Bysaak en hoofsaak

BYSAAK EN HOOFSAAK
Die Burger, 26 Maart 1983, bladsy 12

Dit is nie altyd maklik om te kan onderskei tussen die hoofsaak en die bysake in elke konkrete situasie waarmee ons te make kry nie. Die moontlikheid bestaan altyd dat ’n mens jou so in die bysake kan verstrengel dat die werklike hoofsaak waarom dit gaan, op die ou end op die agtergrond geraak en selfs heeltemal uit jou gesigsveld verdwyn.

Dit kan selfs met ’n mens in godsdienstige dinge gebeur. Trouens, dit wil selfs voorkom of dit ’n spesiale tegniek van die Bose is om almal heerlik aan die baklei te kry ons aandag van die hoofsaak afgetrek kan word. Wat hierdie versoeking so gevaarlik maak, is die feit dat bysake natuurlik – selfs al is hulle bysake met betrekking tot die hoofsaak – in hulself nie onbelangrik is nie. Dit kan baie maklik die illusie laat ontstaan dat dit in bysake om sulke belangrike dinge gaan dat die hoofsaak daarmee staan of val.

En nou is dit juis die haglike: wanneer iemand van ’n bysaak iets so belangriks maak dat dit die hoofsaak begin bedreig, moet ’n mens hom natuurlik bestry ter wille van die hoofsaak. Die gevolg is dat daar dan ’n volskaalse stryd rondom ’n bysaak ontbrand, en dit kan byna nie anders nie, omdat dit ter wille van die hoofsaak noodsaaklik word om die relatiwiteit van die bysaak aan te toon. Op hierdie wyse word ons almal ingesuig in ’n twis oor bysake en word ons kragte verteer in binnegevegte waaroor die werklike vyand hom alleen maar kan verheug.

Is dit nodig om voorbeelde te gee? Laat elkeen maar uit sy eie ervaring put, en hy sal genoeg voorbeelde daarvan vind in ons huislike, maatskaplike, politieke en kerklike lewe. Die apostel Paulus het al daarmee te make gehad in sy omgang met sy gemeentes. Die verskille tussen die sogenaamde “swakkes” en “sterkes” oor sulke vrae as watter soorte kosse ’n mens mag eet, watter dae jy moet onderhou en dies meer, het juis om sulke dinge gegaan. Maar wie kan nie voorbeelde daarvan vermenigvuldig uit ons daaglikse ervaring, waarin dinge soos kleredrag in die kerk, die soort wyn wat by die Nagmaal gebruik word, die wyse waarop ’n mens gedoop word, die verskeidenheid van gawes en dergelike meer tot hoofsake verhef word, terwyl dit nog maar bysake is nie?

Dit is geen wonder nie dat die apostel Paulus vir die Filippense gebid het dat hulle al hoe meer sal toeneem in kennis en fyn aanvoeling, sodat hulle dié dinge kan onderskei waarop dit werklik aankom (Filippense 1:9–10). Baie mense verlaat die kerk oor bysake, stig nuwe kerke en bewegings oor bysake, versplinter die Christendom oor bysake, verketter ander Christene oor bysake, en verloor langsamerhand die hoofsaak uit die oog, naamlik dat dit enkel maar gaan om Christus Jesus, en Hom as gekruisigde. – WDJ