Dit is noodsaaklik

DIT IS NOODSAAKLIK
Die Burger, 16 Oktober 1982, bladsy 8

Daar is min dinge wat in ons verhouding tot ander mense so noodsaaklik is as voortdurende en openhartige kommunikasie. Waar dit ontbreek, groei daar alte maklik misverstande tussen mense, en kan dit aanleiding daartoe gee dat vooroordele opgebou word wat tot ’n breuk in ons verhouding moet lei.

Wanneer ’n man en ’n vrou nie van die begin van hulle huwelik af geleer het om verskilpunt openlik uit te praat nie, is hulle huwelik ’n maklike prooi van die versoeking om mekaar hoe langer hoe meer los te laat en uiteindelik ’n onoorbrugbare kloof tussen hulle te laat ontwikkel.

Dieselfde geld vir ouers en kinders. Vanweë ons besige lewe het ons dikwels nie genoeg tyd vir ons kinders nie. Ons merk nie hoedat daar tussen hulle en ons ’n kommunikasiegaping groei nie. Op ’n bepaalde dag ontdek ’n mens dan met skok dat jou eie kind vir jou ’n totale vreemdeling geword het. Sy denke, sy kyk op sake, sy voorkeure en afkeure, sy beslissings is totaal anders as wat jy verwag het. En as jy sou kon indring in die rede daarvoor, sou jy waarskynlik ontdek dat jou kind al lankal van jou vervreemd geraak het, ’n verkeerde opvatting aangaande jou het, en jou totaal anders verstaan as wat jy jouself verstaan.

Die verhouding tussen mense is ’n sensitiewe saak. Dit word bepaal deur ’n duisternis van faktore wat, soos die ratwerk van ’n masjien, verkeerd kan funksioneer as daar êrens ’n skroef los is. Daarom is dit nog belangriker om ons verhouding met diegene rondom ons voortdurend te kontroleer as wat dit is om ons motor gereeld te laat versien. Kommunikasie is die enigste doeltreffende wyse om dit te doen, sodat haakplekke en misverstande vroegtydig opgemerk en uitgeskakel kan word, voordat dit ’n breekspul veroorsaak.

Oneindig in getal is die gevalle waar eerlike kommunikasie al daarin geslaag het om fatale rampe af te weer en vasgeloopte situasies oop te breek. Dit geld vir alle verhoudinge, of dit nou die huwelik, die huisgesin, die arbeidsgemeenskap, die staat of die kerk is.

In die besonder vir die kerk is dit belangrik om nie kommunikasiegapings te laat ontstaan nie. Die kerk is die familie van God, die huisgenote van die geloof. Die Heilige Gees word bedroef in die verbreking van alle menslike verhoudinge, maar dit geld te meer vir die onmin wat daar in die kerk ontstaan, omdat die gemeente die tempel van die Heilige Gees is.

Daarom sal die kerk, hoe meer waarde hy heg aan sy verhouding tot God, al hoe versigtiger omgaan met onderlinge verhoudinge. Ons het mekaar nodig. Gelowiges groei deur onderlinge opbou, onderlinge kritiek, onderlinge vermaning. Maar dit alles kan net reg funksioneer waar die weg tot kommunikasie oop is. Die weg van die Gees is die weg van openheid vir mekaar. – WDJ