Reageer op emosie

Die Burger, 13 Maart 1982, bladsy 10
REAGEER OP EMOSIE

Iemand wat ander mense graag in hulle denke en emosie wil beïnvloed, moet leer om eers na daardie mense te luister. Veral as hy die vermoede kan hê dat hulle ’n negatiewe ingesteldheid het teenoor die saak wat hy aan hulle probeer stel, is dit absoluut noodsaaklik dat hy eers moet probeer vasstel hoe hulle dink en redeneer, sodat hy die egte aanknopingspunt kan vind vir die boodskap wat hy probeer oordra.
Dit is daarby van die allergrootste belang dat hy veral moet probeer ontdek watter emosies daar agter sy gespreksgenote se uitsprake skuil. Hoe graag ons ook al voorgee dat ons redelike wesens is en dat ons in ons denke net deur saaklike oorwegings beheers word, blyk dit tog altyd weer dat dit nie waar is nie.
Dit is meesal so dat ons denke bepaal word deur ons hart, deur ons gevoel en emosies. Daarom is dit ook waar dat mense se oortuigings aangaande dinge in groot mate bepaal word deur goeie of slegte ervarings wat hulle gehad het en die emosies wat daardeur opgewerk is.
As ’n mens iemand wil oortuig van ’n saak waarmee hy in sy daaglikse ervaring bepaalde pynlike ondervindings opgedoen het, is dit belangrik om hom eers die geleentheid te gee om sy negatiewe gevoelens na vore te laat kom. Dit help eenvoudig nie om op ’n redelike vlak met ’n mens te probeer redeneer as die bodem onder sy argumente gevorm word deur ’n ingewikkelde netwerk van verborge emosies wat dikwels vir homself nie heeltemal deursigtig is nie en dus meesal onbewus sy vermoë om objektief na ’n saak te kyk, blokkeer nie. Die kundige persoon sal dus altyd in ’n gesprek met sy medemens reageer op sy emosies.
Dit is nie die vraag of die gespreksgenoot se emosies op ’n misverstand berus en dus ten onregte so negatief is nie. Miskien is sy reaksie heeltemal verkeerd. Feit is dat hy eenvoudig voel soos hy voel, en dit moet eers ernstig opgeneem word voordat ’n mens kan vra of hy tereg so voel. Dit is net moontlik dat hy nie sonder rede so voel nie. Daarom is dit nodig om eers na hom te luister en nie dadelik te begin om hom te vertel dat hy onnodig negatief is nie.
Eers as ons ’n mens ernstig opneem in hoe hy self voel, kan ons hoop om betekenisvol met hom te kommunikeer.
Dit is nie net dominees en ouderlinge, sielkundiges en psigiaters wat dit behoort te weet nie. Ons behoort dit te onthou in ons omgang met ons tienderjarige kinders of by ’n gesprek tussen man en vrou as daar ’n situasie van konflik ontstaan.
Ook politici moet dit onthou – veral in ons land met sy groot potensiaal vir emosionele spanning. Die emosie van die swart jeug is, soos alle emosie, ’n faktor met eksplosiewe krag. Ons almal moet dit onthou in ons omgang met alle mense. Ons moet almal leer om te luister en te verstaan, anders praat ons vergeefs. – WDJ