Dieper as die vrolikheid

DIEPER AS DIE VROLIKHEID
Die Burger, 24 Desember 1983, bladsy 8

Dit is nogal ʼn wesenlike vraag wat vir die Christendom die gevaarlikste is: onderdrukking of sukses.

Dat die onderdrukking van die Christendom baie effektief kan wees en vir baie mense die weg tot die aanvaarding van die Christelike geloof kan versper, weet ons nie net uit die geskiedenis van die kerk in die eerste eeue van ons jaartelling nie. Ons weet dit ook uit wat in ons tyd op ’n uiters gesofistikeerde en berekende wyse gedoen word in lande agter die Ystergordyn om met behulp van ateïstiese propaganda en allerlei metodes van onderdrukking en intimidasie, die Christelike geloof te bestry.

Maar is die sukses van die Christendom minder gevaarlik?

As ons na die groot wending kyk wat in die vierde eeu plaasgevind het toe Konstantyn die Christelike geloof aanvaar het en aan die kerk ’n bevoorregte posisie gegee het; as ons daarop let hoe die massale oorgang van hele volkere tot die Christelike geloof gelei het tot ’n veruitwendiging en banalisering van die geloof, tot vermenging met heidense elemente en ’n miskenning van die wese van die Christelike boodskap; en as ons let op die resultaat van talle eeue van Christendom as erkende godsdiens in die Westerse wêreld, waarin flardes Christelike reste agteloos meegedra word in ’n verwêreldlikte kultuur, maar waarin die kennis van Christus self besig is om terug te krimp tot die eiendom van ’n klein minderheidsgroep – dan is ’n mens nie so seker of “sukses” nie vir die Christendom skadeliker kan wees as openlike weerstand nie.

Daar was in die geskiedenis enkelinge wat die erns van hierdie vraag pynlik ondervind het en op hulle eie wyse geprotesteer het teen die verburgerliking en vervlakking van die Christendom tot ’n stuk van die heersende kultuur, waardeur dit vir almal vanselfsprekend geword het, maar vir byna niemand meer ’n saak van lewe of dood nie.

Veroordeling
Ten diepste was dit die motief agter allerlei bewegings wat in die loop van die eeue in botsing gekom het met die kerk, maar ook agter die ontstaan van ’n verskynsel soos die kloosters en die verskillende ordes in die Katolieke Kerk wat die ideale van armoede, askese en persoonlike toewyding aan God op die voorgrond gestel het.

In die moderne tyd en die geskiedenis van die Protestantisme was daar beslis niemand wat so intensief en met soveel innerlike krag ’n offensief teen die verburgerlikte Christendom geloods het as die Deense wysgeer-teoloog Soren Kierkegaard nie. Sy bytende ironie en vlymskerpe veroordeling van die Deense staatskerk van die negentiende eeu het nie voortgekom uit vyandskap teenoor Christendom en kerk nie, maar juis uit ’n diepe betrokkenheid by die geloof in Christus en die begeerte om dit te bevry van die dodelike omstrengeling deur kerklike gewenning en maatskaplike gelykskakeling. Dit was vir Kierkegaard niks minder nie as ’n vervalsing van die Nieu-Testamentiese Christendom. Sy bedoeling was om die mense weer iets te leer van die vergete erns van die egte Christenskap soos dit bestaan in die persoonlike beslissing van die enkeling om Jesus onvoorwaardelik na te volg en met Hom gekruisig te word.

’n Mens moet onwillekeurig aan hierdie proteste in die geskiedenis van die Christelike kerk dink as jy jouself ’n oomblik besig hou met ’n verskynsel soos ons moderne Kersfeesviering. Daar is geen ander Christelike feesdag wat blykbaar so sterk tot die verbeelding van die Westerse wêreld gespreek het as Kersfees nie. Dit het deur die eeue ’n deel van die Westerse kultuur geword, omring met tradisie en vaste gebruike, simbole en liedere. Dit het die draer geword van bepaalde sentimente en verwagtinge. Blykbaar voldoen dit uitstekend aan die natuurlike behoeftes van die Westerse mens om sulke tye van gemoedelikheid, stemmingrykheid, welwillendheid en feestelikheid in sy Jaarkalender in te sluit.·

Dit verklaar ook die sukses wat die wêreld van handel en nywerheid in ons kapitalistiese samelewing met die exploitering van Kersfees behaal. Ons word op allerlei maniere oorgehaal om onsself oor te gee aan sentimentaliteit en welwillendheid, aan die Kersfeesstemming en die Kersfeestradisies. Daar is geen ander tyd in die jaar wanneer Christelike liedere so in die openbaar gespeel en gesing en die gevoel so opgewek word in verband met die herdenking van ’n Christelike feesdag, as met Kersfees nie.

’n Mens sou sê: As daar nou tyd is wanneer dit tog lyk of die Christendom diep ingedring het in die kultuur van die Weste, dan is dit Kersfeestyd.

Pynlik
Maar is dit werklik so? Is die gemeensaamheid met Christus wat rondom Kersfees sigbaar word, nie juis die bewys daarvan dat dit eintlik nie meer om Hom gaan nie? As Kersfees ’n kermis geword het, dan is dit eintlik ook vanselfsprekend dat die Naam van Christus nog wel met Kersfees behou word, maar dat die dominerende figuur wat oral verskyn, die is van Kersvader met sy snuisterye en sy wolmus in die somer. Maar Jesus – of daar werklik in Hom as die Man van Smarte geglo word, dit is nog weer ’n ander vraag.

Daarom dink ’n mens onwillekeurig aan die proteste van Christene deur die eeue teen die vervlugtiging van die ware beeld van Jesus in ’n sogenaamde Christelike samelewing. ’n Mens vra jouself met Kierkegaard af hoe gevaarlik dit is dat mense die Naam van Jesus so dikwels hoor, dat hulle daaraan gewoond raak en dink dat hulle weet wie Hy is. In ’n verburgerlikte Christendom kry hulle die indruk dat ’n mens in Jesus kan glo en kan bly soos jy is. Hulle verwar Christenskap met deel hê aan ’n kultuur wat op enkele punte deur bepaalde Christelike reste en Christelike waardes gestempel is. En hulle weet nie, sê Kierkegaard êrens, dat Christenskap omtrent die pynlikste ding is wat ’n mens kan oorkom nie. Egte ontmoeting met Jesus en egte geloof in Jesus beteken immers kruisiging van ons ou self, die prysgawe van ons ou self, en die navolging van Jesus met alles wat dit inhou.

As ’n mens dit alles besef, hoef dit nie te beteken dat jy in die Kersfeestyd suur en afsydig hoef te wees nie. Baie van die dinge wat tot ons Kersfeestradisie behoort, is op sigself nie skadelik of verwerplik nie. Dit is inderdaad ’n behoefte van ons menslike natuur om tye van gemoedelikheid en welwillende saamwees te ken. As ons nie in Kersfeestyd probeer om as gesinne saam te wees en die vreugde van ons onderlinge liefde te smaak nie, sou ons dit wel op ’n ander tyd van die jaar moes doen. Daarom kan ons ook as Christene in groot mate meedoen met wat normaalweg rondom Kersfees aan vriendelikheid en toegeneentheid geopenbaar word.

Ewigheid
Dit alles mag egter nie daartoe lei dat ons die ware betekenis van Kersfees vergeet nie. Tot die ware betekenis van Kersfees dring ’n mens eers deur wanneer dit vir jou oopgaan as ’n werklikheid dat Jesus nie ’n figuur uit ’n verhaal is nie, maar ’n lewende Persoon wat geken en vertrou kan word. En dat wat die Bybel van Hom vertel, nie maar fantasie of ’n mooi idee is nie, maar die waarheid waarop ’n mens jouself vir tyd en ewigheid kan verlaat.

Hy is die verpersoonliking van Gods liefde tot ons. Hy is die waarborg van ons vrede met God en ons versoening met die mense. Hy is God in ons midde, God in ons vlees.

Tot so ’n kennis van Jesus kom ’n mens net as enkeling. En die vreugde daaroor lê dieper as die gewone vrolikheid van Kersfees. – WDJ