Indrukke oor die stand van die kerk in Middel-Afrika

ZAMBIË:
1.  Gesprek oor Marxisme bring spanning vir kerke
2.  Hier skaaf dit in die kerk van Midde-Afrika

WD Jonker

Van 10 tot 18 Augustus 1982, is ’n teologiese opfrissingskursus vir predikante van Zambië, Zimbabwe en Malawi in Lusaka, Zambië, gehou. Dit is gereël deur die Council of the Reformed Churches in Central Africa, wat die saambindende liggaam is wat die vier “dogterkerke” van die Ned. Geref. Kerk in Midde-Afrika verteenwoordig. Prof WD Jonker het by die kursus opgetree, en gee in twee artikels sy indrukke weer van die kerklike lewe aldaar.

DIE doel van die opfrissingskursus was om die predikante teologies sover as moontlik op datum te bring en terselfdertyd aan hulle geleentheid te bied om mekaar beter te leer ken en broederlike gemeenskap met mekaar te beoefen.

Daarom is die tyd nie net deur lesings in beslag geneem nie, maar ook deur gemeenskaplike Bybelstudie, verslae uit die verskillende kerke oor die stand van die geestelike lewe en die kerklike bearbeiding in hulle ge­biede. Ook is vergaderinge gehou van liggame waarop afgevaardigdes van al hierdie kerke verteenwoordig is.

By elke opfrissingskursus van hierdie aard (wat al om die twee jaar plaasvind) word ’n bepaalde teologiese vakgebied aan die orde gestel. Vanjaar was dit dogmatiek.

Die spesifieke gebied wat behandel is, was die leer van die Heilige Gees. Die Bybelstudie is behartig deur ds DT Keta van Windhoek. Aangesien hy die Brief aan die Romeine behandel het, kon die lesings en Bybelstudie pragtig by mekaar inpas en aanvul.

Vir iemand wat van buite kom en vir die eerste keer van naderby kennis maak met die predikante van hierdie kerke en die sake waaroor hulle dink en praat, is dit sonder meer duidelik dat die jongkerke in Midde-Afrika tans gevestigde kerke is met ’n eie karakter en ’n groeiende volwassenheid.

’n Mens kan slegs innig dankbaar wees oor die werk wat in hierdie gebiede deur die Ned Geref Kerk gedoen is en vir die seën wat deur Gods genade daarop gerus het. Die sendingywer van die Ned Geref Kerk het tot diep in Afrika vrug gedra. Daarvoor kan ons God nooit genoeg dank nie.

In die besonder is ek beïndruk deur die teologiese behoudendheid en suiwerheid wat by die predikante sigbaar was. By baie blanke Christene bestaan die vraag of die Christendom werklik tot in die hart van die Afrika-mens deurgedring het, en of elemente van die tradisionele godsdiens nie nog by baie Swart Christene ’n deurslaggewende rol speel nie. Dit was vir my opvallend hoe diep bewus hierdie predikante van hierdie gevaar is en hoe helder hulle standpunte daaromtrent is.

Die radikale afwysing van alles wat met voorouer-verering en die skemerwêreld van die magiese praktyke van hul heidense verlede te make het, was openbarend.

’n Groot las val van ’n mens se skouers af as jy besef dat ons die toekoms van die kerk in Midde-Afrika met gerustheid in die hand van die Here kan laat wat klaarblyklik daarvoor sorg dat daar geestelike leiersfigure is wat die evangelie verstaan en bereid is om dit teenoor allerlei vorme van verleiding te verdedig. Dit is egter nie net die heidense verlede wat die kerk in Midde-Afrika voor bepaalde keuses stel nie. Die politieke situasie in veral Zambië en Zimbabwe bring ook mee dat hulle met ideologieë gekonfronteer word waarteenoor hulle standpunt moet inneem. Ook hier dit bemoedigend om sien hoe die predikante soms weliswaar aarselend en nog onseker oor hoe hulle dit presies moet formuleer, besig is om tot helderheid te kom oor die werklike aard van die keuses waarvoor hulle gestel word.

As ’n voorbeeld kan ’n mens hier die gesprek noem wat daar tans in Zambië gevoer word oor die aanvaarbaarheid van die Marxisme, of soos dit daar genoem word, “scientific socialism”.

Dit is bekend dat president Kaunda ’n Christen is. Terselfdertyd is hy egter ook baie uitgesproke daaroor dat hy ’n humanis is. Daarmee bedoel hy dat die belange van die mens vooropgestel moet word: die staat is daar ter wille van die mens en sy beswil. Die bevordering van die mens se belange, meen dr Kaunda, is die hoogste waarde waarna gestreef moet word. Gedurende die kursus is daar op Sondag 15 Augustus, ’n groot erediens gehou in een van die gemeentes van die Reformed Church of Zambia (ons “dogterkerk” in Zambië), waarheen die president ook uitgenooi is. Hy het dit met sy gevolg bygewoon en dit was werklik ’n indrukwekkende geleentheid.

Na die diens is aan hom die geleentheid gebied om die aanwesiges toe te spreek. Ook by dié geleentheid het hy beklemtoon dat diens aan die mens en sy belange, die hoogste ideaal beide vir kerk en staat is. Terwyl die staat na die materiële welsyn van die mens moet omsien, is dit die taak van die kerk om na sy geestelike welsyn te kyk. Staat en kerk staan albei in diens van die mensheid, en indien hulle hierin getrou is, dien hulle God op die regte wyse.

Dit is duidelik dat president Kaunda ’n Christelike humanisme in die oog het en dat hy dit binne die konteks van Afrika interpreteer. Dit is dus iets anders as die liberale humanisme van ons Westerse denktradisie. ’n Mens moet gevolglik ook versigtig wees om nie sonder meer op grond van die begrip “humanisme” sy eerlike intensie om as Christen te dink, in twyfel te trek nie.

Tog is dit duidelik dat daar vanaf sy beklemtoning van die humanisme, verbindingslyne loop na ander gestaltes van die humanisme – en dus ook na die Marxisme – wat ook bedoel om ’n gestalte van humanisme te wees.

Die brug na die Marxisme word daarby ook gebou deur die aanvaarding van die sosialisme. Vir Afrika is sosialisme baie meer aanvaarbaar as kapitalisme. Die Afrika-kultuur leen homself baie meer tot ’n sosialistiese denkpatroon as tot ons Westers-individualistiese instelling wat die kapitalisme as een van sy vrugte voortgebring het. Daarom hoor ons ook meermale van “Afrika-sosialisme”.

Hoewel dit nie altyd duidelik is wat daarmee bedoel word nie, kan ons aanneem dat dit nie noodwendig Marxistiese sosialisme of kommunisme hoef te wees nie, maar ’n vorm van sosialisme wat die kommunale belange van die groep vooropstel en nie die belange van die individu nie. Dit is ook begryplik dat hierdie denk­wyse baie maklik as ’n vorm van humanisme verstaan en wysgerig onderhou kan word, soos in die geval van president Kaunda.

In die afgelope tyd wil dit nou egter voorkom asof president Kaunda besig is om die skuif te maak vanaf Afrika-sosialisme en humanisme na wat hy “scientific socialism” noem, en wat in werklikheid neerkom op Marxisties-Leninistiese sosialisme soos dit in die kommunisme aanvaar word. Hyself verdedig die standpunt dat dit nie hoef te beteken dat ook die ateïsme van die Marxisme aanvaar word nie.

In Maart vanjaar het hy verteenwoordigers van die kerke in Zambië ontmoet en aan hulle gesê dat daar nog geen besluit geneem is om aan die regerende party in Zambië ’n Marxistiese ideologie as grondslag te gee nie, maar terselfdertyd het hy aangekondig dat “scientific socialism” in die toekoms in die skole onderrig sal word as deel van die politieke opvoeding van die jeug.

Daar bestaan geen voorneme by hom om in te meng met die godsdiensvryheid in die land of met die godsdiensonderrig op skool nie. Maar niemand mag die bestaan van “scientific socialism” ignoreer nie. Dit moet bestudeer word.

Dit is nie net die kerk wat ’n invloed ten goede in die volkslewe is nie. Die kerke moet hulleself bewys deur te toon dat hulle ’n sosiale faktor van betekenis in die samelewing is. Terselfdertyd moet hulle ook onthou dat daar andere is (kennelik bedoel hy: Marxiste) wat óók die beswil van die mens soek, al is hulle buite die kerk.

In sy toespraak op 15 Augustus het hy baie van hierdie klanke herhaal, maar sonder om die begrip “scientific socialism” te gebruik. Die nuusmedia het dit egter geïnterpreteer as ’n verwysing daarna.

Dit is in hierdie situasie belangrik om te let op die reaksie van die kerke. Die Reformed Church in Zambia vorm deel van die Christian Council of Zambia wat in samewerking met die Zambia Evangelical Fellowship en die Zambia Episcopal Conference op 11 Mei vanjaar ’n brief aan lidmate van die kerke gerig het as reaksie op die ontmoeting met die president.

In die brief word opnuut in helder taal standpunt ingeneem teen die Marxisme en die kommunisme. Kenmerkend is die uitspraak: “Marxism-Leninism is opposed to the idea of God and tries to banish him from life. We totally reject Scientific (atheistic) Socialism”.

In dié verklaring word die humanisme wel aanvaar (Zambian Humanism) en ’n vorm van sosialisme wat daarop gebaseer is. Dit meen hulle hoef nie in stryd te wees met die Christelike oortuiging aangaande God en mens nie. Maar die Marxisme is onaanvaarbaar, onder andere ook omdat dit juis nie die mens se vryheid dien nie: “Marxist-Leninist societies use force and oppression to attain their goals. They do violence to man and restrict his freedom too much.”

Die gesprek oor die Marxisme is nog lank nie beëindig nie en daar word met spanning gewag op die beslissings wat die president en die party in hierdie verband sal neem. Vir die kerke is dit ’n tyd van spanning en ’n mens besef net voor watter groot uitdagings hulle gestel is.

Hoewel die situasie in Zimbabwe nie presies dieselfde is nie en vryheid van godsdiens daar nog steeds erken word, is dit begryplik dat die leiers van die kerke daar met groot belangstelling dophou wat in Zambië gebeur.

’n Mens besef net opnuut hoeveel behoefte die kerke daar aan ons voorbidding het. Hulle standpunt is duidelik. Daarvoor kan ons slegs dankbaar wees. Maar ons behoort meer vir hulle te bid.

Hier skaaf dit in die kerk van Midde-Afrika

In prof. Willie Jonker se vorige artikel het hy iets vertel oor die opfrissingskursus te Lusaka van 10 tot 18 Augustus 1982 en aandag gegee aan die uitdagings waarvoor die kerke daar staan. Dit is verblydend, het hy geskryf, dat ’n mens onder die omstandighede by die predikante kan opmerk dat hulle ’n diepe ontsag vir die gesag van die Skrif het en dat hulle teologies op ’n behoudende weg wil bly. In dié artikel skryf hy oor die mense se behoeftes en verleentheid …

Die skrywer van hierdie artikel moes in sy lesings die leer aangaande die Heilige Gees behandel. Dit was vir hom voor die tyd baie moeilik om homself voor te stel watter probleme hy by die kursusgangers sou ontdek en watter weg hy met die lesings moes volg.

Op die terrein van die leer aangaande die Heilige Gees is daar vir Afrika meer as een versoeking. Tradisioneel dink die Afrika-mens oor die Gees as ’n onpersoonlike krag. Die separatistiese groepe in Afrika skryf graag die Gees in hulle vaandel. Daarby is die pentekostalisme en die opvattinge binne die charismatiese beweging blykbaar vir die Afrika-mens om meer as een rede aantreklik.

En in die heel jongste tyd het die teologie van die bevryding hom al hoe sterker juis op die Gees begin beroep as die mag wat ook buite die kerk om in die geskiedenis werk vir die bevryding van die mens uit allerlei bande van verdrukking en uitbuiting.

Kontak met die kursusgangers het spoedig aan die lig gebring dat hulle oor al hierdie sake nie soveel probleme het nie. Hulle dink hoofsaaklik binne die teologiese terme van die Suid-Afrikaanse “moederkerk”. Hulle is selfs besonder gevoelig vir teologiese standpunte wat hulle as “liberaal” aanvoel.

Die gesag van die Skrif staan vir hulle vas. Vanuit die Skrif wil hulle dink. Wie hulle met die Skrif oortuig, het ’n kans om hulle êrens heen te lei, maar wie die indruk maak van ’n kritiese omgang met die Skrif, sal beslis nog by hulle teenstand ontmoet.

Besonder verblydend is daarom ook hulle aksent op die sentrale boodskap van die Skrif: die verlossing van die mens uit die skuld en die mag van die sonde deur die bloed en die Gees van Christus.

In hierdie verband wil ek graag met dankbaarheid melding maak van die Bybelstudie wat deur ds. DT Keta van Windhoek gelei is. Hy is ’n oud-student van ons Teologiese Skool te Witsieshoek en van die Universiteit van die Noorde. Hy het ook by Unisa ’n Honneurs-BTh behaal.

Hy was dosent by die skool te Orumana in Suidwes-Afrika en tans is hy predikant in Windhoek.

Dit was eenvoudig ’n fees om na hierdie man te luister. ’n Mens was trots daarop dat ons teologiese opleiding sulke produkte kan lewer. Terselfdertyd het ’n mens besef dat hier ’n man met besondere gawes aan die woord is, met ’n besondere insig in die waarheid van die Skrif wat, werklik ’n gawe van God aan die kerk in ons land is.

Sy behandeling van die Brief aan die Romeine met die aksent op die geregtigheid deur die geloof in Christus, was so suiwer, so deurleef, so afgestem op die sentrale boodskap van die Skrif, dat dit die kursusgangers aangegryp het. ’n Mens het gewens dat baie meer van ons mense in Suid-Afrika die geleentheid kon hê om te hoor hoe hy – juis binne die konteks van Afrika met sy probleme – die Woord van die waarheid reg sny.

In verband hiermee het ’n gedagte my aangegryp: moet ons nie veel meer doen aan die teologiese vorming van die toekomstige en huidige leiers van die kerke in Midde-Afrika nie?

Tydens die kursus het ook die vergadering plaasgevind van die Council of the Reformed Churches in Central Africa (CRCCA). Daarop is indringende aandag gegee aan die moontlikheid van verdere studie vir die predikante wat reeds in diens is.

Baie van hulle het slegs ’n Standerd agt-sertifikaat gehad toe hulle toegelaat is tot hulle teologiese opleiding. Hulle voel hulleself nou dikwels minderwaardig in vergelyking met die jeug wat deur hulle bedien moet word en waarvan sommige aan die universiteit studeer en dus akademies baie verder as hulle gevorder het. Bowendien besef hulle dat hulle tyd en situasie aan hulle besondere eise stel, en dat dit noodsaaklik is dat hulle as leiers van die kerke ’n sterker teologiese vorming behoort te hê.

Juis vanweë hulle gebrek aan hoër akademiese kwalifikasies kan hulle nie in aanmerking kom vir toelating tot graadkursusse aan Suid-Afrikaanse universiteite nie – iets wat hulle graag sou wil doen. Daarenteen is daar in die buiteland (Europa en Amerika) instansies wat bereid is om hulle te aanvaar en sonder enige koste van hulle eie kant jare lank opleiding te bied. Dieselfde toelatingsvereistes word nie gestel nie.

Tog is die leraars oor die algemeen nie baie gretig om daarvan gebruik te maak nie. Hulle is klaarblyklik bedug vir die verskynsel van mense wat in die buiteland gaan studeer het en dan heeltemal anders terug gekom het as wat hulle gegaan het, met al die probleme wat daarmee saamhang.

Dit is duidelik dat ons hier nog ’n besondere geleentheid het om ’n bydrae te lewer tot die gang van sake in die kerke van Midde-Afrika. As ons op een of ander manier ’n weg kan vind om meer geleenthede vir hulle aan te bied, sal ons kan help om hulle in staat te stel om te stry vir die suiwerheid van die evangelie in ’n situasie van aanvegting.

Die tyd waarin ons sendelinge in Afrika kon instuur, is byna iets van die verlede, indien nie reeds iets van die verlede nie. Maar klaarblyklik is daar nog bereidheid om ons teologiese bydrae te aanvaar. Geen kerk kan bekostig om so ’n geleentheid ongebruik verby te laat gaan nie! Daarom het ek onderneem om my tot die Kweekskool op Stellenbosch te wend met die ernstige versoek om weë en middele te soek (in samewerking met andere) ten einde te kyk of ons in hierdie verband nie ’n bydrae kan lewer nie.

Dit sou egter verkeerd wees as ons sou dink dat kerke in Midde-Afrika in alles gelukkig oor ons voel. ’n Mens kom al gou agter dat apartheid – en die onwil van die “moederkerk” in Suid-Afrika om homself duidelik daarvan te distansieer – ook vir hierdie broeders ’n struikelblok in hulle verhouding tot ons is.

Byna by die eerste en die beste geleentheid is iets in my lesing aangegryp om my daarmee te konfronteer. Dit is duidelik dat dit vir hierdie mense iets is wat hulle in diepe verleentheid bring by hulle landgenote. Iemand daar het my selfs vertel dat van hulle Swart landgenote aan hom gevra het of hy getoor is om aan ’n kerk te behoort wat apartheid verdedig en Swart mense verag.

Gelukkig lei hierdie verleentheid nie daartoe dat hulle met die kerk breek nie. Die antwoord wat op vrae soos hierbo gegee word, is dat hulle nie die Ned Geref Kerk se standpunt oor apartheid aanvaar nie, maar wel die evangelie wat hy aan hulle verkondig het.

Dat hulle met die antwoord steeds meer moeilikheid kry, hang daarmee saam dat die mense uiteraard vra of die verstaan van die evangelie dan nie iets met apartheid te make het nie. Weerspreek ’n teologiese verdediging van apartheid nie juis die evangelie nie?

Dit is duidelik dat daar heelwat verleentheid vir ons broeders in Midde- Afrika rondom hierdie kwessie bestaan.

Dit vind onder andere uitdrukking in ’n boodskap wat verlede jaar deur die Midde-Afrikaanse streek-konferensie van die Gereformeerde Ekumeniese Sinode opgestel is waarvan hierdie kerke die konstituerende lede is. Die spesifieke boodskap is deur verteenwoordigers van die kerke in Zambië, Malawi, Zimbabwe en Botswana onderteken en aan die Algemene Sinode van die Ned Geref Kerk in ons land gerig. Waarskynlik sal die Algemene Sinode nog daarop reageer.

As ’n mens hierdie boodskap deurlees, word jy getref deur die vriendelike en broederlike toon daarvan. In diepe dankbaarheid word daarvan melding gemaak dat hulle hulself as die geestelike kinders van die Ned Geref Kerk beskou. “We profess our love for you in Christ,” sê hulle, “and we recognise you as our mother in the faith. This fact we neither can nor wish to deny. A child can never deny its mother, nor forget the one who bore it in love.”

Maar as dit gesê is, word ook in duidelike taal getuig van die sorg wat daar bestaan oor die rasse- en politieke situasie in Suid-Afrika – wat blykbaar ook beoefen word deur baie binne die Ned Geref Kerk. Hulle getuig daarvan dat hulle dikwels baie kritiek moet verduur vanweë hulle verbintenis met die kerk wat na die mening van baie op suiwer rassegronde verdeel is en waarin daar so min van die eenheid van Christus sigbaar word.

Al weet hulle dat baie van dié kritiek uit vooroordeel voorkom en al glo hulle ook dat daar veel te sê is vir die beleid van die planting van selfstandige kerke in verskillende lande, is hulle tog nie gelukkig oor die verhouding wat daar bestaan tussen Christene van verskillende rasse wat in werklikheid maar één kerk is nie.

Dikwels, skryf hulle, word hulle gekritiseer deur mense wat sê dat hulle aan ’n rassistiese kerk behoort. Selfs hulle eie kinders verlaat die kerk as gevolg hiervan, en hulle het nie altyd ’n antwoord nie omdat daar so min tekens is van egte kontak en geestelike gemeenskap tussen die lidmate van die moeder- en die dogterkerke.

Al is daar veel begrip vir die probleme wat die moederkerk mag ondervind, word tog ’n dringende beroep op haar gedoen om meer weë te soek om uitdrukking te gee aan die wedersydse liefde en eenheid van die Christene en om profeties te getuig ten einde die regering van Suid-Afrika te beweeg om die strukture van rasse-onreg te verwyder.

Ook word gevra dat Christene wat in alle erns werk aan verandering, nie gedreig of op een of ander wyse tot swye gebring moet word nie. Dit geld van sowel Wit as Swart lede van die familie van Ned Geref Kerke.

Wanneer ’n mens die voorreg het om persoonlik kennis te maak met die mense wat agter hierdie boodskap staan, kom jy onder die indruk daarvan dat hierdie mense dit goed met ons bedoel. Dit gaan hier nie om vyande nie, maar om geestelike kinders van die Kerk in Suid-Afrika wat nog steeds met liefde talle herinnerings koester aan die goeie wat hulle deur die diens van ons sendelinge ontvang het.

Meer as een het vertel van hoe hulle tot bekering gelei is deur hierdie of daardie sendeling of sendingdame wat nog leef en êrens in Suid-Afrika woon.

Hoe moet ’n mens se mentaliteit tog wees as jy nie in alle erns luister na die roepstem en pleitrede van sulke mense nie?