Dit kan ons help

DIT KAN ONS HELP
Die Burger, 7 Mei 1983, bladsy 12

Meermale maak vriende teenoor ’n mens die opmerking dat hulle nie kan verstaan waarom daar deesdae so baie vertalings van die Bybel in omloop is nie. Vroeër het ons net die één Bybel gehad, en dit was vir ons genoeg. Ons het geweet dit is die Bybel en daarmee klaar. Nou word ons byna oorval deur allerlei nuwe vertalings wat in sommige opsigte nògal taamlik ver van mekaar verskil. Wek dit nie net onsekerheid nie? Watter een is dan nou werklik die Bybel? Watter een moet jy glo?

’n Mens kan verstaan dat mense só daaroor kan voel. Veral die kinderlike ontsag vir die Bybel wat baie van ons van huis uit meegekry het, kan meebring dat ons die Bybel met ’n graad van piëteit benader wat dit vir ons moeilik maak om ’n verskeidenheid van vertalings en teksvariasies daarmee in verband te bring.

Tog moet ons probeer om te verstaan waarom dit nie net moontlik is nie, maar ook noodsaaklik is dat hierdie ontwikkeling moet plaasvind. Dit kan ons help om beter te verstaan dat elke vertaling van die Bybel wat ons besit, nog maar altyd net ’n vertaling is. Die oorspronklike Bybel besit ons in Hebreeus (en Aramees) wat die Ou Testament betref. Maar dit is vir verreweg die meeste mense ontoeganklik. Ons is dus, as ons met die Bybel kontak wil hê, eenvoudig aangewese op vertalings daarvan.

Die vertalings is natuurlik maar mense-werk. Hoe uitstekend ’n vertaling ook mag wees, daar kan altyd weer op verbeter word. Die groot doel van die veelheid van vertalings is om ons so naby as moontlik by die betekenis van die grondtekste te bring (dws die oorspronklike Hebreeuse of Griekse tekste). Sommige vertalings probeer dit te doen deur die oorspronklike tekste so letterlik as moontlik woord vir woord te vertaal – met die risiko dat ’n mens dan nie maklik-leesbare Afrikaans kry nie en die ware betekenis van die teks jou dalk kan ontgaan. Andere doen dit deur die teks nie so letterlik as moontlik te vertaal wat die woorde betref nie, maar om die betekenis daarvan in die beste Afrikaanse ekwivalent daarvan oor te sit. Ook dit het natuurlik sy eie probleme.

In elk geval is die bedoeling van die baie vertalings om ons te help om die Bybel beter te leer lees, verstaan en gehoorsaam. Ons moet dus nie negatief daarteenoor ingestel wees nie, maar positief. Skaf gerus maar vir u ’n paar verskillende vertalings aan, in al die tale waartoe u toegang het. Lees die vertalings saam met mekaar, en u kan feitlik seker wees dat hulle u gaan help om die oorspronklike bedoeling beter te begryp as wanneer u net van die ou bekende Afrikaanse vertaling gebruik sou maak.

Per slot van rekening moet ons nie aan die ou vertroude klanke vashou nie, maar aan die nuwe inhoud van die Skrif. Ons kan gehelp word om beter te begryp, en God dus nog beter te dien. – WDJ