottawa dit vra nie, maar omdat rassisme eenvoudig sonde is.

Ons moet verootmoediging onder die oordeel van die wêreldkerk. En ons moet eerlik soek na helderheid oor waarin ons gelyk het en waarin nie. – WDJ