Verborge haat

VERBORGE HAAT
Die Burger, 5 Maart 1983, bladsy 10

Ons almal weet dat dit sonde is om ander mense te haat. Daarom sal ons omtrent nooit toegee dat ons iemand haat nie. Selfs wanneer dit om ons vyande gaan, van wie dit vir onsself nie verborge kan wees dat ons hulle haat nie, probeer ons nog altyd om mooier woorde te vind om ons verhouding tot hulle in uit te druk.

Dit is nog moeiliker vir ons te erken dat daar ook ’n groot stuk haat in ons harte skuil teenoor mense wat nie tot ons vyande gereken sal word nie, soos ons kollegas, ons familielede en kennisse, openbare figure en talle andere wat op ons weg kom.

Dit neem egter nie weg dat haat ’n reële werklikheid in ons hart is nie. Ons kan dit weg steek, ons kan dit ontken, selfs teenoor onsself, maar daarmee het ons dit nog nie ongedaan gemaak nie. Wie geleer het om homself haarfyn dop te hou, ontdek dat hy net ’n bietjie te veel genot daaruit put as hy van die teenspoed van so iemand verneem. ’n Skinderstorie waarin die ander persoon in ’n slegte lig gestel word, klink net te lekker in ons ore. Eintlik is dit waar dat daar op die bodem van ons hart ’n begeerte lê dat dié persoon vernietig en uit die weg geruim moet word. Maar omdat ons nie moordenaars wil wees nie, en vanweë ons posisie ook nie kan wees nie, begroet ons so ’n persoon met ’n gulle en hartlike glimlag, klop hom op die skouer, bewys aan hom allerlei vriendelikhede, terwyl daar tog ’n verborge haat teenoor hom in ons hart bestaan.

Wanneer die Heidelbergse Kategismus van ons sê dat ons geneig is om God en ons naaste te haat, is dit nie ’n oordrywing nie. Daar is altyd weer mense wat sê dat dit nie waar is en dat dit onbillik is om só swartgallig oor dié mens te dink.

In ons eie geskiedenis is daar in die kerk ’n stryd gevoer teen ’n liberale teologie waarvan een van die verteenwoordigers verklaar het dat dit nie sy persoonlike ervaring is dat hy ander mense haat nie. Die kerk het egter voet by stuk gehou dat die Kategismus gelyk het. Ons persoonlike ervaring is iets bedriegliks. Ons moet ons in sulke sake deur die Bybelse boodskap van die bedorwenheid van die menslike hart laat lei. En die Bybel leer duidelik dat ons haatlik is en mekaar haat.

Tog is dit moontlik om ’n vlak van selfkennis te bereik waarop ’n mens nie anders kan as om die Bybel gelyk te gee nie. Wie bereid is om homself aan die ondersoekende werking van die Heilige Gees bloot te stel en homself te spieël in die lig van die Bybel, ontdek dat dit ook van homself waar is. Dikwels verberg ons dit vir onsself deur te sê dat ons om beginselredes teen iemand gekant is, bloot weens sy standpunte. Maar as ons fyn luister na die fluisteringe van ons eie hart, sal ons agterkom dat ons méér as die man se beginsels verwerp. En daarvan moet  ons verlos word. – WDJ