Laat rus dit eers

LAAT RUS DIT EERS
Die Burger, 6 November 1982, bladsy 8

Baie ongelukkig dinge sou in die wêreld verhoed gewees het as ons maar kon leer om nie oorhaastig te reageer op dinge wat ons seer of kwaad maak nie. As ons maar kon leer om eers ’n nag daaroor te slaap voordat ons daardie woedende brief skryf of daardie bitsige telefoongesprek voer, sou ons optrede dikwels minder kwetsend en meer oortuigend gewees het.

Ons eerste reaksie is dikwels gebore uit die liggeraaktheid van ons sondige natuur. Dit is so moeilik om te verstaan hoe ingewikkeld ons gemoed werk. Duisende drange en begeertes lê daar verstrengel rondom die één sentrale as van ons selfliefde. Daar is nie veel nodig om daarin ’n beweging te bring nie.

Daarom word ons ook maklik beweeg tot afguns, nydigheid en woede oor dinge wat op die een of ander manier ons ego aantas of ons persoonlike belange in die gedrang bring. Dit is selfs nie eens altyd moontlik om direk te sien hoe die dinge wat ons beweeg, met ons ego in verband staan nie. Daarvoor is ons binnewêreld veels te gekompliseerd. Tog is die verband altyd daar. Verborge drade loop onder alles deur en registreer die skokke van buite op die sentrale seinbord van ons hart.

Die gevolg is dat ons “ek” baie meer direk betrokke is by allerlei skynbaar verwyderde dinge as waarvan ons altyd self bewus is. Ons bedrieg onsself ook dikwels en meen dat ons maar net kwaad word omdat ’n “beginsel” aangetas is of die “saak” benadeel is. In werklikheid hang ons geraaktheid en woed egter meesal saam met die pyn wat ons beleef omdat ons eie wense en begeertes nie vervul word op die wyse waarop ons dit begeer nie.

Wanneer ons nou vanuit hierdie situasie reageer kan ons soms so bitter onbillik, emosioneel, geniepsig en onverantwoordelik optree. Die “vlees”, die ou natuur, kan selfs ’n Christenmens daartoe beweeg om op sodanige wyse op te tree dat hy hom agterna maar net diep daaroor kan skaam.

Daarom is dit so goed as ’n mens kan leer om nie oorhaastig te reageer nie. Gun jouself eers die tyd om afstand te kry van die dinge wat jou ontstel. Vra jouself af waarom jy so onredelik kwaad is. Moenie vanaand nog daardie brief pos wat in jou woede geskryf het nie. Bêre dit eers tot môre en bid daaroor voordat jy dit pos.

Dit is ondenkbaar dat die Heilige gees ons nie bewus sal maak van ons onredelikheid – as ons die tyd wil neem om stil te word in selfondersoek – voordat ons reageer op die dinge wat ons ontstel nie. Dan kan ons beter onderskei tussen wat werklik saak maak en wat nie. Dikwels is die antwoord wat ons dan gee, heeltemal anders as dié wat ons in die eerste oomblikke sou gegee het. So oorwin ons onsself, en dien ons werklik die sáák. – WDJ