DIT IS ONMISBAAR
Die Burger, 23 April 1983
Van alles wat op ons weg kom om te doen, is die opvoeding van ons kinders miskien die belangrikste, maar ook die moeilikste taak. ’n Groter verantwoordelikheid is moeilik denkbaar as dat die vorming, die wel en wee, en in ’n groot mate ook die lief en leed van een of meer kinders in ons hande gelê word. Hoe ons met hulle omgaan en wat ons hulle leer, is vir hul toekoms en vir hul hele lewensloop in groot mate van beslissende betekenis.
Juis daarom is die persoonlike aandag aan en omgang met ons kinders absoluut onmisbaar. Baie ouers besef nie hoe beslissend juis die eerste lewensjare van hul kinders is vir die vorming van hul karakter en lewensuitkyk nie. Meesal is ons juis in die jare wanneer ons kinders klein is, so ontsettend besig dat min tyd oorbly om genoeg met hulle te verkeer. Ons gaan finansiële verpligtinge aan – juis ook in hul belang – wat ons dikwels noop om ons kinders af te skeep met wat hulle in daardie stadium nodiger as iets anders het: ons persoonlike belangstelling en liefde.
Baie ouers verstaan die kuns om hul kinders “maklik” groot te maak. Hulle maak hul kinders van die begin af selfstandig groot. Hulle stuur die kinders gedurig van hulle af weg na hul eie kamers, na ’n ander speelplek. Hulle vind dit makliker as hulle, selfs wanneer hulle tuis is, nie deur die kinders gepla word nie. Daar is soveel wat hulle ook tuis nog moet doen met die oog op hulle dagtaak. Daar is soveel wat hulle ook nog graag op sosiale terrein wil geniet. Hulle skuif dus maklik die kinders ’n bietjie weg van hulle af.
Dikwels aanvaar die kinders dit ook skynbaar. Hulle word selfstandig. Hulle gaan hul eie weg. Dit kan bepaalde voordele hê. Om ’n kind selfstandig groot te maak, is natuurlik ook nie verkeerd nie. Maar daar kan ook geweldige nadele aan verbonde wees om die kinders altyd uit ons geselskap en teenwoordigheid weg te stuur. Die vernaamste hiervan is seker dat die kinders dan die geleentheid mis om te leer om ons te konsidereer, waardeer, te help waar moontlik en om tussen dit alles deur ons lewenswaardes byna ongemerk van ons oor te neem.
Kinders wat te selfstandig grootgemaak is en te min persoonlike kontak met die ouer gehad het, kan as hulle opgroei maklik ’n totale gebrek aan afwerking vertoon. Die dinge wat net liefde en kontak ’n mens kan leer, moes hulle ontbeer. Die egte geestelike waardes waarby die ouer hulle graag wil sien lewe, moet dan óf deur andere vir hulle bygebring word óf hulle is totaal daarsonder. Dit geld selfs vir hul verhouding tot God. Die aangewese mens om ’n kind na Christus te lei, is sy ouer. Maar juis daarvoor is persoonlike kontak eenvoudig onmisbaar. – WDJ