Visie op die Koninkryk

VISIE OP DIE KONINKRYK
Die Burger, 29 Januarie 1983, bladsy 10

Een van die ergste oordele wat die Nuwe Testament oor die kerk uitspreek, vind ons in Openbaring 3, waar in die brief aan die Laodisense gesê word dat dié gemeente lou is, nie warm of koud nie, en dat Christus die gemeente daarom uit sy mond sal spoeg.

Die beskrywing wat in dié gedeelte van die gemeente gegee word, is inderdaad aangrypend. Dit bied die beeld van ’n gemeente vol selfgenoegsaamheid wat sê: “Ons is ryk, skatryk, en ons het niks meer nodig nie.” Blykbaar het ons hier te doen met ’n gemeente wat hom self so goed gevestig het in die wêreld, materieel goed versorg is, en in alle opsigte so goed funksioneer, dat die gevoel van behaaglike self vergenoegdheid en selfversekerdheid alles-oorweldigend geword het. Die tragiek is egter dat die gemeente intussen blind geraak het, nie alleen vir sy eie ellende en sonde nie, maar ook vir die koninkryk van God in diens waarvan dit staan.

Wanneer Christene hul visie op die koninkryk verloor, verval hulle maklik in selftevredenheid, materialisme en passiwiteit. Dit kan uiterlik met hulle baie goed gaan. Daar kan baie wees waaroor hulle met reg meen dat hulle kan spog. Hulle kan selfs op ’n mooi manier roem in die seëninge wat die Here hulle bied om hulle só ryk te laat word en dit vir hulle so aangenaam te laat wees om Christene te wees. Dit neem egter nie weg dat hulle nutteloos vir die koninkryk van God is nie. Christus kan hulle nie gebruik nie. Hul seëninge word tot ’n vloek.

Daar is miljoene sulke Christene in die wêreld. Hulle is ordentlike mense, aangename mense, maar hulle is daarby ook selfsugtige mense. Al hul aandag is op hulself en hul eie behoeftes gekonsentreer. Om ’n Christen te wees, is deel van hul versiering, maar dit is nie ’n brandende passie wat hul lewe werklik anders maak as dié van ongelowiges nie. Hulle bestee hul geld op diesélfde wyse as wêreldlinge. Hul denke is dieselfde as van die heidene (soos Christus dit in Matteus 6 uitdruk). Hul lewe word opgeleef in diens van hulself. Hulle sing in die kerk oor die koninkryk, ja. Hulle knyp maandeliks iets af vir die uitgawes van die kerk, ja. Maar koninkryksmense sou jy hulle tog nie kan noem nie. Daarvoor lyk hulle in hul selftevredenheid soos druppels water net soos ’n mens wat sonder Christus lewe.

Wat moet gebeur, is dat sulke Christene se oë geopen moet word om te kan sien hoe arm hulle in werklikheid is. Hoe ryk is ’n mens tog nie as hy eenmaal die koninkryk gesien en die innerlike betekenis daarvan verstaan het nie! Maar dit is ’n rykdom van ’n ander aard as die selftevrede opstapeling van aardse en materiële besittings. Wat ons nodig het, is ’n visie op die koninkryk. – WDJ