Kerkhervorming

KERKHERVORMING
Die Burger, 30 Oktober 1982, bladsy 10

Dit is môre presies 465 jaar gelede dat Martin Luther sy beroemde stellings aan die deur van die Slotkerk in Wittenberg vasgespyker het en daarmee – onbewus – ’n beweging van onafsienbare grootte en betekenis van stapel laat loop het.

Die hele Christendom behoort met dankbaarheid daaraan terug te dink. Wat Martin Luther gedoen het en wat met sy moedige daad saamgehang en daaruit voortgevloei het, het allermins net vir die Protestantse kerke betekenis. Ondanks die pyn van die verskeurdheid van die kerk wat met die Reformasie nog verder sigbaar geword het en ’n blywende finaliteit gekry het, moet ’n mens tog ook sê dat God langs hierdie weg die hele kerk van Christus op aarde geseën het.

Die geestelike impetus van die Reformasie het by wyse van terugwerking ook vir die Rooms-Katolieke Kerk betekenis gehad. Vandag is daar binne die Rooms-Katolieke kringe by vele ’n hoë waardering vir Luther. Hulle erken ruiterlik dat Luther die kerk op tekortkominge en gevare gewys het, en betreur die wyse waarop die kerk destyds met veel onbegrip op sy optrede reageer het.

Veral in die nuwere tendensies binne die Rooms-Katolieke teologie is die invloed wat daar van die boodskap van die Reformasie uitgegaan het, onmiskenbaar duidelik. Maar dit is nie net die Rooms-Katolieke kerk wat langs ’n omweg uiteindelik tog ook baat gevind het nie. ’n Mens sou dieselfde ook kon sê van die Oosterse-Ortodokse Kerk, wat in baie opsigte meer waardering vir die Reformasie kon hê as Rome.

En tog is dit duidelik dat dit veral die Protestantse Christendom is wat nooit genoeg dankbaar kan wees vir wat in die Kerkhervorming plaasgevind het nie. Dit was, op die kortste noemer gebring, die deurbraak van die insig in die volledige genade-karakter van die verlossing. Dit was daarom ’n bevryding van die las van werkgeregtigheid, van die gebrek aan heilsekerheid, van die wettisisme en die swaar laste van menslike religieusiteit waaronder die kerk in die Middeleeue gely het.

’n Deur het oopgegaan na die vryheid van die kinders van God wat in Christus alles het. En die hele Bybel het opnuut begin mee-resoneer met die helder tekste van Paulus en die Psalms oor die geregtigheid wat God as gawe skenk, onverdiend, uit louter goedheid, aan almal wie dit in die geloof wil ontvang.

Die bevryding wat die boodskap van die Reformasie bring, het duisend kante, want dit maak ʼn mens nie net vry om jou sorg oor jou sonde nie – dit het Christus vir ons gedra – maar ook vry van alle sorge. As ʼn mens nie meer deur eie prestasie hoef te bestaan nie, as jy in alles van genade lewe, word jou lewe in sy geheel anders. Daarom moet kinders van die Hervorming mense wees wat uit ʼn innerlike vryheid lewe en van dié vryheid deur hulle hele lewenswandel getuienis aflê. – WDJ