DIT KAN NIE GEKOOP WORD NIE
Die Burger, 27 November 1982, bladsy 14
Die hoogste lewenswaardes kan nie gekoop word nie. Dit geld in die besonder vir die liefde. Liefde is iets spontaans, iets wat nie afgedwing kan word nie. Geen vorm van manipulasie kan dit tot stand bring nie.
Liefde is altyd ’n geskenk wat in vryheid gegee word. As wederliefde is dit ’n vrye reaksie op liefde wat onvoorwaardelik gebied word. Liefde redeneer nie of dit betalend is om lief te hê nie. Sodra dit gebeur, het ons nie meer met die egte artikel te make nie. Egte liefde gee sonder om te bereken, maar dit is belangrik om daarop te let: egte liefde is altyd ’n gee van onsself, nie net van ons gawes nie.
Daarom is dit so verkeerd om te dink dat ’n mens liefde kan koop deur gawes en geskenke. Daar is baie ouers wat die fout maak om te dink dat hulle die liefde van hul kinders op die een of ander manier moet verseker deur die baie geskenke en voorregte wat hulle aan die kinders gee. Dikwels is dit dan vir hulle ’n groot ontnugtering as hulle agterna agterkom dat die kinders geen waardering vir die geskenke het nie en hulle ook glad nie die toegeneentheid skenk waarop hulle gereken het nie.
Die fout wat hulle maak, is dat hulle dink dat hulle deur hulle baie geskenke die kinders se toegeneentheid kan verdien. Maar dit werk nie so nie. Liefde antwoord spontaan op liefde en wederliefde ontspring as antwoord spontaan op liefde en wederliefde ontspring as antwoord op die gee van onsself. Dit kan wees dat ons liefde, selfs vir ons kinders, selfsugtig van aard kan wees. Ons wil hulle vir onsself opeis, in plaas daarvan om onsself onvoorwaardelik aan hulle te gee. Ons baie geskenke word dan tot ’n instrument waarmee ons die kinders wil bind. Ons wil eintlik oor hulle regeer, selfs deur die goedheid wat ons aan hulle bewys. Ons wil hulle afhanklik van ons hou en hulle onder verpligting teenoor ons plaas.
Dit voel hulle aan, en dan reageer hulle negatief. Hulle wil hulself aan ons omhelsing ontworstel om lewensruimte vir hulself te kan verower. Die resultaat is dan dat ons juis verloor wat ons so graag wou gehad het.
’n Mens hoef nie soveel geskenke en voorregte aan jou kinders te gee nie, as hulle maar net altyd intuïtief weet dat jy jouself aan hulle gee. In ons moderne tyd vind baie ouers wat hulle kinders met weelde oorlaai en aan hulle alles gee wat geld kan koop, dat die kinders soms selfs van die huis wegloop. Want wat hulle werklik nodig gehad het, is ’n bietjie meer van ons tyd, van ons self, van ons warmte, van ons belangstelling wat onvoorwaardelik om hulself ontwil gegee word. Dit wek wederliefde. Net egte liefde wek wederliefde. – W.D.J.