RESPEK VIR WAT ONS GEGEE IS
Die Burger, 2 Julie 1983, bladsy 10
Ons almal ken die vyfde gebod uit die Tien Gebooie: Eer jou vader en jou moeder, dat jou dae verleng mag word in die land wat die Here jou God aan jou gee.
Dit gaan in hierdie gebod ongetwyfeld in eerste instansie om die eerbied wat ons verskuldig is aan die persone van ons ouers. Van hulle het ons die lewe ontvang. Hulle het ons gevoed, gedra, geleer en getug. Om die rede alleen al sou dit vanself spreek dat ons hulle behoort te eer. Wat egter swaarder weeg, is dat hulle deur God in ’n verhouding van gesag teenoor ons gestel is. Hulle verteenwoordig Sy gesag teenoor ons en is geroepe om ons te leer wat Sy wil vir ons is en hoe ons Hom moet gehoorsaam.
Die gebod het egter kennelik meer op die oog as net die persoonlike eerbied teenoor ons ouers. Dit gaan ook om die eerbied vir wat ons deur hulle deelagtig word. Hulle lyf ons immers in in die wêreld soos dit voor ons geboorte bestaan het, die wêreld van die taal, die kultuur, die norme en sedes, die orde en die strukture. In die besonder maak bulle ons vertroud met die Christelike geloof en alles wat daarmee saamhang.
Vir al hierdie dinge moet ons eerbied hê. Die wêreld begin nie by ons nie. Aan ons bestaan gaan die geskiedenis vooraf. Al die goeie wat deur Gods voorsienigheid in die geskiedenis tot stand gekom het, word ons deel. Vir al hierdie dinge wat aan ons voorafgegaan het, vir alles wat deur die vaders aan ons nagelaat is, vir die rykdom van waardes wat aan ons oorgelewer is, moet ons eerbied hê.
Dit word in ons tyd dikwels vergeet. Ons lewe in ’n revolusionêre tyd. Dit lyk soms of die jeug dink dat hulle alles tot op die grond moet afbreek en nuut moet begin. Maar daarin sit ’n stuk ondankbaarheid, kortsigtigheid en gebrek aan eerbied vir wat aan ons gegee is. Daar is seëninge verbonde aan die respek vir wat aan ons gegee is. Dit dien die lewe. Dit maak die lewe ryker en voller.
Maar natuurlik: ook dit het sy grense. Ongelukkig is nie alles wat uit die verlede tot ons kom, net goed nie. As ons begin met eerbied vir die verlede, sal ons tog nie daarby kan bly staan om alles uit die verlede klakkeloos heilig te verklaar nie. Christus het by geleentheid juis die binding aan vader en moeder gerelativeer deur te sê dat diegene wat die wil van God doen, sy moeder en sy broers is (Markus 3:31–35). Ons moet God meer· gehoorsaam wees as die mense (Handelinge 5:29). Eerbied vir vader en moeder en vir alles wat aan ons uit die verlede gegee is, sluit nie uit dat ons krities daarteenoor moet wees en dit moet toets aan die Woord van God nie.
Nie revolusionêr nie, maar reformatories moet ons twee dinge aan mekaar verbind: liefde en eerbied vir die verlede en kritiese beoordeling van die verlede. Slegs dit is ’n verantwoordelike omgaan met wat aan ons gegee is. – WDJ