Ons verwond onsself

ONS VERWOND ONSSELF
Die Burger, 11 September 1982, bladsy 8

Die apostel Paulus sug in Romeine 7 daaroor dat hy die goeie wat hy wil, nie doen nie, maar die kwade wat hy nie wil nie, dit doen hy juis.

Uitlegkundiges redeneer met mekaar oor die vraag of Paulus dit van homself as Christen sê, en of hy dit skryf van die mens buite Christus, hetsy dit die mens in die algemeen is of die Joodse mens wat die wet ken en dit probeer onderhou, maar nie daartoe in staat is nie.

Ons hoef die uitlegkundige vraag nie hier te beslis nie. Wat egter soos ’n paal bo water staan, is dat die mens wat homself as Christen ken, telkens weer dieselfde ervaring het. Juis die Christen herken homself in wat Paulus sê. Hoe nader ’n mens aan Christus leef, hoe meer ontdek hy die dieptes van sy onvermoë om uit homself die goeie te doen – selfs die goeie wat hy graag wil doen.

Die kwaad in ons is nie ’n stadium wat ons in hierdie lewe agter ons kan laat nie. Dit is wel ons verlede. Dit is waarvan ons deur Christus bevry word. Dit is deel van ons ou self wat in beginsel met Christus gekruisig is. Maar die raaisel van die sonde is dat dit altyd weer springlewendig homself aanmeld, ook in die lewe van die kind van God, en ons daaraan herinner dat ons verlossing van die sonde hier op aarde ’n geloofswerklikheid is, ’n verlossing in hoop, en dat ons nog nie finaal van ons ou self bevry is nie.

Daarom kan dit ook met ons as Christene gebeur dat ons teen ons eie wil en bedoeling in ’n prooi word van die sonde. Dikwels vang dit ons so onverhoeds. Ons wat vir die liefde gekies het, word onverwags gevang in die net van haat. Ons wat weet dat ons behoort te vergewe, word vervul met gevoelens van wrok en nydigheid. Ons wat weet dat ons bereid moet wees om te ly onder miskenning en vergruising, verval in selfbejammering en ons koester gedagtes van wraak.

En so verwond ons onsself. Ons vernietig ons eie vreugde. Ons gaan in teen die rigting van ons nuwe natuur. Ons ly onder die innerlike teenspraak in onsself. Ons bedroef die Gees van God, maar ons bedroef ook ons eie gees wat geleer het om fyngevoelig te word vir die kwaad. ’n Onbekeerde mens kan stik in frustrasie, maar ’n kind van God ly veel dieper aan die kwaad, omdat hy weet dat hy teen die genade sondig.

Daar is maar één raad, en dit is om onsself te wend na die Bron van alle genade. Die bloed van Jesus Christus reinig ons van alle sonde – telkens weer. In die belydenis van ons bitterheid, ons dwaasheid; ons gebrek aan selfbeheersing, ons onbekeerdheid voor die aangesig van God vind ons weer vrede en troos. Ons hele heiligheid lê buite onsself in Jesus. – WDJ