ONS GROOTSTE BEHOEFTE
Die Burger, 11 Desember 1982, bladsy 10
Ons grootste behoefte is persoonlike geestelike vernuwing. Daarsonder mis ons die vermoë om op die regte wyse in die wêreld te lewe en vir andere tot seën te wees.
Dit is die elemente van waarheid in die redenasie van diegene in ons midde wat sê dat die kerk hom nie moet inlaat met politieke en maatskaplike vrae nie, maar aan mense die vergiffenis van sonde deur die bloed van Christus moet verkondig en hulle moet oproep tot ’n lewe van persoonlike toewyding aan God.
Dit is inderdaad die primêre taak van die kerk. As hy dit sou verwaarloos, word veel van wat hy verder kan doen, vanselfsprekend betekenisloos. Wat help dit immers om mense op te roep tot ’n nuwe gesindheid teenoor hul medemense, tot ’n bevordering van maatskaplike geregtigheid, tot die diens van God op politieke en maatskaplike terrein, as ons hulle nie eers na Christus gelei het en hulle nie eers deur die Heilige Gees vernuwe en begerig gemaak is om Gods wil in alles te doen nie.
Dit sou daarop neerkom dat ’n mens die kar voor die perde span, dat ’n mens wil probeer om die vrug goed te maak sonder dat die boom goed is, dat ’n mens van heiliging praat met mense wat nog nie eens weet wat regverdiging in Christus is nie, dat ’n mens oor versoening tussen mens en mens wil onderhandel met mense wat self nie met Christus en deur Hom met God versoen is nie.
Daarom spreek dit vanself dat die kerk se primêre taak die verkondiging van die heil in Christus is en die aandrang by alle mense om hulle met God te laat versoen (2 Korintiërs 5:20). Dit is ons almal se grootste behoefte.
Maar daarmee is natuurlik nie alles gesê nie Die kerk kan tog nie net by die boodskap van bekering tot God bly staan nie. Kom daar dan nooit werklik mense tot bekering nie? Verstaan die kerk homself dan nie as die gemeenskap van mense wat rééds gehoor en geglo het en dus rééds in Christus met God versoen is nie? En al is dit waar dat ons almal, selfs al het ons geglo, dié boodskap telkens maar weer moet hoor; ja, al is dit ook waar dat baie wat sigbaar tot die kerk behoort, dié boodskap nog nooit regtig aanvaar het nie en dit dus noodsaaklik bly om dit voortdurend te bly preek – dan is daar tog ook ’n noodsaak in die kerk om verder te gaan as net die eerste boodskap van bekering (Hebreërs 6:1). Die kerk moet ook die heiliging preek, as persoonlike, maar waaragtig tog ook as gemeenskaplike heiliging in die opbou van ’n gemeenskap waarin geregtigheid woon.
Bekering tot God sluit ook die heiliging in, en dit beteken ook bekering tot die liefde vir en diens aan die medemens. Daarvoor moet die kerk homself dus ook beywer, sodat sy lidmate die inisiatief kan neem om – in aansluiting by die besef van burgerlike geregtigheid wat by alle mense aanwesig is – ’n samelewingstelsel te skep waarin mense in vrede en veiligheid kan woon. – WDJ