Dit is te maklik

DIT IS TE MAKLIK
Die Burger, 23 Julie 1983, bladsy 10

Dit is nie moeilik om die kerk te kritiseer nie. Per slot van rekening is die kerk, al glo ons ook van hom dat hy die liggaam van Christus is, tog nog altyd ’n gemeenskap van sondige mense. Foute word gemaak. Verkeerde gesindhede word geopenbaar. Die Heilige Gees word op talle maniere bedroef.

Die beeld wat reeds in die Nuwe Testament van die kerk geteken word, is in meer as een opsig bedroewend. Ons lees van tweespalt tussen Christene, van wêreldsgesindheid binne in die kerk, van louheid, van ’n gebrek aan liefde, van die duld van verkeerde leringe, van selfverheffing en dergelike dinge meer. Dit is ’n illusie om te dink dat die kerk ooit konstant op die hoogte en volgens die rykdom van die Pinksterdag gelewe bet.

Die geskiedenis van die kerk deur die eeue is daarvan ’n bevestiging. Dit is waar dat daar baie verkwikkende bladsye in die kerkgeskiedskrywing is. Daaruit kan ons leer dat God die kerk nooit heeltemal prysgegee het nie, dat daar altyd onder die assies nog gloeiende kole was, selfs toe dit gelyk het of doodsheid oral heers, en dat die Gees van God telkens weer onverwags nuwe lewe in die doodsbeendere geplaas het. Maar vir sover dit van mense en hul trou afgehang het, is die kerkgeskiedenis vol van teleurstellende gebeurtenisse en ontwikkelinge, vol van dwaling en afval. Daarom is dit maklik om die kerk te kritiseer.

Baie mense doen dit dan ook graag.

Hulle kan dit doen, maar dan moet hulle dit nie vir hulleself te maklik maak nie.

’n Mens maak dit vir jouself te maklik as jy meen dat jy dus maar jou rug op die kerk kan draai en ’n nuwe kerkie kan gaan stig waar alles soveel beter sal wees. Die geskiedenis is besaai met die voorbeelde van kerkies en groepies wat gestig is onder die vaandel van die ware kerk wat vervul is met die Heilige Gees. Die tyd het egter geleer dat “die spook saamgetrek het”. Al die dinge waaroor hulle die kerk veroordeel het, het ook maar by die nuwe groep geblyk te bestaan, ondanks al die groot woorde en die hoë gevoelens. Intussen is aan die sondes van die kerk maar net nog een toegevoeg: die liggaam van Christus is nog ’n keer verskeur.

Dit is te maklik om ons goedjies te vat en te loop as ons in die huwelik met mekaar probleme kry. Dit is te maklik om probleme wat ons in die lewe teëkom, te ontwyk deur na ’n ander plek weg te trek. En dit is ook te maklik om die kerk te verlaat omdat ons kritiek teen hom het. Waarom bly ons nie in die kerk met ons getuienis vir die waarheid nie? Waarom ly ons nie liewer onreg en pyn, as om ons verantwoordelikheid vir mekaar af te skud en lekker eenkant te gaan staan by diegene wat net soos ons voel en dink nie? Waarom vertrou ons God nie meer om ons getuienis ook in die kerk oorwinnend te maak nie? Is dit nie eerder die weg van die kruis nie? – WDJ