Niks is te klein nie

NIKS IS TE KLEIN NIE
Die Burger, 19 Februarie 1983

Daar geen ding in ’n mens se lewe wat te gering is om daarmee na God in die gebed te gaan nie. Dikwels meen ons dat ’n mens net groot dinge van God behoort te vra, omdat jy vir die kleiner dingetjies self moet sorg. Of miskien dink ’n mens dat jy God nie wil vermoei met allerlei kleinighede nie. Maar hoe ’n mens ook redeneer, dit is in elk geval verkeerd, want in die egte wandel met God is niks te gering om daarmee na God te gaan nie.

Die merkwaardige feit is dat enige Christen wat met God wandel, daarvan kan getuig hoe dikwels God juis in die klein onopvallende dinge se gebede verhoor het. Ons vra iets van God, en ons ontvang dit. Tot ons verbasing merk ons dat God maklik aan ons kan gee waarom ons sug. Hy kan so maklik die donker wolke laat oopbreek en die son weer laat skyn in ons hart. Hy raak ons aan in ons klein kommer, en ons weg word weer lig.

Toegegee: dit sou maklik wees om te sê dat dit maar toevallig is dat die dinge reggekom het en dat dit niks met God te make het nie. Mense kan sê: Dit was maar ’n sameloop van omstandighede. Selfs al het jy nie gebid nie, sou dit tog maar reggekom het. Die ongeloof het altyd ’n rede waarom dit nie God kan wees wat dit gedoen het nie.

Maar vir die geloof is dit duidelik dat dit nie maar toeval is dat dit gebeur het nie. Ons het gevra en God het gegee. Dit is dikwels met ons soos met die Psalmdigter wat sê: “Van U sê my hart: Soek my aangesig! Ek soek U aangesig, o Here!” In ons hart word ons dikwels daaraan herinner, ja, ons hart sê dit vir ons: Dit het God gedoen! Ons hart sê vir ons aangaande God: “Jy het gevra en God het geluister en gegee.”

Nie alles in ons lewe kan herstel word nie. Daar is dinge wat met ons gebeur wat nie deur gebed reggestel kan word nie. As ons seun op die grens gesterf het, as ons liggaam in ’n motorongeluk vermink is, as daar – dikwels juis deur ons sonde en skuld – ’n onherstelbare breuk ontstaan het in ons huweliks- en gesinslewe, as ons ’n ongeneeslike kwaal het en dit blyk nie Gods wil te wees om dit te genees nie – dan staan ons soos voor ’n rotsmuur waarteen ons in eie krag nie kan uitklim nie.

En tog, selfs dan is daar duisende maniere waarop die mens wat met God wandel, die troos van sy nabyheid ondervind, die krag om net vandag met die lewe voort te kan gaan, die moed om die onmoontlike te aanvaar, die vryheid om stil te word onder Gods hand in die loeiende storm. Daar is verborge manna waarmee die siel gevoed word in verbryseling. As ’n mens gevoeligheid daaroor geleer het, weet jy hoe God met die innige tederheid van ’n moeder ons dra en beskerm wanneer ons wil beswyk. – WDJ