AKSIE EN REAKSIE
Die Burger, 18 September 1982, bladsy 8
Dit is deel van die ellende van ons onderlinge verhoudinge dat ons feitlik deurgaans beheers word deur die wet van aksie en reaksie. Daardeur kom ons steeds skerper teenoor mekaar te staan in die dinge waaroor ons met mekaar verskil, sodat die weg na wedersydse begrip en versoening onbegaanbaar word.
Die basiese probleem is dat ons altyd gelyk wil hê. Dit is vir ons feitlik onmoontlik om te erken dat ons ʼn fout kon gemaak het in ons standpunt en redenasies. Wanneer iemand anders dan ’n ander standpunt as ons verdedig, voel ons dit so maklik as noodsaaklik om sy standpunt te bestry en ons eie tot elke prys te verdedig. Om dit doeltreffend te kan doen moet ons ons eie standpunt in reaksie teen syne steeds sterker herformuleer. Die resultaat is dat ons steeds verder van mekaar te staan kom. Op sy beurt doen hy immers presies dieselfde.
’n Mens sien dit feitlik daagliks in die politiek gebeur. Politieke partye leef meesal volgens die wet van aksie en reaksie. Dit is deel van die politieke spel dat hulle hulself so duidelik as moontlik van mekaar probeer afgrens en probeer aantoon hoe verkeerd die ander party is. Dikwels is dit egter tot groot skade van die algemene politieke beswil van ’n land. As punte van ooreenkoms beklemtoon kon word en gemeenskaplike motiewe gebundel kon word, kon daar miskien baie meer positiewe stappe gedoen word.
Dit is egter nie net in die politiek so nie. Ook in die kerklike lewe gebeur presies dieselfde. Ongelukkig vind die kerke dit ook dikwels nodig om mekaar te bestry. Soms het ons ook met groepe binne die kerke te doen wat mekaar bestry. As die wet van aksie en reaksie hier sy volle loop neem, kom Christene steeds skerper teenoor mekaar te staan. Daar vind polarisasie plaas, soos dit deesdae genoem word. In hierdie proses kan dit maklik gebeur dat ons elkeen so behep raak met ons eie gesigspunt, dat die totaliteit van die waarheid nie meer raakgesien word nie.
Wat meer is, ook Christene kan van ongeoorloofde metodes gebruik maak in hul bestryding van mekaar. Dit gebeur wanneer hulle nie meer die bal speel nie, maar die man. Ons deel mekaar in groepe in en skryf mekaar oor en weer af. Ons kan nie meer regtig na mekaar luister nie, want ons weet vooraf al dat ons nie met mekaar kan en wil saamstem nie. Die ergste is egter as mense mekaar in die gesprek tussen die kerke of tussen groepe binne die kerk met taktiese middele begin uitoorlê. Dan word dit ’n skaakspel waarby elke skuif gevolg word deur ’n opponerende skuif. Die resultaat moet noodlottig wees.
Waar is tog die mense onder ons wat die geestelike krag het om die spel van aksie en reaksie te deurbreek in ’n nuwe inisiatief van die liefde en die waarheid? Hulle sal in ons situasie ’n gawe van God wees. – WDJ