DIT IS UITGESPREEK
Die Burger, 13 November 1982, bladsy 10
By die jongste sitting van die Algemene Sinode van die Ned Geref Kerk is ’n besluit geneem waarin duidelik uitgespreek is dat rassisme sonde is. Dié besluit is versigtig geformuleer om te verseker dat die begrip “rassisme” op ’n verantwoordelike manier hanteer moet word, en in die besonder is die kwalifikasie daarin opgeneem dat “rasbewustheid” as sodanig nie verkeerd is nie, slegs verabsolutering daarvan.
Maar hoe ook al gekwalifiseerd, dit is dan tog maar uitgespreek: rassisme is sonde, en dus wat die kerk betref: tugwaardig. ’n Mens sou wil sê dat dit iets is wat die Kerk al lankal moes gesê het, en verkieslik nie nou eers, noudat ons van alle kante op ’n ontstellende wyse daarmee gekonfronteer is nie.
Oor sulke beginselsake moet ’n mens liewer in alle omstandighede duidelike taal praat, sodat dit nie later lyk asof dit aan ’n mens ontworstel moet word om die kind by sy naam te noem nie.
Noudat dit eenmaal uitgespreek is, sal ons seker maar eers langsamerhand die volle konsekwensies daarvan moet begin ontdek. Waar begin rassisme en waar hou dit op? Wanneer het ons met gesonde rasbewustheid te make en waar begin die verabsolutering daarvan? Watter van ons praktyke kan die toets van die goeie op hierdie terrein deurstaan?
Die probleem is dat daar niemand is wat homself as ’n rassis sal wil klassifiseer nie. Met rassisme is dit soos met alle ander sondes: ’n mens sal nie graag erken dat jy self daaraan skuldig is nie. Jy rasionaliseer en verduidelik, jy skram weg en voer ’n groot aantal redes aan waarom jy nie skuldig is nie. Daarom is dit ook hier noodsaaklik dat die Heilige Gees ons sal moet leer om fyngevoelig te word en eerlik met onsself om die sonde te herken in al sy menigvuldige gestaltes en ons daarvan los te maak.
In die algemeen kan ’n mens sê dat ons rassisme die maklikste kan omskryf deur dit rassevooroordeel te noem. Rassisme wortel is die neiging om by voorbaat ’n negatiewe oordeel oor mense te vel net omdat hulle tot ’n bepaalde ras behoort. Aan die ras as sodanig word minderwaardigheid, onbeskaafdheid, luiheid, onsinlikheid, oneerlikheid en nog ’n menigte ander slegte eienskappe toegeskryf. Die gevolg is dat daar bloot op grond van ras teenoor mense gediskrimineer word, ’n afkeer van hulle gekoester word, gemeenskap met hulle geweier word, lelike dinge oor hulle gesê word.
Dit alles is in stryd met die Christelike liefde, maar dit is ook onbillik, want dit is nie meer mense se karakter nie, maar hul fisieke eienskappe, soos bv hul kleur, wat die grond word van ons verhouding teenoor hulle. As dit alles ingebou word in samelewingspatrone wat bepaalde voorregte aan mense onthou, bloot op grond van hul ras, is dit sonder meer onreg. Die Sinode het gesê: dit is sonde. – WDJ