’n Verkeerde vraag

’N VERKEERDE VRAAG
Die Burger, 28 Mei 1983, bladsy 10

Wanneer ons soms onder die las van beproewing gebuk gaan en die een ongelukkige ding ná die ander met ons gebeur, is ons geneig om die vraag te stel: Wat het ek tog gesondig dat God my só swaar straf? Op menige siekbed word dié vraag gestel. Menige boer wat in hierdie tyd tevergeefs na die staalblou hemel kyk terwyl sy plaas versterf in droogte, dra die vraag in sy hart, selfs al kom dit nie oor sy lippe nie.

Tog is dit ’n verkeerde vraag. Dit is verkeerd, omdat dit veronderstel dat ons voor- en teenspoed aan ons afgemeet word op grond van ons verdienste. As God egter met ons sou handel na ons ongeregtigheid, wie sou dan bestaan (Psalm 130:3)? Dan sou ons niks anders as teenspoed en smart ervaar het nie. Tog deel ons op duisende maniere in Gods guns.

Dit is egter ook ’n verkeerde vraag, omdat ons as gelowiges moet weet dat God ons nie meer straf na ons ongeregtigheid nie. Christus het eens en vir altyd ons straf gedra. Weliswaar het ons in ons aardse lewe nog steeds deel aan die gevolge van die sonde wat in algemene sin die straf van God op die sonde is. Ons sit vas in die verworde struktuur van die gevalle skepping en is daarin saam met die hele mensheid voortdurend blootgestel aan alle vorme van lyding en ellende. God neem sy kinders nie uit hierdie situasie weg nie, maar ons het sy beloftes dat Hy saam met ons in dié situasie is. Wat meer is, Hy wat uit die kwaad die goeie te voorskyn roep, gebruik hierdie situasie tot ons heil, om ons te louter en te heilig, om ons nader aan sy Vaderhart te trek (Hebreërs 12:4 ev).

Selfs as ons lyding vir ons doelloos en sinloos lyk, is God nog in ons lyding by ons: selfs in die dal van doodskaduwee, en God gee sin aan die sinlose, selfs aan ons sinlose smart.

Juis daarom is die vraag wát ek gesondig het dat God my so swaar straf, ’n verkeerde vraag. Dit misken die aard van die situasie waarin ons ons in die aardse lewe bevind. In hierdie aardse bedeling het ons almal gemeenskaplik deel aan die gevolge van die sonde soos dit in lyding en teenspoed sigbaar word. Daar kan nie ’n reguit lyn getrek word van persoonlike teenspoed af na persoonlike sonde nie – net so min as van persoonlike voorspoed na persoonlike vroomheid. Die hele 0u Testament worstel reeds met die probleem van die voorspoed van die goddelose en die lyding van die regverdige (Psalm 37, Psalm 73, die boek Job, ens.). En in die geval van die blindgeborene en die Galileërs, leer Jesus dat elke reglynige redenasie hier verkeerd is (Johannes 9, Lukas 13).

Die regte houding in lyding en teenspoed is dié van verootmoediging. Die régte vraag is: Here, wat wil U my leer? Die regte gebed is; Here, maak my wat U wil hê ek moet wees. Die apostel Petrus raai ons aan: Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd (l Petrus 5:6). – WDJ