Dit moet ons ráák

DIT MOET ONS RÁÁK
Die Burger, 4 Desember 1982, bladsy 14

Die rede waarom die godsdiens van baie mense vir hulle ’n bloot formele kwessie is, is daarin geleë dat die boodskap van die evangelie hulle nog nooit werklik geráák het nie. Dan bly ’n mens se verbondenheid aan die kerk en die Christendom iets uiterliks, iets wat jy van huis meegekry het, iets wat vir jou deel uitmaak van jou agtergrond en kultuur. Dit is nog nie regtig iets wat jou lewe in sy diepste kern aangegryp en verander het nie.

Egte Christenskap kom eers na vore waar ’n mens tot in die wortels van sy eksistensie aangeraak is deur God self. Daar, in die binneste, moet ’n mens aangegryp word. Dit gaan inderdaad veel dieper as blote verstandelike kennisname van en instemming met ’n aantal kerklike leerstellings. Dit gaan om ’n ervaring van innerlike bevryding en oorgawe wat ons hele persoon raak, omdat ons ontdek dat ons opgevang is in ’n liefde en goedheid wat van Gods kant tot ons kom, en waarteenoor ons geen ander antwoord het nie as die vreugdevolle aanvaarding wat alle woorde te bowe gaan.

Omdat alle mense nie eenders is nie, is alle mense se godsdienstige ervarings ook nie eenders nie. Geloofsbelewing verskil byna van persoon tot persoon. Maar ondanks alle verskille is daar tog die gemeenskaplike: ’n mens moet weet dat jy te make het met God self, met sy liefde in Christus en met sy gemeenskap deur die heilige Gees. Dit is die dinge waarvan die Bybel praat, en dit nie maar abstrakte woorde nie. Dit is lewende werklikheid wat selfs op die vlak van ons ervaring beleef kan word.

Dit was wat so kenmerkend was van die eerste Christene: Hul blymoedige, vreugdevolle versekerdheid dat hulle God in Christus ken. So ’n soort Christenskap werk aansteeklik, omdat dit gestempel word deur die teenwoordigheid van die Heilige Gees en dus ook instrumenteel kan wees in die oortuiging van andere dat die Christelike belydenis nie maar ’n stel beginsels is nie, maar ’n lewende gemeenskap met ’n lewende Heer wil verwoord.

Die groot probleem van die hele Westerse Christenheid met sy gevestigde kerke is dat die spontaniteit van Christenskap meestal plek gemaak het vir die geordendheid van groot kerklike institute wat ’n kleurlose en dikwels vreugdelose soort verburgering ondergaan het. Hoe staan ons tog weer daaruit op? Hoe word ons tog weer kinderlik, eenvoudig, bly daaroor dat ons Christene kan wees?

Net ’n wonder van Gods kant kan dit laat gebeur. Maar wondere kan nog steeds gebeur, en gebeur inderdaad ook nog voortdurend in die wêreld, as ons maar oë het om dit te sien. En daar is geen rede waarom God nie ook die wonder kan laat gebeur van ’n groot en diepgaande herlewing van die kerk van Christus in ons tyd nie. – WDJ