DIT IS DIE MAATSTAF
Die Burger, 16 Julie 1983, bladsy 10
In die jongste tyd is ons aandag van verskillende kante gevestig op die feit dat dit moeilik is om ’n mens op die Bybel te beroep vir ons beslissings oor wat reg en verkeerd is op praktiese terreine soos byvoorbeeld die politiek, die ekonomie, vrae rondom die mediese etiek, ens. Die gevaar bestaan altyd dat ’n mens die Bybel voor jou eie karretjie kan span en op ’n selektiewe manier van die Bybelse uitsprake gebruik kan maak om jou te pas.
Dit is waar. Die Bybel kan maklik misbruik word en word ook dikwels misbruik. Wie homself nie hou aan die erkende reëls vir die uitleg van die Bybel nie, sal natuurlik in ’n subjektivistiese hantering van die Bybel verval en die Bybel laat buikspreek. Daaruit ontstaan ook al die verwarring, omdat verskillende mense tot verskillende uitsprake kom oor wat die Bybel van ons verwag.
Dit beteken egter nie dat ons nou maar daarvan moet afsien om die lig van die Bybel op ons probleme te soek nie. Dit is mos nie nodig om verkeerd met die Bybel om te gaan nie. En wanneer ons reg met die Bybel omgaan, sal dit blyk dat ons daarin vir elke denkbare situasie in ons lewe riglyne sal ontdek vir wat Gods wil vir ons lewe is.
Al bevat die Bybel nie ’n teks vir elke situasie of konkrete voorskrifte oor ’n politieke beleid of die juiste manier van optrede in ons moderne probleme nie, gee dit tog aan ons sekere altyd geldige maatstawwe waaraan ons beslissings gemeet moet word. Op talle maniere verduidelik en illustreer die Bybel aan ons wat liefde en geregtigheid, billikheid en wysheid, die weg van die lewe en die weg van die dood is. Die Bybel is tog nie onduidelik oor watter reg God op ons lewe het en wat Hy wil dat ons aan ons naaste sal doen nie.
As ons maar bereid is om onsself met ons situasie eerlik in die lig van die Skrif te stel, sal die Heilige Gees ons lei om te kan onderskei waarop dit werklik aankom (Filippense 1:9). Veral moet ons ook bereid wees om saam met ander Christene na die Bybel te luister. Die Gees gebruik hulle om ons te help om nie alleen ons eie situasie beter te kan ontleed nie, maar ook om te sien hoe radikaal die eis van die Bybel juis daarop betrekking het.
Vir ’n Christen bly die Bybel die maatstaf vir wat reg en verkeerd is. Wie dit nie erken nie, loop gevaar om ander maatstawwe vir reg en verkeerd in te voer, soos byvoorbeeld sy eie ervaring, gewete, die geskiedenis of selfs die natuur. ’n Mens verwonder jou daaroor hoe dikwels mense hulle op die natuur beroep om die lewe van mense te probeer reël – mense wat na die beeld van God geskape is!
Van willekeur en subjektivisme gepraat: hier sien ons dit eers welig groei. In die Bybel is Gods wil reeds vir ons geïnterpreteer. Maar wie daar buite om die skepping, die geskiedenis of die natuur tot maatstaf verhef, val onherroeplik in die gat van subjektiewe interpretasies van Gods wil. En dan blyk Gods wil en sy eie wil, presies eenders te wees. – WDJ