NG Kerk voor ’n ingrypende beslissing

NG KERK VOOR ‘N INGRYPENDE BESLISSING
Die Kerkbode, 6 Oktober 1982, 134e Jaargang, Deel CXXX, Nommer 14 (16)

Die NG Kerk staan tans voor een van die ingrypendste geestelike beslissings in sy hele geskiedenis. ’n Verkeerde optrede in hierdie stadium kan onberekenbare gevolge vir die kerk en die koninkryk van God hê, meen prof. Willie Jonker, hoogleraar in dogmatologie aan die Stellenbosse Kweekskool.

Daarom meen hy moet ons in hierdie situasie soos Christene reageer. Die kwaliteit van ons christenskap moet blyk uit die nederigheid, ootmoed en bereidheid tot selfondersoek wat ons openbaar.

“Ons het in eerste instansie met God te make en met ons eie verhouding en gehoorsaamheid teenoor Hom. Daarom moet ons waak teen die vleeslike reaksies soos bitterheid, venyn, vermakerigheid en die rondslinger van kontra-beskuldiginge.

Prof. Jonker meen voorts dat ons saaklik moet reageer. “Ons mag nie toelaat dat allerlei newe-geskikte dinge soos vrae van ’n formele aard, kritiek teen bepaalde persone en hulle teologie of irriterende insidente ons aandag aftrek van die sentrale saak nie.

“Die saak is dat ons deur die WGK skuldig bevind word daaraan dat ons as kerk ‘n rassistiese politieke sisteem steun, dit teologies regverdig en ’n kerklike vorm daarvan praktiseer, deurdat die kerk op rasse-grondslag verdeel is.

“Ondanks moontlike verskille oor die wyse van optrede van die WGK, kan ons aanvaar dat feitlik alle kerke in die wêreld dit saaklik met hulle in hierdie oordeel eens is.

“Die verskil tussen ons en die wêreldkerk gaan nie oor die objektiewe norm van geregtigheid of oor die vraag of rassisme sonde is nie. Daaroor stem ons saam. Dit gaan oor die vraag of apartheid (afsonderlike ontwikkeling) rassisties, en dus sonde is.

Die WGK beantwoord hierdie vraag positief, die NGK negatief. Hierdie verskil kom daaruit voort dat hulle uit verskillende gesigshoeke na afsonderlike ontwikkeling kyk.

“Die WGK laat geen twyfel daaroor dat hy daarna kyk uit die gesigshoek van diegene in ons land wat aan die ander kant van die kleurskeidslyn leef nie. Hulle ervaar afsonderlike ontwikkeling as rassisties, diskriminerend, vernederend en onderdrukkend.

“Die NGK daarenteen praat oor afsonderlike ontwikkeling uit die gesigshoek vir wie dit ’n instrument is vir die behoud van sy identiteit, selfbeskikking en hoë lewenstandaard.

“Met die gevoelens en ideale van die Blanke in gedagte sê die NGK dat daar in die lig van die Skrif niks verkeerd kan wees met afsonderlike ontwikkeling, mits dit in geregtigheid en in liefde toegepas word nie.

“Met die situasie en belange van die ander bevolkingsgroepe in gedagte, sê ons jongkerke en die WGK dat afsonderlike ontwikkeling ’n sisteem is wat een groep ten koste van andere bevoordeel, en dit op rassegronde, sodat dit in sigself rassisties is en in konflik kom met die Bybelse eise van geregtigheid.”

Volgens prof. Jonker is dit duidelik dat hierdie gesigspunte onversoenbaar is. Hy sê die NG Kerk en sy jongkerke praat vanuit twee verskillende wêrelde. En solank dit so bly, praat hulle by mekaar verby.

“Al ons mooi woorde oor ons goeie bedoelinge, beroep op die Skrif en ons pleitredes vir versoening, is vir hulle ongeloofwaardig. Die talle konkrete bewyse van rassisme in ons kerklike en staatkundige lewe en die vernedering en lyding wat dit vir hulle meebring, maak dit vir hulle onmoontlik om aan ons eerlike bedoelinge te glo.

“Veral die feit dat die kerk op rasse-grondslag verdeel is en dat ’n stelsel wat deur hulle as so pynlik ervaar word, deur die kerk verdedig word, oortuig hulle daarvan dat dit vir ons om veel meer gaan as ’n praktiese politieke beleid.

“Dit bevestig hulle in die sekerheid dat ons vanuit ’n apartheidsideologie leef, ondersteun deur ‘n teologie van apartheid.

“Hierdie impasse kan alleen van ons kant deurbreek word. Die sleutel daarvoor lê in die kwalifikasie wat die NGK in sy goedkeuring van afsonderlike ontwikkeling ingeskryf het: MITS, d.w.s. mits dit aan die eise van geregtigheid en naasteliefde voldoen.

“Dit help nie om nou maar net te sê dat ons weer na die Bybel sal gaan kyk nie. Die vraag is hóé ons daarna kyk. Die Bybel het ’n boodskap vir ons in ons situasie, maar dan moet ons ons situasie eerlik onder oë sien.”

Daarom is dit vir prof. Jonker dringend noodsaaklik dat die Kerk nou ’n keer eerlik die vraag moet ondersoek of daar waarheid steek in die beeld van ons landsituasie soos dit deur die oë van diegene aan die ander kant van die kleurgrens lyk.

“Ons kan nie op ’n abstrakte wyse vasstel hoe die Bybel oor afsonderlike ontwikkeling oordeel nie. Dit is alleen moontlik vanuit ’n eerlike ontleding van ons situasie soos alle mense in ons land dit ervaar.

“Eers dan kan ons weet of aan ons voorwaardelike ‘mits’ voldoen word of nie. Die verligte oë wat die Heilige Gees gee en die liefde wat die Gees in ons harte uitgestort het, moet ons lei tot ‘n eerlike beoordeling van ons situasie.

“As ons dit nie kan doen nie, of meen dat ons nie nodig het om dit te doen nie, is die moontlikheid vir ’n egte versoening tussen die Christene in ons land baie skraal. Mag God ons help om dit te doen!”