LEER OM TE ONTVANG
Die Burger, 4 Junie 1983
In ons verhouding tot ons medemense is dit nie genoeg om gewillig te wees om vir hulle allerlei dinge te doen nie. Ons moet ook leer om hulle toe te laat om aan ons die goeie te doen. Dit is nie genoeg om altyd net te wil gee nie. Ons moet leer om ook te ontvang.
Seker, die liefde moet bereid wees om veel te gee. In alle verhoudinge waarin ons tot mense staan, of dit nou in die huwelik is of in die gesin, in die skool of in die kerk, word van ons bereidheid gevra om offers ter wille van ander te bring. Daarsonder sou liefde nie liefde wees nie. Liefde is juis die aanvaarding van die naaste en sy belange en die bereidwilligheid om vir hom en sy belange te sorg. Daarmee gaan altyd ’n stuk offer gepaard.
Tog sou dit verkeerd wees om te dink dat die liefde net bereid moet wees om te gee. Die liefde maak ons ook bereid om te ontvang wat die naaste aan ons wil gee. Liefde sluit die bereidheid tot wederkerigheid in. Wanneer ons ons deur die naaste láát dien, skep ons vir hom ruimte in ons lewe. Ons eer sy pogings om vir ons goed te wees. Ons laat hom toe om vir ons van sy kant af ’n naaste te wees. Ons neem hom as medemens ernstig op. Hy is vir ons nie maar net ’n voorwerp van ons hulpbetoon, diens en sorg nie, maar hy word vir ons ’n persoon wat self ook in staat is om aan ons iets te gee wat vir ons waardevol is.
Dikwels word mense teleurgestel, omdat hulle nie kan verstaan waarom soveel blyke van hul goedgesindheid en diens nie deur andere na behore waardeer word nie. ’n Moeder kan haar afsloof vir haar kinders of ’n vrou vir haar man, en dan tog kla dat dit alles nie gewaardeer word nie. Die fout kan egter wees dat hulle nie die fyn kuns verstaan om hul kinders of man werklik tot hul medemense te laat ontwikkel, en nie slegs tot voorwerpe van hul aktivistiese eerbetoon nie.
Dit is vir ’n kind baie belangrik om iets vir die ouer te kan terugdoen en daarvoor waardering en ruimte te vind. As ons alles vir ons kinders wil doen en geen waardering het vir wat hulle vir ons kan en wil doen nie, hoe kan ons verwag dat hulle waardering moet hê vir wat ons vir hulle doen? Maar dieselfde geld ook vir ons verhouding tot alle mense, in watter verhouding ons ook al tot hulle staan. Die toets of ons hulle werklik as ewe-mense aanvaar, lê in die vraag of ons kan aanvaar dat ons hul wederliefde nodig het.
Die verhouding tussen die verskillende bevolkingsgroepe in ons land sal nooit regkom solank die blankes meen dat hulle die enigste is wat iets het om te gee aan die andere, en nie op hulle beurt die geestelike opbou, vriendskap en guns nodig het wat die ander groepe aan hulle kan bied nie. Al die goeie dinge wat vir die ander groepe gedoen word, bly in groot mate betekenisloos, tensy ons bereid word om die ander as mense in hul eie reg te aanvaar en hulle toe te laat om aan ons te gee wat hulle het. – WDJ