Bly liewer stil

BLY LIEWER STIL
Die Burger, 15 Januarie 1983, bladsy 10

Daar is geleenthede waarby ’n mens liewer stil moet bly. Dit maak nie saak of wat ons graag sou wil sê, die waarheid is nie. Ook die waarheid wil met wysheid gedien word. Om iets te sê wat op sigself volkome waar is, maar op daardie moment en in die gegewe omstandighede ’n ontploffing kan veroorsaak, kan skade aanrig wat vermy kon gewees het met ’n bietjie meer takt en ’n bietjie meer begrip van die verhouding tussen mense.

Dit geld in die besonder in die huwelik- en gesinsituasie. Daar kan dit so maklik gebeur dat ’n mens in ’n oomblik van opgewondenheid en teleurstelling dinge kan sê wat byna onuitwisbare merke op die verhouding kan maak. Elkeen van ons het baie swak punte waarop aanmerkings gemaak kan word. Juis wanneer ons daarvan bewus is, kom dit besonder pynlik by ons oor as iemand wat ons liefhet ’n geniepsige aanmerking daaroor maak. Dit word feitlik deurgaans as onbillik, liefdeloos en haatlik ervaar. En dit is verskriklik moeilik om dit te herstel.

Wanneer in kalmte daaroor met ons gepraat sou word op ’n moment wanneer die gemoedere nie so hoog loop nie, is ons baie meer bereid om van mekaar teregwysinge te aanvaar, ook omdat ons dan die geleentheid het om te verduidelik waarom ons optree soos ons gedoen het, en dus die gevoel kry dat ons nie onbillik behandel en veroordeel word nie. Dit is egter totaal anders wanneer iemand ons in die hitte van ’n argument of in die pynlikheid van ’n situasie skielik iets toevoeg wat daarop bereken is om ons seer te maak. Dan kom ons sondige selfhandhawingsdrang na vore en is ons eerste neiging om terug seer te maak.

Daarom is daar in enige verhouding veel wysheid nodig om te weet wanneer om te swyg en wanneer om te praat. Binne ’n verhouding is dit dikwels nodig om te verdra om veronreg te word, sonder om direk terug te kap om ons gelyk te kan handhaaf. Dit beteken nie dat ons nie sake moet regstel nie, want vir die verhouding is dit ook verskriklik belangrik, maar ons moet ons tyd en geleentheid met wysheid kies. Wysheid is nooit daarop bedag om die ander een so seer as moontlik te maak of om oor hom of haar te triomfeer nie, maar om mekaar vas te hou en tóg die lug te suiwer deur wat verkeerd is, uit die weg te ruim.

Die Bybel leer ons hoe gevaarlik die tong kan wees. Dit is soos ’n klein vuurtjie wat ’n hele hoop hout aan die brand kan steek. Daarom sê Jakobus dat ’n mens wat sy tong in bedwang kan hou, ook in staat is om sy hele liggaam te beheer. Dit is deel van ons heiligmaking dat ons ook ons tong onder die heerskappy van die Gees van God moet stel. Wanneer ons verlos kan word van die drang om altyd met ons mond orde op sake te stel en vir andere presies te vertel hoe verkeerd hulle het, is dit ’n teken van geestelike volwassenheid en toename in wysheid. — WDJ