DIE WET VAN VRYHEID
Die Burger, 09 Julie 1983, bladsy 8
Dit val ’n mens op dat die wet van God deur die apostel Jakobus twee keer “die wet van vryheid” genoem word (Jakobus 1:25; 2:12). Gewoonlik verbind ons aan die wet juis die begrip van onvryheid, van gebondenheid. Ons is meer geneig om vryheid te verstaan as vryheid van enige wet of gebod, sodat ons kan doen wat ons self graag wil.
Die kenmerkende van die Bybelse begrip van die wet is egter juis dat dit ons leer wat ware vryheid is. Dit word dadelik duidelik as ons die Tien Gebooie lees. Die Tien Gebooie begin al met die inleidende woorde dat die Here die God is wat sy volk uit die slawehuis van Egipte uitgelei het. Hy is die God wat vryheid wil en vryheid skenk. Daarom moet al die gebooie ook verstaan word as gebooie wat Gods volk in die vryheid wil bewaar. Sy wet is die wet van vryheid.
Alles wat die gebooie ons gebied en verbied, het daarmee te make dat God ons wil beskerm teen allerlei vorme van slawerny. God wil nie dat sy volk die slawe van afgodery moet word nie, in watter vorm dit ook al mag voorkom. Hy wil nie dat ons slawe van ons eie arbeid moet word nie. Hy wil nie dat ons in ons verhouding tot ons medemens ons vryheid moet verloor nie, of dat hulle hul vryheid deur ons moet verloor nie. Daarom verbied Hy ons om ruimte te maak vir ons hartstogte en begeertes wat op talle wyses die naaste bedreig en onsself uitlewer aan die tirannie van die kwaad wat in ons woon.
Die wet word natuurlik maklik vanuit ons sondige hart verkeerd verstaan, en dan word dit nie meer vir ons die wet van vryheid nie, maar ’n wet van veroordeling. Dit gebeur wanneer ons nie ons posisie deur die geloof inneem in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het nie (Galasiërs 5:1). Solank ’n mens nog nie deur Christus uit die Egipteland van jou verslaafdheid aan die sonde uitgelei is nie, ervaar jy die wet as ’n harde juk, as ’n sweep, en selfs as ’n prikkel om nog meer sonde te doen. Dit is die beeld wat Paulus vir ons teken van die Joodse godsdiens van sy dae, wat die wet verstaan het as ’n weg waarlangs ’n mens jou eie heil moet probeer verdien. Wie so na die wet kyk, ervaar dit as ’n wet van die dood. Verlossing beteken dan onder meer dat ’n mens ook van die wet in hierdie sin verlos moet word.
Maar as ’n mens eenmaal staan in die vryheid waarmee Christus jou vrygemaak het, spel die wet vir jou stuk vir stuk die inhoud van jou vryheid uit. Dit is nie gebondenheid nie, maar vryheid om God reg lief te hê en om jou naaste lief te hê soos jouself. Dit is vryheid om nie te hoef te haat, te steel, te veg, te lieg en owerspel te pleeg nie. Dit is vryheid om nie deur begeertes, ambisie en hebsug voortgedryf te word nie. Dit is vryheid om jou nie meer te kwel nie. Dit is vryheid om Gods wet te vervul. – WDJ