GETEMPERDE DROEFHEID
Die Burger, 16 April 1983
Aan die manier waarop ons ons vreugde en droefheid verwerk, moet iets gesien kan word van die effek wat ons geloof in die evangelie op ons het. Miskien geld dit vir ons droefheid nog meer as vir ons vreugde.
Wanneer ’n mens hom oorgee aan ’n bodemlose en ongetemperde droefheid, kan dit die bewys wees dat hy nog nooit deur sy verbondenheid met Christus hierdie aardse lewe op sy relatiwiteit leer takseer het nie. Daarom het hy die dinge wat hy op aarde besit het, met ’n hartstog en omhelsing besit wat buite alle verhouding was. Die gevolg is dat die verlies van daardie dinge vir hom ’n matelose, onbegrensde droefheid gebring het.
Maar dit is tog verkeerd. Ons mag tog nie die goeie dinge wat ons op aarde besit, op sodanige manier verabsoluteer dat die verlies daarvan vir ons ook die einde van alles beteken nie. Ons moet die vreugde wat ons aan die goeie dinge van ons aardse lewe het, altyd weer laat temper deur die wete dat die aardse vreugde nooit ’n absolute vreugde kan wees nie. Teenoor die goeie wat ons hier beleef, staan altyd ook weer die onaangename van die kwade. Die vreugde van ons aardse lewe het altyd êrens ’n ingeboude grens. Verabsolutering van ons aardse vreugdes is dus ’n vorm van verblinding wat die werklikheid ignoreer.
Bodemlose, ongetemperde droefheid kan ’n simptoom daarvan wees dat ons verhouding tot ons vreugde reeds verkeerd was. Daarom is ons verhouding tot ons droefheid ook verkeerd. Ook aan ons droefheid is daar immers ’n grens. Ook ons droefheid kan nooit absoluut wees nie. Teenoor die kwade wat ons ervaar, staan daar nog altyd weer soveel goeie dinge, soveel wat positief is, dat dit ons droefheid moet temper. As ons maar ons oë wil open, sal ons merk dat dit vir alle gewone aardse dinge geld. Dit is nooit waar dat letterlik alles van ons weggeneem word nie. Daar is altyd nog soveel wat vir ons gelaat word tot ons vertroosting, as ons maar net nie onsself daarteenoor afsluit nie.
Maar dit geld natuurlik in ’n heel besondere sin dat ons droefheid getemper moet word, omdat ons nog altyd vir Christus het. As Christene weet ons immers dat ons absoluut nie alleen is nie. Dit kan tog, selfs in ons ergste droefheid, nooit van ons waar wees dat die bodem uit ons bestaan wegval nie. Christus is tog daar. Nee, ons moet dit sterker stel: Christus is mós nog daar. Die ewige vertroosting van God se liefde is mos nog daar. Die sekerheid dat alle dinge ten goede meewerk vir dié wat God liefhet, is mos nog daar.
Dit is nie verkeerd dat ’n gelowige mens droefheid ervaar nie. Maar hy moet nie sy droefheid ervaar soos diegene wat geen hoop het nie. Sy droefheid is ’n getemperde droefheid. – WDJ