Ligbaken in die nag

LIGBAKEN IN DIE NAG
Die Burger, 9 April 1983

Dit is noodsaaklik dat ons moet besef dat dit net die evangelie van die dood en die opstanding van Christus is wat ons die vrymoedigheid gee om werklik hoopvol in die wêreld te lewe. Buite die evangelie om het ’n mens nie werklik enige grond om optimisties oor die toekoms te wees of die sekerheid te koester dat alles uiteindelik goed en vreugdevol sal eindig nie.

As ons maar net na die skepping rondom ons sou kyk, het ons geen rede om met sekerheid te sê dat die wêreld ’n gelukkige uiteinde tegemoet gaan nie. Dit is wel waar dat daar in die skepping veel skoonheid is waarin ons ons kan verlustig. Dit is ook moontlik om uit die grootsheid van die skepping die afleiding te maak dat dit deur ’n almagtige Hand tot stand gekom het en onderhou word. Ons kan egter nie uit die skepping self aflees waarheen hy onderweg is nie. Naas die goeie in die skepping, is daar ook soveel wat grillerig en onvoorspelbaar is, soveel wreedheid en ellende, dat dit – na gelang van die vraag waarop ’n mens jou aandag in die skepping vestig – nie eens altyd vasstaan dat jy by die konklusie sal uitkom dat die Hand wat dit alles regeer, werklik ’n hand van liefde is nie.

Dieselfde geld vir die geskiedenis van die mensheid. Ongetwyfeld is daar ook veel in die geskiedenis van die mensheid wat mooi en heroïes is. Soms lyk dit of die mens in sy geestelike ontwikkeling steeds hoër klim, asof hy in sy morele aanvoeling steeds fyner word, asof sy beskawing werklik vooruitgang is. Maar vlak daarnaas is daar soveel bewyse van die teendeel dat ’n mens met ewe veel reg kan sê dat die mensheid slegs al gewelddadiger raak en dat sy beskawing weinig meer is as die vervolmaking van sy tegnieke van selfvernietiging.

Wie dus net rondom hom kyk, na die natuur en die geskiedenis, kan met ewe veel reg ’n optimis of ’n volslae pessimis word met betrekking tot die vraag waarheen ons wêreld op pad is. Dit word egter totaal anders as ’n mens na die kruis en die opstanding van Christus kyk.

In die kruis van Christus sien ons die oordeel van God oor die goddeloosheid van die sonde, maar ook die liefde van God wat die mensheid nie aan homself en sy ellende oorgelaat het nie. In die opstanding van Christus sien ons die triomf van God oor die dood en die pyn, die ellende en verwording, die duisternis en die nag van ons wêreld. Die opstanding van Christus is ’n ligbaken in die nag. Dit is die boodskap en waarborg dat die donkerte nie die laaste woord sal hê nie. In die kruis en die opstanding van Christus het God definitief, grondig en finaal gehandel met die verlorenheid van die wêreld – ons kompas staan nou op hoop. Ons is nie maar net  optimisties nie. Ons is definitief seker dat die uiteinde die triomf van Gods genade sal wees. – WDJ