Die Wysheid van bo

DIE WYSHEID VAN BO
Die Burger, 2 Oktober 1982, bladsy 10

Ons leef in ’n tyd waarin elke mens wat sensitief genoeg is, sal besef dat hy wysheid kortkom. Daar is natuurlik altyd diegene wat meen dat hulle die volle wysheid in pag het, maar hulle kan nie ernstig opgeneem word nie – juis omdat hulle deur hulle selfversekerdheid toon dat hulle nie eens begryp hoe ingewikkeld die lewe is nie. Egte wysheid begin altyd met die besef dat ons gebrek aan wysheid het.

Dit is nie ’n skande om te erken dat ons nie altyd presies weet wat die regte weg met ons ingewikkelde probleme is nie. Dit is eenvoudig deel van die nederigheid wat ’n Christen behoort te kenmerk. Egte wysheid is immers nie maar net ʼn kwessie van intellek nie. Baie slim mense is onwys. Egte wysheid het altyd ’n morele kant. Dit het iets te make met ’n mens se innerlike reinheid en eerlikheid. Die Nuwe Afrikaanse Vertaling van die Nuwe Testament maak dit vir ons baie moeiliker as voorheen om by die skerp kante van die Woord van God verby te kom. In die ou vertaling was daar nog baie woorde en uitdrukkings wat nie tot ons spreektaal behoort het nie sodat ’n mens die werklike bedoeling daarvan soms nog kon miskyk. Maar die nuwe vertaling praat in duidelike woorde wat ons ken en in ’n idioom wat nie meer vir misverstaan vatbaar is nie.

Daarom is dit goed om ʼn keer Jakobus 3:13–18 in die nuwe vertaling te lees. Dit handel oor die wysheid wat van Bo is. Uit dié gedeelte word dit baie duidelik dat wysheid ook iets te make het met ons innerlike gesteldheid. Daar is ’n soort wysheid wat opkom uit selfsug en naywer. Maar Jakobus noem dit aards, sinlik en duiwels. Daar is egter ook ’n soort wysheid wat van Bo kom. Die kenmerke daarvan is dat dit sonder bybedoelinge is, vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig en opreg.

Die wysheid wat ons kortkom, is die wysheid van Bo. Ons het genoeg gehad van ons eie aardse, selfsugtige, partydige wysheid. Dit ruïneer ons lewe. ’n Mens wat deur God wysgemaak is, is ’n mens wat homself bekeer van sy stekerigheid, sy geniepsigheid, sy dwase lelikheid. Dit is ’n mens wat ’n keer in nederigheid eerlik word met homself, met sy eie motiewe (“bybedoelinge”) en homself voor God stel met die vraag: Here, wat wil U hê moet ek doen? Die antwoord sal altyd anders wees as dié van ons selfsugtige en naywerige aardse wysheid.

Jakobus skryf dat ’n mens jou wysheid deur jou goeie gedrag en deur dade van nederigheid moet bewys. Wysheid het ’n morele kant. Dit het ’n geestelike kant. Dit het ’n bekeringskant. En bekering is ’n voortgaande proses dwarsdeur ons lewe.– WDJ