ONS VERNIETIG ONSSELF
Die Burger, 26 Februarie 1983
Bekommernis is ’n siekte wat in ’n sekere sin net so dodelik is as enige fisieke kwaal. Dit is daarop uit om ons lewe nie net te vergal nie, maar uiteindelik totaal af te breek en te vernietig.
’n Mens wat in die greep van bekommernis gekom het, staan daarteenoor byna net so weerloos as wat die alkoholis teenoor sy drankprobleem staan. Dit is ’n bo-persoonlike mag wat vyandig is teenoor ons lewe en wat op niks minder afstuur nie as die totale desintegrasie van ons persoonlikheid. Terselfdertyd is ons self egter ten diepste betrokke in die werksaamheid en planne van hierdie bo-persoonlike mag. Ons is self die subjek van ons bekommernis. Soos die alkoholis teen sy eie wil ’n slagoffer én die bewerker van sy situasie is, so is die bekommerde mens ook.
Die ergste van bekommernis is dat dit nie ontvlug kan word nie. Dikwels dink ’n mens dat verandering van omstandighede ook ’n einde aan jou sorge sal bring. Dit is slegs in baie relatiewe sin waar. Omdat bekommernis sy bron in die mens self vind, is daar altyd, in enige moontlike situasie waarin ons kan verkeer, genoegsaam rede om weer nuwe kwellinge te ontwikkel.
Die verbeelding is vindingryk genoeg om altyd weer rede te vind om angsaanjaende moontlikhede voor ons op te tower. Die duisende duistere moontlikhede rondom ons bestaan word opgeroep en kom dreigend op ons af, veral in die nag. Die meeste van die dinge wat ons vrees, gebeur nooit. Tog deurleef ons in ons bekommernis die angs daarvan, asof dit wél gebeur. So word ons werklike lyding in die wêreld ’n stuk denkbeeldige lyding toegevoeg, wat egter as lyding deurleef word. Dit maak ons oud voor ons tyd. Op die duur kan die fisieke gevolge daarvan immers nie uitbly nie.
Dit is waarom die Bybel ook so dikwels oor bekommernis praat. Bekommernis is deel van die ellende waarin ons deur die sonde tereggekom het. Daaragter sit ’n gebrek aan vertroue in God. Dit is die prysgawe van geloof. Dit is ’n dodelike pre-okkupasie met onsself. Dit is in ’n sekere sin die saambundeling van ons totale vervreemding van God en ons weiering om ons lewe in sy hande te laat. Daarom is bekommernis ook sonder meer sonde.
Dit is ons magtelose, sieklike, na binne gekeerde omsirkeling van onsself. Dit is ’n voorsmaak van die verdoemenis.
Daarom roep die Bybel ons dringend daaruit weg. Jesus verbied ons selfs om ons te kwel. Soos Hy die bose geeste uit mense se lewe uitgedryf het, wil Hy die sorge uit ons hart verdryf. Hy wil ons leer om Hom te vertrou vir vandag en vir môre. Maar daarvoor is ’n Godswonder nodig. Gelukkig is selfs dit vir Hom geen verhindering nie. Hy kan dit vir ons doen, as ons dit wil ontvang. – WDJ