Vra na die motief

VRA NA DIE MOTIEF
Die Burger, 12 Mei 1983, bladsy 8

Die geskiedenis van die mensdom is ’n geskiedenis van konflik. Dit geld nie net vir die groot wêreld van die nasies nie; dit geld ook vir die samelewing in elke land, maar selfs ook vir die lewe binne die verskillende samelewingsfere.

Dit is feitlik deurgaans so dat ons hoofsaaklik twee groepe mense het wat in konflik met mekaar verkeer en daarom op bepaalde punte teenoor mekaar te staan kom. Wanneer dit gebeur, is hulle geneig om mekaar oor en weer van die allergrootste kwad te verdink en te beskuldig. Hulle maak karikature van mekaar en stel mekaar oor en weer voor as opperste dwase en kwaadwilliges wat daarop uit is om al wat goed is, onder hulle voete te vertrap. So maak hulle dit vir hulle self moontlik en selfs maklik om mekaar te haat en te bestry, dikwels met ongeoorloofde middele, want mag ’n mens dan nie maar teenoor goddeloses werklik alles in die stryd werp nie?

As ’n mens egter net die objektiwiteit kan bemeester om ’n keer van buite af na dergelike konflikte te kyk, word hulle dikwels grondig gerelativeer. Dit blyk dan dat die karikature wat ons oor en weer van mekaar maak, nie heéltemal aan die waarheid beantwoord nie. Dikwels is dit growwe oortrekkings van elemente wat wél aanwesig is; dikwels skromelike miskennings van ander elemente wat óók aanwesig is. In elk geval is dit duidelik dat nie een van die twee twistende partye werklik so duiwels is as wat die ander hom voorstel nie.

Uit die geskiedenis kan ons leer dat mense selde of nooit net maar duiwels was in die dinge waarvoor hulle gestaan het. Hulle het altyd die een of ander motief gehad wat ten minste in hulle eie gewete en beoordeling suiwer genoeg was om daarvoor te stry en te ly. Dikwels is dit selfs so dat, as die mens vanuit die perspektief wat die geskiedenis bied, na sulke konflikte kyk, dit selfs duidelik word dat die twistende partye min of meer dieselfde motief gehad het wat hulle gedryf het, maar dat hulle net verskillende metodes voorgestaan het om hulle doelstellings te bereik. As hulle dit maar destyds kon insien; as hulle mekaar se motiewe ernstig opgeneem het, sou hulle nie nodig gehad het om so fel teenoor mekaar te staan nie.

Ons land verkeer ook in ’n situasie van konflik op baie terreine, politiek, kerklik en maatskaplik. Moet ons nie veel meer moeite doen om mekaar se motiewe te probeer peil nie? As ons mekaar se regmatige motiewe sou ontdek, sou ons nie agterkom dat ons baie nader aan mekaar staan as wat ons miskien dink in die hitte van ons konflikte nie?

En is dit nie net doodgewoon Christelik om op te hou om van mekaar karikature te maak, en om mekaar se ware motiewe te probeer ontdek nie? Is dit nie die eerste stap op weg na wat ons as Christene versoening noem nie? – WDJ