’n Basiese verhouding

’N BASIESE VERHOUDING
Die Burger, 25 Junie 1983

Die huisgesin is, in aansluiting by die huwelik, een van die mees basiese gemeenskapsvorme waarin die mens deur God gestel is. God het die mens nie net vir Homself geskep nie. Hy het die mense vir mekaar geskep. Die mens word en is ’n mens in sy verhouding tot ander mense. Hy ontvang nie net in ’n fisieke sin sy lewe van ander mense nie. Ook psigies en geestelik word hy deur ander mense gevorm, gedra en beskerm.

Die mens is ’n gemeenskapswese. Hy is bedoel om in verhoudinge te lewe. En die eerste, mees basiese en beslissende verhouding tot ander mense waarin hy gestel word, is die verhouding tot sy ouers. Dit is daarom nie vreemd dat die gebod om vader en moeder te eer, in die Tien Gebooie, direk volg op dié gebooie wat met die verhouding tot God te make het nie. Dit gaan vooraf aan al die ander gebooie waarin ons verhouding tot ons medemense gereël word. Daaruit blyk reeds hoe belangrik hierdie verhouding vir God is.

Dit is dan ook duidelik dat die verhouding tussen ouers en kinders fundamenteel is vir alle verhoudinge waarin mense tot mekaar staan. In die ontmoeting en omgang met ons ouers leer ons om met ander mense saam te lewe. Hulle is ons eerste medemense. Aan hul omgang met ons leer ons wat dit is om ’n medemens te hê. En wat ons daar leer, sal die res van ons lewe van die allergrootste invloed wees op ons verhouding tot andere. Hulle staan aan die bron van ons lewe. Selfs ons verhouding tot ons eggenoot, ons eie kinders, vriend en vyand sal die spore dra van daardie eerste basiese verhouding.

Maar hulle leer ons nie net hoe ons verhouding teenoor ander mense moet wees nie. God het dit só gewil dat ook ons verhouding tot Hom in groot mate bepaal word deur die invloed wat ander mense op ons het. Deur die voorbeeld, woord en getuienis van andere leer ons Hom ken en leer ons hoe ons oor Hom moet dink. Spesiaal die ouers het ’n groot verantwoordelikheid in hierdie opsig. Nie net deur wat hulle sê nie, maar ook deur wat hulle doen en is, het hulle geweldige invloed op die verhouding van die kind tot God.

Is dit dan nie so dat ons verhouding tot God ook uitgedruk word in terme van die ouer-kind-verhouding nie? God wil vir ons ’n Vader wees. En al sou ’n moeder haar suigeling vergeet, sal Hy ons tog nooit vergeet nie. Vader en Moeder word vir die kind onbewus voorbeelde van hoe God is. Hulle dink aan God die Vader in terme van wat hulle ervaar van hulle eie vader. Die liefde en sorg van God (of hul voorstelling daarvan) word vir hulle gevorm deur die liefde en sorg van hul moeder. Sielkundiges beweer dat ateïsme dikwels saamhang met gefrustreerde verhoudinge tussen ouer en kind.

Dit stem ons as ouers tot ootmoed. Watter soort spieël van God is ons vir hulle? – WDJ