NOOIT TE OUD NIE
Die Burger, 18 Junie 1983
Dit is ’n kwade dag as ’n mens meen dat hy nou min of meer alles weet en verstaan, sodat daar niks meer is waarvoor hy tot nuwe insigte kan kom nie. Wie selfs maar heimlik so ’n gevoel in sy hart koester, moet weet dat dit geen aanduiding is van werklike wysheid nie, maar van geestelike stagnasie.
Egte wysheid leer ons dat ’n mens nooit te oud is om te leer nie. Opvattings en insigte wat oor baie jare heen by ons bestaan het, kan nog altyd weer blyk gebrekkig te wees. Per slot van rekening is die lewe so ryk en die waarheid so groot, dat ons met ons beperkte vermoëns eintlik altyd maar net ’n beperkte insig daarin verkry. Wie êrens langs die pad sy beperkte insig verabsoluteer asof hy die einde van die weg bereik het, kan feitlik daarvan seker wees dat hy met ’n halwe waarheid bly sit. Daarenteen is die openheid vir nuwe insigte en die bereidheid om eie verworwe insigte altyd weer te toets en met die werklikheid in ooreenstemming te bring, kenmerkend van die begeerte om die waarheid – soveel as wat moontlik is – deelagtig te word.
Dit is dus geen skande om te erken dat ’n mens vroeër nie die waarheid in sy volheid beetgehad het nie. Baie van ons is so trots, dat ons nie eens bereid is om toe te gee dat ons vroeër gedwaal het of eensydig in ons opvattings was nie. Dit is asof ons die pretensie wil voer dat ons so wys en so onveranderlik as God is, sodat die waarheid altyd al klaar en vas voor ons gestaan het.
Maar so is dit tog nie met ons nie. Selfs die mees begaafde mens is en bly aangewese op die kommunikasie met andere, die versameling van kennis en die ondervinding wat met die jare kom. Dit is waar dat die jare bepaalde oortuigings van ons net bevestig en verdiep, maar dit is ook waar dat dit ons help om bevry te word van kortsigtighede en benepenhede, vooroordele en eensydighede.
Dit alles geld met name ook vir ons geestelike lewe. In die voortdurende omgang met die Bybel en die kontak met Gods kinders gaan daar vir ons nuwe gesigspunte oop. Ons verstaan die Bybel beter en ons word deur andere gehelp om die toepassing van die boodskap van die Bybel in die praktyk van ons lewe suiwerder te sien. Soms ontdek ons ook dat dinge waarvoor ons met soveel krag gestry het toe ons jonger was, eintlik maar bykomstighede was, en dat ons deur bykomstighede so besig gehou is, dat die eintlike saak waarom dit in die Bybel gaan, ons byna verbygegaan het.
Die saak waarom dit in die Bybel gaan, is die bevryding van ons lewe tot liefde vir God en die naaste. Dit is die afsterwe van die ou mens en die opstanding van die nuwe. Dáárin word God geëer, dat ons saam met Hom leer ja sê vir wat goed is, en nee vir wat sleg is. Daarin kom die Koninkryk.
Ons word nooit te oud om te leer wat die volle konsekwensies daarvan vir ons lewe is nie. – WDJ