ONS IS BEPERK
Die Burger, 31 Desember 1982, bladsy 6
Een van die vrae wat in ons tyd dikwels gestel word aan diegene wat verandering in die kerklike en maatskaplike lewe bepleit, is: Het ons ouers en al die voorgeslagte dit dan verkeerd gehad? Hulle het tog ook die Bybel gelees en was oortuig dat hul optrede in ooreenstemming daarmee was. Kan dit waar wees dat ons nou vir die eerste keer die Bybel reg verstaan? Sal ’n volgende geslag nie weer sê dat ons verkeerd gehad het nie?
’n Mens sal daarop moet antwoord dat alle mense se insig uiteraard altyd beperk is. Ons is maar mense, en ons het nooit die volle waarheid in pag nie. Dit is waar dat die Bybelse waarheid nooit verander nie, maar ons kennis van daardie waarheid is altyd maar ten dele. Ons insig val nooit heeltemal saam met die waarheid self nie.
Dit geld selfs van ons insig in die fundamentele dinge van ons geloof. Gelukkig lei die Gees die Kerk deur die eeue in die waarheid, maar dit beteken nie dat die kerk die waarheid altyd ewe helder gesien het, of dat daar nie reformasie nodig was as die helder insig in die waarheid verdof geraak het nie. Ons vastheid lê nie in wat een of ander geslag gedink of verstaan het van wat die Bybel sê nie, maar in die Bybel self – die lewende Woord van God – wat deur die werking van die Gees telkens weer nuwe insigte by ons opwek. Daarom is daar selfs met betrekking tot die sentrale dinge van ons geloof ’n voortgang in ons insig, ’n nuwe verstaan van Gods waarheid (wat nooit verander nie) in ’n nuwe situasie.
In die besonder geld natuurlik van die toepassing van die Bybelse waarheid in die lewenspraktyk dat dit altyd gebrekkig is. Oor etiese kwessies kan Christene dikwels met mekaar verskil, selfs al wil hulle almal in erns na die Bybel luister. Daar is allerlei faktore wat ’n rol speel by ons vertolking van die Skrif. Daarom is dit ook nodig dat Christene mekaar oor en weer kontroleer en dwing om na alle aspekte van die Bybel te luister.
Ons ouers het seker nie in alle opsigte ongelyk gehad nie. Daar was baie dinge wat hulle reg en goed gesien het, veral waar dit om die fundamentele dinge van ons geloof gegaan het. Maar dat hulle hul beperkinge gehad het, spreek vanself. Hulle het ook in ’n ander situasie as ons gelewe. Dit is onmoontlik dat ons vandag onder ander omstandighede alles presies kan sien en doen soos hulle dit gedoen het. Ons mag hulle sonde en hulle gebrekkige insig nie normatief verklaar nie. En hulle was nie sonder sonde en allerlei gebrekkige insigte nie.
Ook ons insigte is gebrekkig. Ook ons het ons sondige vooroordele waarvan ons nie altyd bewus is nie. Dit sal noodsaaklik wees vir ’n volgende geslag om ons te korrigeer. Maar in hierdie uur is ons verplig om te handel volgens die insig wat ons wél ontvang het. Anders staan ons skuldig voor ons eie gewete. – WDJ