VOLWASSENHEID
Die Burger, 30 April 1983
Dit is lank nie altyd so dat ons psigiese en geestelike groei tred hou met ons fisieke volwassewording nie. By haas alle mense bly daar iets oor van die onvolwassenheid wat ons as kinders kenmerk.
Openbare figure lyk soms van buite na volwasse mense. Hulle kan met soveel selfversekerdheid optree en daarin slaag om by ons die indruk te wek dat hulle in hul denke, motiewe en die hantering van die lewensprobleme, volwasse mense is. Dikwels weet hul vroue en hul kinders, hul sekretaresses en hul werknemers van die ander kant van hul lewe, van hul onvolwassenheid en die onvermoë om sommige van die eenvoudigste lewensprobleme werklik op ’n saaklike manier onder oë te sien.
Hoe mooi opregte kinderlikheid ook in ’n mens se lewe is, onvolwassenheid en emosionele kinderagtigheid is by ’n volwasse mens altyd afstootlik. Tog is daar talle mense wat soos kinders is in hul emosionele reaksies.
’n Kind leef vanuit sy ek-gevoelens. Hy het eintlik geen konsiderasie vir andere nie. Ons almal word as volslae egoïste gebore. Volwassenheid bestaan daarin dat ’n mens die regte verhouding tot jouself ontvang. Die ek-verhouding moet verander in ’n ons-verhouding. Die ek-gerigtheid moet verander in ’n saakgerigtheid. Baie van ons volwassenheid het daarmee te make dat ons nie die juiste verhouding tot onsself kan vind nie.
Ons lê met onsself oorhoop, omdat ons enersyds in ’n matelose selfliefde oor onsself gebuig bly, maar andersyds tog ook weer onsself verag en eintlik haat en verwerp, omdat ons in onsself teleurgestel is, omdat ons nie so wonderlik is as wat ons volgens ons ideale selfbeeld eintlik sou wil wees nie. Afguns teenoor andere, die onvermoë om onsself werklik in ander te verbly, die onmoontlikheid om ’n egte verhouding van wederkerigheid met andere te hê – kort saamgevat: die gebrek aan ware menslikheid in ons omgang met andere hang alles saam met ons geestelike en psigiese onvolwassenheid.
Daarom is ons self meestal die oorsaak van ons eie ongelukkigheid in die lewe. Ons neiging om alles op onsself te betrek, ons liggeraaktheid, ons onvermoë om kritiek te inkasseer, ons neiging om óór te reageer en die talle ander dinge wat voortdurend daarop uit is om al ons verhoudinge te vertroebel en ongeluk in ons huislike en maatskaplike lewe te saai, moet ten diepste teruggevoer word na ons eie onvolwassenheid.
Die Christelike godsdiens is nie daarvoor bedoel om ’n mens maar net psigies gesond en volwasse te maak nie. Dit wil ons help om deur Gods genade die ewige lewe en die ewige heil te vind. Maar een van die neweprodukte is tog dat die egte verhouding tot God ons ook vrymaak van onsself tot egte volwassenheid. – WDJ