DIE VASTE FONDAMENT
Die Burger, 12 Februarie 1983
Geen mens kan lewe sonder ’n bepaalde grondvertroue wat sy lewe dra nie. Dit vorm die fondament waarop die mure van ons lewenshuis opgerig is. Met duisende sigbare en verborge drade is ons hele bestaan daarmee verweef. Dit gee aan ons die besef van sin en doel in ons lewe.
’n Mens hoef nie elke dag bewus te wees van waarop jy jou grondvertroue presies baseer nie. Solank dit goed met ons gaan, gee ons dikwels nie aan onsself rekenskap van hoe dit presies daarmee gesteld is nie. Ons is per slot van rekening ook uiters ingewikkelde wesens. Dit is dikwels vir ons onmoontlik om vas te stel wat die basis is waarop ons vertroue werklik rus. Om dit te kan doen moet ’n mens onderskei tussen wat jy rasioneel aan jouself voorhou as die dinge waarop jy vertroue behoort te stel, en die dinge wat jy ten diepste werklik as die fondament van jou lewe aanvaar. Dié twee groothede is lank nie altyd dieselfde nie, en om daartussen te onderskei is nie eenvoudig vir onsself nie.
In tye van krisis word ons egter dikwels gedwing om hieroor helderheid te kry. Dan word ons lewenshuis so grondig geskud dat die fondamente daarvan baiekeer eenvoudig teen wil en dank blootgelê word. Ons ontdek dan miskien vir die eerste keer dat ons godsdienstige vertroue glad nie soveel betekenis in ons lewe het as wat ons aan andere voorgegee het, of miskien self waar sou wil hê nie. Dit kan dan blyk dat die aanvaarding deur ander mense, die sukses van ons loopbaan, die behaaglike ruimte waarbinne ons beweeg of selfs baie ander onbenullighede skielik vir ons van groter waarde is as ons geloof in God.
Ons wêreld-bewussyn was nog altyd sterker as ons Godsbewussyn. En diep in waar ons wortels in die grond vasheg, was die bodem sand – nie werklik vaste grond nie.
Dit is nie vreemd dat daar baie mense is wat deur krisisse tot die grens van raserny gedryf word of selfs tot selfmoord nie. Die skok daarvan om te ontdek dat ’n mens nêrens werklik ’n betekenisvolle houvas het nie, kan te groot wees om psigies te verwerk. ’n Mens se wêreld tuimel dan letterlik inmekaar. Die grond word onder jou voete weggeneem.
In so ’n tyd is dit wonderlik as God in jou lewe ingryp en weer vaste bodem onder jou voete skuif. Die siel is gemaak om in God te rus. Elke surrogaat is onaanvaarbaar en werk hoogstens bedwelmend. Wat ons nodig het, is om te kan oorgee, onsself te kan prysgee, werklik onvoorwaardelik te kan vertrou op Gods genade. Niemand wat sy eie krampagtigheid prysgegee en sonder meer op God gerus het, is nog ooit teleurgestel nie. In Christus is al Gods beloftes ja en amen. ’n Mens hoef nie te huiwer om te toets of dit waar is nie. – WDJ