Ons vergeet so gou

ONS VERGEET SO GOU (2)
Die Burger, 5 Februarie 1983

In die drukte van ons bestaan vergeet ons so gou die grondwerklikhede van ons geestelike lewe. Dan word ons uitgelewer aan ons onsekerhede, ons sorg en kommer, en ons lewe op ’n geestelike vlak van armoede wat die vreugde van ons kindskap van God maklik van ons kan wegneem. Dit val ’n mens op dat die apostel Paulus in sy briewe so dikwels skrywe: Weet julle nie? Dit doen hy altyd as hy die gemeentes aan wie hy skrywe, wil herinner aan dinge wat hulle eintlik weet, dinge wat hyself aan hulle verkondig het, dinge wat in hul lewe deurslaggewend behoort te wees, maar wat blykbaar vir hulle op die agtergrond geraak het en daarom nie meer werklik in hul daaglikse lewe funksioneer nie.

Weet julle nie dat julle liggame ’n tempel van die Heilige Gees is nie? Weet julle nie dat julle nie aan julself behoort nie, maar duur gekoop is tot die eiendom van Christus? Weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En sulke voorbeelde kan vermenigvuldig word.

Natuurlik weet hulle al dié dinge, maar hulle vergeet dit weer en lewe asof hulle dit nie weet nie. Dáárom is die voortdurende herinnering daaraan so noodsaaklik. Dáárom moet ’n mens gedurig jou Bybel lees en kerk toe gaan om die prediking te hoor. Dáárom het ’n mens pastorale hulp nodig in jou geestelike nood. Wat ons eenmaal geweet het en nog steeds weet, maar op die oomblik vergeet het, moet weer in ons herinnering opgeroep word, sodat ons opnuut die troos en sekerheid daarvan deelagtig kan word, asook die verantwoordelikheid wat daarmee saamhang.

’n Christen kan nie in eensaamheid lewe en net met homself verkeer in die uitlewing van sy geloof nie. Hy het voortdurende hulp nodig van ander Christene wat hom kan herinner aan wat hy vergeet. En hulle het hom nodig om dieselfde liefdesdiens aan hulle te verrig.

Dikwels ervaar ’n mens dit dat as jy ander herinner aan dinge wat hulle blykbaar vergeet, jy in dieselfde aksie sommer jouself ook weer daaraan herinner. Daarom kan dit so genesend wees om met ander se leed en sorg en angs om te gaan en hulle te wys op die troos wat in Christus is. Jou eie wonde word genees in die proses van die verbinding van die wonde van andere. Net so kan ’n mens geweldig gehelp word daardeur as jy met iemand anders praat oor wat jy as foute in sy lewe sien, want in die proses kan jy ontdek dat jy presies maar net soos hy is en aan dieselfde vermaning behoefte het.

Dit is omdat ’n mens nie net met jou verstand die geestelike dinge weet nie, maar met jou hart, dat jy voortdurend in die konkrete lewe teruggeroep moet word na die grondwerklikhede waaruit ons as Christene leef. – WDJ