Dom-weg vorentoe

DOM-WEG VORENTOE
Die Burger, 19 Maart 1983, bladsy 10

Tussen my knipsels kom ek af op ’n stukkie uit Die Burger van enkele jare gelede. Dit handel oor die laaste woorde wat NP van Wyk Louw geskryf het. Dit is in die vorm van ’n gebed, ’n gesprek met God. Daarin pleit hy om vergiffenis en spreek hy die vertroue uit dat hy veilig in die hande van God is.

Aangrypend is die woorde: “Dit is my troos elke dag: dat U, my God, wat die allerheiligste Geregtigheid ook is, Liefde is. God is liefde. U, my God, is liefde.” Daar is nie heerliker woorde om ’n mens se laaste woorde te wees as hierdie nie.

Ek wil egter graag by hierdie geleentheid die aandag vestig op die heel laaste paragrafie wat op die bogenoemde aanhaling volg. Daar skryf hy: “Want selfs my bid kom uit U, déúr U; sonder U hulp sou ek nie eers wóú probeer bid nie, sou ek net soos ’n vark vorentoe gebeur het.”

Dit laat ’n mens aan Augustinus dink, hierdie belydenis van die mens se absolute magteloosheid, botheid, stompsinnigheid in geestelike dinge, en sy totale aangewesenheid op Gods genade om selfs maar die begeerte na God en sy genade in hom op te wek. Dit is geen wonder dat hierdie woorde in ’n gebed staan nie. In die gebed kan ’n mens dinge teenoor God uitspreek wat jy nooit rasioneel of moreel uiteen kan sit, sonder om groot dinkprobleme en teensprake te geraak nie.

Dit is met name waarvan die belydenis van ons absolute afhanklikheid van Gods genade om ook maar die geringste beweging na Hom toe te kan maak en nie dom-weg soos ’n vark maar net vorentoe te beur in ’n sinlose, gedagtelose gevroetel in die bedompige hok van ons beperkte menslike bestaan nie. Rasioneel en moralisties gedink, moet so ’n uitspraak lei tot die vraag of die mens dan nie aangespreek moet word op sy verantwoordelikheid om God te soek, en of so ’n verklaring oor die algehele magteloosheid van die mens sonder Gods genade, nie logies daartoe moet lei dat die mens verontskuldig word vir sy onwil om God te soek en te dien nie.

Maar op ’n mens se knieë en in die gebed weet hy dat die logika hier nie uitkom nie. Ons absolute afhanklikheid van Gods genade onthef ons nie van verantwoordelikheid en skuld nie, en die feit dat selfs ons bid uit God is en deur Hom, impliseer nie dat dit Gods skuld is as ons maar dom-weg vorentoe beur met ons oë na benede nie. In die gebed weet ons dat dit net Gods aanraking is wat ons bevry uit ons toegemesselde bestaan, maar weet ons terselfdertyd dat ons God nie daarvoor kan blameer as ons verkies en volhardend bly verkies om maar net soos ’n vark vorentoe te beur nie. Ons verstaan op ons knieë dat alles net genade is, genade alleen. – WDJ