Prediking in die Lydenstyd
In: Burger, C.W., B. A. Muller en D. J. Smit (reds). 1983. Riglyne vir lydensprediking. Kaapstad: N.G. Kerk-Uitgewers, 7 – 20
I – Verkondig Christus
Wanneer die vraag gestel word wat in die lydenstyd gepreek moet word, is die antwoord eenvoudig: Christus moet verkondig word. Dit geld uiteraard van alle prediking. Tog is dit noodsaaklik om dit óók in die lydenstyd te onthou. Die groot gevaar is immers dat ons juis in die lydenstyd, wanneer dit vanselfsprekend is dat die lydende en gekruisigde Christus die inhoud van die prediking sal wees, die aksent vanaf Christus self na die mense rondom Hom kan verskuif. Dan preek ons oor Judas en Petrus, oor Pilatus of Simon van Sirene, met die resultaat dat ons bly steek in menslike religieusiteit en moraliteit, sonder om deur te stoot na die hart van die evangelie soos dit in die lyding van Christus geopenbaar word. Daarmee word ’n groot geleentheid verspeel, want die lydenstyd bied aan ons elke jaar die geleentheid om vollediger en noukeuriger as in ander tye van die kerklike jaar uiteen te lê wat die evangelie van die kruis presies omvat.
Die bedoeling van die lydensprediking is dat ons die betekenis van die lyding en sterwe van Christus op sodanige wyse moet verkondig dat dit as die evangelie verstaan kan word. Dit beteken dat dit nie in die lydensprediking maar net dáárom kan gaan dat die lydensgeskiedenis van Christus telkens weer opnuut aan die gemeente voorgehou moet word in sy kronologiese verloop en dramatiese ontwikkeling wat uitloop op die kruis nie. Ons “begaan” nie jaar na jaar weer die kruisweg van Christus, rustend en peinsend by al die stasies van die Via Dolorosa, asof ons daardeur weer min of meer in ’n soort misteriespel die gebeure van die lyding en dood van Christus teenwoordig moet stel nie. Ons verkondig die lyding en dood van Christus as evangelie in dié sin dat ons dit binne die konteks van die hele Skrif plaas en laat sien hoe daarin die heilsraad van God tot openbaring en verwerkliking kom. Dit gaan om die “Bedeutsamkeit”, die betekenisvolheid van die lyding en kruis van Christus soos dit in die lig van sy opstanding en verheerliking deur die apostels verstaan en verkondig is. Indien êrens, dan is dit hier duidelik hoe onmoontlik dit is om agter die boodskap van die evangeliste terug te probeer gryp op ’n “historiese Jesus” wat dan in die prediking ter sprake sou moet kom. Ons ken Christus slegs deur die getuienis van die apostels en die profete, en dit is ons roeping om in ons prediking saam met hulle te getuig van die evangelie dat sy lyding en dood ter wille van ons plaasgevind het, dat daarin met ons sáák gehandel is, en dat God daarin eens en vir altyd sy beloftes aan die vaders vervul het.
Die prediking in die lydenstyd kan alleen dán as geslaag beskou word, as dit die gemeente nie alleen bewus maak van die heilshistoriese aard daarvan nie, maar ook as van die beslissende aard daarvan as heilshistoriese daad van God waarop ons alleen in geloof en dankbaarheid kan antwoord.
II – Lyding van Christus – ’n daad van God
Dat dit in die lyding en sterwe van Christus om ’n daad van God gaan, moet in die lydensprediking voorop staan.1 Dit kan maklik gebeur dat in die lydenstyd veel gesê word oor die lyding wat Christus van alle kante deur mense aangedoen is en self oor die benoudheid waarin Hy vanweë die vooruitsig op die beker wat Hy in die laaste groot fase van sy lyding sou moes drink, gekom het. Dit alles is waar en behoort ook in die prediking aan die orde gestel te word, soos ons later sal sien. Op sigself was dit egter nie hierdie dinge wat die lyding van Christus of sy dood tot die inhoud van die evangelie gemaak het nie. As ons wil verstaan waarom die boodskap van die lyding en dood van Christus die evangelieboodskap is, sal ons agter al hierdie dinge moet deurstoot tot op die harde kern van waarom dit gegaan het: die saak tussen Christus en God. Die hele Nuwe Testament word onverstaanbaar as ons nie begryp dat daarin aan ons verkondig word dat die lyding en dood van Christus ’n daad van God was en dat wat oor Christus gekom het, uit die hand van God en volgens sy wil oor Christus gekom het nie.
Dit is opmerklik dat Lukas in Hand. 2:22-23 aan ons meedeel dat Petrus in sy Pinksterpreek reeds gesê het: “Israeliete, luister na hierdie woorde! God het Jesus van Nasaret aan hulle bekend gestel deur die kragtige dade, die wonders en die tekens wat Hy Hom by julle laat doen het. Daarvan weet julle self. God het besluit en dit vooruit bepaal om Hom aan julle uit te lewer, en julle het Hom deur die heidene aan die kruis laat spyker en Hom doodgemaak. Maar God het … Hom uit die dood laat opstaan.” Seker, hier is van die menslike daad sprake. Die hande van heidene en die bose wil van die Israeliete het Christus aan die kruis gebring. Tog was dit alles ook volgens die raad en voorkennis van God. God het gehandel in die lyding en dood van Christus. Dáárom kan die lyding en dood van Christus as ’n blye tyding, as evangelie verkondig word.
In die lig van die opstanding word dit duidelik dat die lydensgeskiedenis en die kruis van Christus nie ’n tragiese geskiedenis was nie en ook nie maar net nóg ’n voorbeeld van onskuldige lyding deur ’n bepaalde sameloop van omstandighede en die botsing van geestelike kragte op die veld van die menslike geskiedenis nie. Wanneer die opgestane Christus sy dissipels ontmoet, word één ding by hulle ingeskerp: die Christus moes ly (vgl. Luk. 24:7, 26, 44, 46). Onder dié teken het sy hele lewe reeds gestaan (vgl. Luk. 2:49; 4:43; 13:33; 19:5; Matt. 16: 21; 26:54; Joh. 3:14; 12:34, ens.) Daarmee is die kruis en die lyding van Christus veranker in die ewige raadsplan van God, wat niks anders is as sy heilsplan nie. Alles wat Paulus en die ander apostels oor die betekenis van die kruis te sê het, is gefundeer in die visie op die kruis as die vrug van die ewige heilsplan van God (vgl. Ef. l, Kol 1, ens). Veral die Brief aan die Hebreërs spel dit in ronde terme uit dat dit in die bloedstorting van Christus gaan om die verseëling van ’n nuwe verbond waarvan die beloftes onwrikbaar vasstaan.
Dit gaan lynreg in teen die strekking van die getuienis van die Nuwe Testament as daar beweer word – soos in ons tyd opnuut weer deur Herman Wiersinga – dat dit nie met die wil van God in verband gebring moet word dat Christus gekruisig is nie. 2 Sy lyding sou alleen die gevolg van menslike bloeddorstigheid en sonde gewees het. Die Nuwe Testament laat ons egter sien dat die menslike sonde en bloeddorstigheid natuurlik die naas-liggende oorsaak van die lyding van Christus was, maar dat dit deurkruis is deur die wil en die daad van God wat sy eniggebore Seun “oorgegee hét” (vgl. 1 Kor. 11:23; Rom. 8:32; Gal. 2:20; Joh. 3:16, ens). Daarom is die lyding en dood van Christus ook ’n daad van Gods liefde en sy gerig. Wie nalaat om dit duidelik te verkondig, vermink die evangelie.
Meesal is dit so dat diegene wat geen besondere aksent wil lê op die feit dat die lyding en die kruis van Christus deur die raad en voorkennis van God bepaal is nie, gemotiveer word deur die begeerte om die lig slegs op Gods liefde te laat val. Hulle skrik terug van die idee dat dit in die lyding van Christus om die gerig van God sou gaan, om die uitoefening van sy geregtigheid, om sy straf op die sonde. Hulle wil graag daaraan vashou dat dit in die prysgawe van die Seun in die dood enkel om die liefde gaan van die “weerlose” God wat bereid is om te ly onder die kwaad wat mense Hom aandoen in hulle ongehoorsaamheid en weiering om sy liefde te aanvaar. Ja, in sy Seun laat Hy Homself deur die mense wegdring en verneder, selfs tot in die dood aan die kruis toe. Juis in hierdie “magteloosheid” van God openbaar Hy egter sy grondelose liefde wat uiteindelik die sterkste mag is en alleen in staat is om selfs die ergste goddeloosheid van die mense te beskaam en te oorwin.
Natuurlik is hierdie gedagtes nie sonder ’n kern van waarheid nie. Dit gaan in die lyding en kruis van Christus om die liefde van God. Dit is ook waar dat God in sy liefde toelaat dat die mense alles aan sy Seun doen wat uit die haat van hulle harte teen God gebore word. Tog is dit nie so dat God in dit alles maar net weerloos en magteloos toekyk nie. In werklikheid is dit die mense in hulle haat teen God wat magteloos is. Hulle volvoer in hulle haat en woede die raadsplan van God en word dienstig aan die voltrekking van sy gerig oor die· menslike opstand en sonde. Wat van die mens se kant gesien die verdringing van God is, is van die kant van God gesien die oorgawe van sy Seun aan die gerig wat die noodsaaklike prys van die sonde is. Die kwaliteit van die liefde van God word eers sigbaar as ’n mens raaksien dat dit gaan om ’n liefde wat nooit en nêrens die geregtigheid afswak of omseil nie, maar die mens langs die weg van die reg tot verlossing bring.
Die liefde van God bestaan daarin dat Hy sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het (Rom. 8:32). In die plaasvervangende lyding en dood van sy eie Seun handhaaf God sowel sy geregtigheid as sy liefde. Ridderbos wys daarop dat die Nuwe Testament herhaaldelik by die duiding van die lyding van Christus teruggryp op die uitsprake oor die lydende Kneg van die Here in Jes. 533 Dáár is dit duidelik dat al die veragting, smaad en lyding wat die Kneg van die Here te beurt val, op Hom neerkom as die straf van God op die sonde wat plaasvervangend deur Hom gedra word. Die Here, sê Jes. 53:6, het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom. Dit het die Here behaag om Hom krank te maak en te verbrysel (10). Daarom kan Paulus in ronde woorde sê dat Jesus oorgelewer 1s ter wille van ons sonde en opgewek is ter wille van ons regverdigmaking (Rom. 4:25). God het Christus, wat geen sonde geken het nie, sonde gemaak vir ons, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom (2 Kor. 5:21). God het sy Seun gestuur in die gelykheid van die sondige vlees, sodat deur Hom die sonde veroordeel kon word in die vlees (Rom. 8:3).
Die oordeel, straf en geregtigheid van God kan nooit weggedink word uit die lyding en dood van Christus nie. Die Evangelies laat ons duidelik sien dat Christus deurgaans daarvan bewus was dat Hy in sy lyding met God self te make gehad het, nie net met die Joodse Raad of Pilatus of die skare nie. Die lyding wat oor Jesus kom, word deur Hom die beker genoem wat die Vader aan Hom gee om te drink (Joh. 18:11). Die gebedsworsteling in Getsemane is juis so ingrypend, omdat dit gaan om ’n worsteling met die wil van die Vader (vgl. Mark. 14:36). Die lyding van Christus is in laaste instansie ’n lyding wat Hom deur die Vader self aangedoen word, en dit loop uit op die roep van verlatenheid aan die kruis wat die dieptepunt van sy smarte is (Mark. 15:34). As Paulus aan hierdie dinge dink, dan soek hy na woorde wat kan uitdruk wat daar presies aan die kruis gebeur het tussen Christus en die Vader. Die woord waarop hy dan die keuse laat val, is die woord “vloek” (Gal. 3:10-14). Christus het vir ons ’n vloek geword, iemand wat deur God vervloek is, sodat die seën van Abraham na ons kan kom. Skerper, vreesliker kan dit nie gesê word nie. Christus het die loon ontvang van dié wat die wet van God verwerp en die liefde van God verag. Maar juis só het Hy ons sonde versoen. God het Hom tot ’n soenmiddel vir ons sonde daargestel om sy geregtigheid te bewys, sodat Hy self regverdig kan wees en regverdig kan maak dié wat uit die geloof in Christus is (Rom. 3:25-26). God handhaaf sy reg in die openbaring van sy liefde. Daaroor mag geen prediker in die lydenstyd enige onduidelikheid laat nie.
Wanneer ons dit goed verstaan, is dit moontlik om die volle gewig aan die feit dat dit in die oorgawe van Christus werklik om ’n daad van God’s liefde tot die mense gaan. Die liefde van God is geen goedkoop liefde nie. Dit is duur liefde. Dit is liefde wat die hoogste prys betaal. Dit is liefde wat vir niks terugskrik nie. Die volle implikasies daarvan word eers duidelik as ’n mens besef dat die “enigste” of “eie” Seun van God wat hier aan die gerig en die vloek prysgegee word, die ewige Seun van God is, één van wese met die Vader en die Heilige Gees. Dit gaan nie maar om ’n “representant” van God, soos in die nuwe teologie so graag gesê word nie. 4. Dit gaan nie maar om ’n mens wie se “ek” tot in die uiterste uithoeke deurdring was deur die Gees van God nie. 5 In die Seun het ons werklik te make met God self. Daarom is die kruis so vreeslik, want aan die kruis sterf die “Here van die heerlikheid” (1 Kor. 2:8). Dit gaan werklik om die “dood van die Here” (1 Kor. 11:26). As God die gerig oor sy eie Seun laat gaan, sny Hy in sy eie vlees. Die subjek van die lyding van Christus is die ewige Seun van God (vgl. HK vr. 40; NGB, art. XIX, Dordtse Leerreëls II, 4). Dit is nie maar ’n lapsus linguae, ’n onnoukeurigheid van uitdrukking, as Lukas skryf dat Paulus aan die ouderlinge van Efese gesê het dat hulle wag moet hou oor die kudde van God “wat Hy deur sy eie bloed” verkry het nie (Hand. 20:28). Selfs al moet ons daar, volgens ’n beter tekslesing, vertaal: “deur die bloed van sy eie Seun”, bly die waarheid nog dieselfde: kragtens die communicatio idiomatum gaan dit in die bloed van Jesus Christus, om die bloed wat God in sy Seun uit die skoot van die maagd Maria aangeneem het. Om met Calvyn te spreek: dit is nie sonder rede6 dat die Bybel só kan praat nie, want God self, die ewige Seun van God, is nie alleen direk betrokke by nie, maar is die subjek van alles wat Jesus Christus na sy menslike natuur ervaar en ly. Sy goddelike en sy menslike nature is, elkeen op sy eie wyse, betrokke by alles wat van die Middelaar gesê kan word, juis omdat God en mens in Hom kragtens die hupostatiese unie verbind is in ’n eenheid wat nooit meer ongedaan gemaak kan word nie.
Daarom is die prys van Golgota so groot. Die diepte van die liefde van God wat daarin openbaar word, kan nooit deur ons menslike verstand gepeil word nie. Dit laat ons in elk geval iets verstaan van die vreeslikheid van die sonde, as dit waar is dat niks minder as dit nodig was vir ons verlossing nie. Net God kan ons red. Die gewig van die verkryging van ons heil is te swaar om deur ’n mens alleen gedra te kan word, selfs al is dit ’n mens wat op ’n besondere wyse deur die Gees van God deurdring en regeer word. Hier was niks minder as die inkarnasie nodig nie. Net God kon die kloof tussen Hom en ons oorbrug. Die evangelie van die lydenstyd vertel aan ons dat Hy dit gedoen het en hoe Hy dit gedoen het.
III – Jesus Christus, die Vleesgewordene
As ons sê dat dit in die lyding en sterwe van Christus om ’n daad van God gaan, is daarmee egter nog nie alles gesê nie. Dit is van die uiterste belang dat dit duidelik moet word dat God hier gehandel het in en aan die Middelaar, Jesus Christus, die Vleesgewordene, die Mens. Die versoening is ’n daad van God – daaroor het ons duidelikheid. Maar dit is ’n daad waarin God nie sonder die mens gehandel het nie.
Daar is ’n egte menslike aspek van die Middelaarswerk van Christus wat nie misgekyk mag word nie. In die twintigste eeu het daar, nie alleen in die Lutherse teologie nie, maar ook by Karl Barth en sy navolgers, ’n sterk neiging sigbaar geword om op ’n teopasgitiese wyse oor die versoening as daad van God self te praat. Die agtergronde hiervan hoef ons hier nie besig te hou nie. Dit gaan daarin gedeeltelik om aansluiting by ’n meer Lutherse opvatting van die communicatio idiomatum (waarin daar altyd al ’n neiging tot monofisitiese tendense aanwesig was), maar ook gedeeltelik om die aansluiting by Hegeliaanse en ander idealistiese denkmateriaal en begrippe. 7 Die hoofmotief is egter om teenoor alle ebionitiese tendense daaraan vas te hou dat ons in Christus met God sélf te make het en dat dit dus ook van God sélf gesê kan word dat Hy in die lyding en die dood van die kruis ingegaan het.
Met die afwysing van alle vorme van ebionitisme en adopsianisme in die christologie kan ons ten volle saamstem. Uit wat ons tevore gesê het, is dit ook duidelik dat ons self ook van mening is dat die betrokkenheid van God self in die lyding van Christus verstaan en vasgehou moet word. Enigsins gewaag uitgedruk, kan ’n mens sê dat ons op die rand van die teopasgitisme langs moet beweeg om uitdrukking te kan verleen aan hierdie liefdesbetrokkenheid van God by die lyding en kruis van Christus. Tog is dit verkeerd om dié grens oor te steek en voluit teopasgities te praat. Dan kom ’n mens tot sulke uitsprake as dat God self gekruisig is en gesterwe het, dat God vir Homself die dood gekies het en vir die mens die lewe, of daar word gepraat van die plaasbekleding van God of die genoegdoening van God vir ons sonde. In bepaalde gevalle word daar selfs gespeel met die gedagte dat daar in die kruisgebeure sprake was van die verlatenheid van God deur God en selfs van ’n sekere konflik in God. In al hierdie gevalle word die grens van die Bybelse taal oorskry. Teopasgitisme is ’n vorm van spekulasie wat met ’n sekere logiese konsekwensie dink vanuit die eenheid van God, maar daarby nie reg laat geskied aan die genuanseerde wyse waarop die Skrif juis praat oor die lyding en dood van die Seun van God en nie van God sélf nie. 8 Om daaraan reg te laat geskied, moet ons die volle gewig toeken aan die vleeswording van die Seun van God as die Middelaar tussen God en die mense (1 Tim. 2:5). Die leer van die twee nature van Christus en die gereformeerde interpretasie van die communicatio idiomatum is niks anders nie as spraakreëls wat ons moet help om die genuanseerde spreekwyse van die Skrif na te volg. Alleen só is dit moontlik om die eg-menslike aspekte van die Middelaarswerk van Christus, en in die besonder van sy lyding en sterwe, tot hulle reg te laat kom.
Vir ons heil is alles daarin geleë dat Christus ’n ware mens was en dat Hy alles wat Hy deurly het, as méns deurly het. In die bekende Sondagsafdelings 5 en 6 redeneer die Heidelbergse Kategismus dat dit noodsaaklik was dat die Middelaar ’n volkome mens moes wees, en gee dan as rede daarvoor aan dat die menslike natuur wat gesondig het, in ooreenstemming met die gereg¬tigheid van God die straf vir die sonde moes dra. Daar is dikwels gekla oor die abstrakte en skolastieke aard van hierdie redenasie. ’n Mens kan ook toegee dat die Kategismus op ’n minder abstrakte en rasionele wyse oor hierdie saak kon gehandel het. Aan die kern van die saak waarom dit hier gaan, mag daar egter in die lig van die Skrif geen afbreuk gedoen word nie. ’n Mens hoef alleen maar aan die Brief aan die Hebreërs te dink, om te besef hoeveel klem die Skrif daarop lê dat die Middelaar ’n ware mens moes wees, aan sy broers in alle opsigte gelyk, behalwe vir die sonde (vgl. Heb. 2:17-18; 4:15, ens.). In die Christologiese stryd van die Ou Kerk was dit ’n deurlopende oortuiging dat niks wat menslik is, aan Christus vreemd moet gewees het, as Hy ons moes verlos nie. Die hele recapitulatio-motief van Irenaeus, maar ook die ortodokse Christologie van Chalcédon staan en val daarby dat Christus ons menslike, gebroke lewe juis as ’n mens moes kom óórlewe en as mens die sonde in die vlees moes oorwin. Die latere leer van die aktiewe en passiewe gehoorsaamheid van Christus as die Middelaar van die verbond is eweneens ’n uitdrukking van hierdie oortuiging.
Natuurlik is dit God wat ons verlossing bewerk, maar Hy doen dit langs die weg van die menslike gehoorsaamheid en die menslike lyding van sy Seun. Ons troos hang daaraan dat Christus na die vlees in alle opsigte aan ons gelyk geword het, uitgenome die sonde. Dat Christus se menslike natuur vanaf die moment van sy ontvangenis deur die Heilige Gees geheilig is, en dat Christus nie kón sondig nie, omdat die subjek van sy menslike lewe in die swakheid van die vlees die ewige Seun van God was, neem niks weg van die erns van sy versoekinge en die diepte van sy menslike ervaring van lyding en vervreemding nie. 9 Op die vlak van sy menslike bewussyn en wilslewe het Hy ’n eg-menslike worsteling en stryd geken. Dat Hy te midde daarvan deur die krag van sy Godheid bewaar en gedra is, beteken nie dat sy oorwinning oor versoeking en sy gehoorsaamheid aan die Vader nie ’n voluit menslike oorwinning en gehoorsaamheid was nie. As die Tweede Adam het Hy bly staan waar die eerste Adam geval het. As die enigste ware troue Bondgenoot van God het Hy aan God die eer gegee wat Hom toekom en die gehoorsaamheid wat die vervulling is van die ganse wet. Hy het God liefgehad met sy hele hart en sy hele siel en sy hele verstand. Hy was ’n mens soos God bedoel het dat die mens moet wees.
Daar was in die loop van die geskiedenis telkens weer die neiging om aan die ware mensheid van Christus te kort te doen. Dan word dit moeilik om die eg-menslike worsteling en stryd van Christus waarvan die Evangelies so duidelik getuig, tot hulle reg te laat kom. In die prediking in die lydenstyd is dit van die grootste belang om juis hierdie menslike kwaliteit van die stryd en oorwinning van Christus te beklemtoon. Al was Christus die Seun, het Hy onder versoeking gely en het Hy gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het (Heb. 5:8). Dit beteken nie dat Christus eers ongehoorsaam was, en dat Hy algaande gehoorsaamheid geleer het nie. Dit beteken egter wel dat Hy as mens hoe langer hoe meer ingelei is in die volle betekenis van sy gehoorsaamheid as Middelaar. Die versoekings van Christus waarvan ons in die Evangelies lees, staan altyd in verband met sy Middelaarskap. Die Satan het alles daarop toegespits om Hom die weg van die kruis te laat afwys (vgl. Matt. 4:1-11; Luk. 4:1-13). Die triomf van Christus is egter dat Hy dwars teen alles in aan sy roeping en amp vasgehou het, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het (Heb. 12:2). Dit is moontlik om die hele lydensgeskiedenis van Christus te bekyk vanuit die gesigshoek van die gehoorsame vervulling van sy amp en die noukeurige uitvoering van alles wat volgens die Skrifte deur Hom volbring moes word. Dit is in elk geval die gesigspunt waaruit K. Schilder in sy bekende trilogie oor die lyding van Christus die lydensverhaal op die voet volg. 10 ’n Mens sou dit kon stel onder die motto van Heb. 10:7: Kyk, Ek kom – in die boekrol is dit van My geskrywe – om u wil te doen, o God.
Hierdie gehoorsaamheid van Christus was ’n menslike gehoorsaamheid. Seker, sy Godheid het die aangenome mensheid so versterk, bewaar en geheilig dat Hy dit kon doen om só gehoorsaam te wees, maar dit het tog nie buite die menslike korrelaat van die geloof en die vertroue op God omgegaan nie. Hy was, juis ook na sy mensheid, gesalf en vervul met die Heilige Gees en Hy het met die vinger op die teks uit die Ou Testament geleef om die kaart te vind waarlangs sy weg moes gaan. Daarom is die gehoorsaamheid en oorwinning van Christus uiteindelik tog ook ’n geloofsgehoorsaamheid en ’n geloofsoorwinning. Nie verniet word Hy die Leidsman en Voleinder van die geloof genoem nie (Heb. 12:2). Die gereformeerde tradisie was altyd gekant teen die gedagte wat by die Rooms-Katolieke en Lutherse teologie voorgekom het, dat Christus gedurende sy aardse lewe in besit sou gewees het van die salige aanskouing van God. 11 Dit sou immers daartoe lei dat Christus in sy aardse lewe nie deur die geloof nie maar in aanskouing sou gewandel het. Maar daarmee sou die egte menslike worsteling, stryd, angs en spanning uit die lewe van Christus wegverklaar kon word of tot skyn gedegradeer kon word. Christus se gebedsworsteling sou van sy erns beroof kon word. Dit mag onder geen omstandighede gebeur nie. Ons mag die twee-nature-leer nooit só interpreteer dat dit die egte menslike geloofsverhouding van Christus tot die Vader in die gedrang bring nie. Dié leer is juis bedoel om daarvoor ruimte te maak. Om daaroor geen twyfel te laat nie, is die twee-nature-leer aangevul met die leer van die twee state van Christus waarin daar met name vir die egtheid van Christus se kenosis voorsiening gemaak kon word. Die sin van die kenosisleer is juis om tot uitdrukking te bring dat die Godheid van Christus agter die swakheid van die menslike vlees verberg is. Dit beteken dat Hy, al was Hy die ewige Seun van God, bewustelik die weg gegaan het van die menslike ervaring en nie gebruik gemaak het van sy goddelike eienskappe om Hom uit te lig bokant die donkerte en die angs van die menslike lydensweg nie. Sy oorwinning was ’n oorwinning van die geloof, omdat Hy, selfs in die donkerte van Getsemane en aan die kruis, vasgehou het aan die Woord en die beloftes van God.
IV – Die sonde van die mens in die lydensweg van Christus geopenbaar
Ons prediking in die lydenstyd moet egter nie net die lig laat val op die daad van God in die lyding en die kruis van Christus en op die eg-menslike aspekte van sy lyding en gehoorsaamheid nie. Dit moet ook daarop wys dat die sonde van die mense op ’n besondere wyse in en aan die lydensweg van Christus geopenbaar word. Onder hierdie perspektief is daar ’n legitieme plek vir die mense rondom Jesus in die prediking in die lydenstyd. Die lydensgeskiedenis laat ons immers sien hoedat omtrent elke vorm van kwaad ’n rol gespeel het in die lyding van Christus. ’n Mens dink hier vanself aan die opvatting van Korff dat die uitspraak dat Jesus ons sonde gedra het, ook in dié sin verstaan moet word, dat omtrent elke denkbare vorm van kwaad Christus op sy lydensweg deur mense aangedoen is. 12. Só is die menslike kwaad en sonde op Hom opgestapel en teen Hom aangeslinger. Maar Hy het dit alles gedra. Die Evangelies laat ons sien hoe mense feitlik nie anders kon as om hulle aan Christus te vergryp nie. Dit sal wel daarmee te make hê dat ons as sondige mense nie iemand in ons midde kan verdra wat werklik onskuldig en rein is nie. Ten diepste is dit egter ook die uitvloeisel daarvan dat Jesus, anders as al die ander diensknegte wat tevore na die landbouers gestuur is om die vrug van die wingerd te gaan vra, as die eie Seun van die eienaar van die wingerd herken is en daarom doodgemaak moes word (Mark 12:1-12). Wanneer ons in die prediking egter hierdie openbaring van die sonde van die mense aan Jesus op sy lydensweg blootlê, moet dit steeds duidelik wees dat ons dit alleen vanuit die diepste solidariteit met al hierdie mense in hulle skuld kan doen. Uiteindelik is dit nie net die Jode wat Jesus gekruisig het nie. Dit is ons almal, die hele mensheid, al het hulle ons ook verteenwoordig. As Jesus vandag weer in die vlees op aarde sou wees, sou ons – en dit geld van alle mense in alle lande – weer presies dieselfde aan Hom doen as wat die Jode gedoen het, al sal ons dit dan ook doen op ’n wyse wat pas by ons soort kultuur en ons soort idioom.
Die pynlikste aspek van die lyding van Jesus onder die hande van die Jode is dat dit daarin gegaan het om die wyse waarop die “uitverkore volk van God” Hom behandel het. Dit was die kerk van die Ou Verbond. Johannes word nooit moeg om in sy Evangelie hierdie aspek te belig nie: “Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie” (Joh. 1:11). Daarom het die begrip “Jode” in die Evangelie van Johannes deurgaans ’n negatiewe klank. Dit is egter nie net Johannes wat dit raakgesien het nie. Al die evangeliste getuig daarvan, soos ons dit ook reeds uit die aanhaling uit Hand. 2:22-23 gehoor het: “Israeliete … God het Jesus van Nasaret aan julle bekend gestel … en julle het Hom deur heidene aan die kruis laat spyker en Hom doodgemaak.” En Matteus en Markus teken met pynlike noukeurigheid die rol van die Joodse Raad in die gevangeneming en verhoor van Jesus, die opsweping van die skare, die afpersing van die Romeinse gesag en die verspreiding van die leuen aangaande die opstanding. Vreeslik is dit om te val in die hande van die religieuse mens!
In die prediking in die lydenstyd moet dan ook alle triomfalisme van die kerk tot in die wortel afgebreek word Dit is ’n woekerplant wat altyd weer groei. Maar dit is blote inbeelding en ’n vrug van ons gebrek aan sondekennis dat ons kan dink dat ons anders teenoor Jesus sou opgetree het as die kerk van die Ou Verbond. Die evangeliste teken sonder verskoning die ambisie, die onderlinge gekonkel, die geraffineerde tegnieke en die geestelike verblinding van die geestelike leidsliede. Dit word nie gedoen om ook maar die minste af te doen aan die uiterlike ordentlikheid en selfs nuttigheid van hierdie openbare figure nie. Wanneer van hulle geveinsdheid gepraat word, word daarmee nie bedoel dat hulle subjektief oneerlik was nie. Dit het per slot van rekening gegaan om die mense wat die samelewing gedra het en by die wet wou bewaar! Die eintlike doel van hierdie skildering van die geestelike leidsliede is om hulle objektiewe huigelary te ontbloot, hulle gevangenskap in ’n sisteem van georganiseerde godsdienstigheid wat met die egte vrees van die Here niks meer te make het nie. Die Evangelies sny dwarsdeur die moraliteit heen tot op die been van die innerlike afkeer van God wat bestaan ook by die godsdienstige mens. Onder die vlak van sy bewuste lewe, in die diepte van sy hart háát ook hy God en sy gebod. Die feit dat hy uiteindelik in die Naam van God die Seun van God aan die kruis kan spyker, kan bespot en bespuug, is die skerpste ontmaskering van alle godsdiens wat as kamoefleer-materiaal vir die innerlike haat teen God moet diep. Vreeslik is dit om te besef dat dit uiteindelik die wet van God gehanteer word om die Seun van God aan die kruis te bring. Een van die dieptepunte in die lydensgeskiedenis is die woorde van die Jode aan Pilatus: “Ons het ’n wet, en volgens dié wet moet hy dood, omdat hy hom as die Seun van God voorgedoen het” (Joh. 19:7).13 In hierdie één woord sit alles saamgebal: die misverstande, die kommunikasiebreuk, die onvryheid vir die waarheid, die selfbedrog, die verwarde vroomheid, die menslike usurpasie van die heerskappy van God en nog talle aspekte meer. Wie dit werklik verstaan, verkeer eerder in die versoeking om daaroor te huil as om daaroor te preek!
Tog moet dit alles in die lydensprediking aan die gemeente voorgehou word, sodat die gemeente die gevare kan leer ken wat die georganiseerde godsdienstigheid altyd weer bedreig. Die gemeente moet egter méér as dit leer ken: hy moet ook sy eie hart leer ken, want niemand wat verstaan hoe die sondige hart van die mens hier in die keuse vir of teen Jesus blootgelê word, kan sonder ’n gebroke hart daarvan afkom nie. Duisendvoudig doen ons daagliks dieselfde keuses as die Joodse Raad of die mense uit die anonieme skare wat gewillige materiaal in hulle hande was vir die verwerping van God in Christus Jesus. Pynlik is die tekening wat die Evangelies ons bied van die skare wat nooit werklik die waarheid gesoek het nie, maar brood of tekens of ’n politieke Messias (vgl. Matt. 4). Toe Christus die versoekings van die duiwel in hierdie verband afgewys het, was sy uiteindelike lot eintlik al klaar beseël. 14 So word die skare geteken in sy oppervlakkigheid en gebondenheid. Die lydensgeskiedenis van Christus dra die karakter van die klassieke botsing tussen goed en kwaad in die hele mensheidsgeskiedenis. Daarom is die lydensgeskiedenis so universeel en is dit duidelik waarom Christus in elk geval telkens weer gekruisig word solank die aardse bedéling duur. 15.
Dit is betekenisvol dat die Evangelies ook ’n sterk aksent lê op die swak rol wat die verteenwoordigers van die openbare reg in die proses rondom Jesus gespeel het. Herodes en Pilatus is ampsdraers van die Romeinse Ryk met sy trotse regstradisie, maar in die Evangelies tree hulle na vore as ligsinnig, sinies, onwillig om werklik vir die reg op te kom, gevoelig vir die intimidasie van drukgroepe en vir hulle eiebelang. So openbaar Jesus ook die dekadensie van die wêreldlike reg.
Ook die eie dissipels van Jesus word geteken in hulle swakheid en sonde. Juis rondom die lyding van Christus word duidelik hoe swak en flou, hoe vleeslik en onbetroubaar hulle is. Verraad en verloëning, gebrek aan besef van waarom dit gaan, die onvermoë om Jesus geestelik by te staan, en uiteindelik die vlug van Hom af weg: dit is al wat hulle vir Hom gedoen het. Selfs waar hulle Hom probeer help, soos Petrus met sy swaard by Getsemane, verstaan hulle nie die geestelike aard van sy stryd nie.
Hoe ons dit ook al bekyk, feitlik aan alle kante word dit duidelik dat alle mense rondom Jesus in hulle sonde ontbloot is, selfs die dissipels. Die mens, het iemand gesê, wil nie van die genade lewe nie. Hy wil so graag iets vir sy eie saligheid doen. Wel, in die lydensgeskiedenis word dit duidelik dat hy dit gedoen het. Hy het daaraan meegewerk dat die Seun van God aan die kruis gesterf het. In sy negatiewe, sondige rol het hy die raad van God aangaande die verlossing vervul, maar só dat hy ’n oneindige skuld op homself gelaai het en slegs kragtens die onbegrepe genade van God, paradoksaal, op grond van die uitgestorte bloed van Christus gered kan word. 0, diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë! (Rom. 11:33)
V – Praktiese relevansie
Die lydensprediking moet neerslag vind in ’n sigbaarmaking van die praktiese relevansie daarvan vir die mens van vandag. Dikwels is dit vir die prediker ’n probleem hoe hy die lydensverkondiging moet “toepas”. Dit is so maklik om te bly steek in die “objektiewe” blootlegging van wat daar alles in die lydensgeskiedenis op die spel was, sonder dat dit vir die gemeente duidelik word hoe hyself daarby betrokke is.
Natuurlik is die gemeente deurgaans betrokke by wat daar in die lydensgeskiedenis gebeur het. Dit het uit die voorafgaande opmerkinge reeds duidelik geword. Dit is óns saak wat God behartig het in die oorgawe van sy Seun. Dit is om óns ontwil dat Christus die Tweede Adam geword het, om so deur sy één daad van gehoorsaamheid baie tot regverdiges te stel (Rom. 5:18-19). Dit was ons krankhede wat Hy op Hom geneem het en in ons benoudhede dat Hy benoud was. Dit is ons vloek en verlatenheid van God wat Hy gedra het. Dit is ons sonde wat in die mense op sy lydensweg openbaar geword het, en dit is om ons ontwil dat Hy uitgeroep het: “Dit is volbring!” (Joh. 19:30)
Daarom is die eerste ding wat die prediker in die lydenstyd moet doen, om die gemeente op te roep tot geloof en dankbaarheid. Geloof is om dankbaar te rus in die volkome werk van Christus. Dit is om af te sien van alle eie probeersels om die ewige lewe te verkry, ja om al ons goeie hoedanighede en werke as iets wegwerpliks te beskou, om Christus as wins te verkry (Fil. 3:8). Die “toepassing” van die lydensprediking staan opgeteken in die briewe van Paulus en die ander apostels: dit is om gelowig uit die genade te gaan lewe.
Dit is egter nog meer. Dit is óók om in die geloof te gaan lewe uit die oorwinning van Christus. Die geheimenis van die kruis is dat dit ons God in die donkerte van die dood leer ken. Dáár waar sy toorn woed, dáár is juis die grootste openbaring van sy liefde aanwesig. Dáár waar Christus in swakheid gekruisig word, vind juis die oorwinning plaas oor die duiwel, die sonde en die dood. Om in die kruis van Christus te glo, is om te glo dat die mag van die duisternis en die vlees oorwin is, omdat ons saam met Christus gekruisig is (Rom. 6: 1 ev.). Dit is om met die moordenaar aan die kruis ’n beroep te doen op die oorwinning van die gebreekte Christus, wat alleen die Here is oor alle dinge.
Maar ons moet verder gaan. Uit die geloofsrus word ’n nuwe etos gebore. Egte geloof is bekering tot ’n nuwe lewe wat gestempel word deur die styl van die kruis. 16 Die lydensprediking moet nie simpatie vir Jesus probeer wek nie. Jesus het dit self afgewys toe Hy gesê het: “Moenie oor My ween nie!” (Luk. 23:28)17 Dit moet daartoe oproep om Christus na te volg in die gelykvormigheid aan sy dood. Om Christus te ken, is om Hom te ken in die krag van sy opstanding, en om Hom te ken in die krag van sy opstanding is om deur gehoorsaamheid met Hom saam te groei tot die gelykvormigheid aan sy dood (Fil. 3:10). Om in die kruis van Christus te glo, is om saam met Christus gekruisig te word. Gemeenskap met die lyding van Christus is in eerste instansie selfkruisiging. Die ou mens moet in die dood afgegee word. Die koringkorrel moet in die grond val en· sterf. Nie verniet het Calvyn die verootmoediging voor God en die mense as die vernaamste stuk van ons Christelike lewenswandel beskryf nie. 18 Sy lyfspreuk was: My hart, asof geslag, bring ek aan U ten offer. Dáár moet die lydensprediking ons bring. Die navolging van Christus is nie ’n uitwendige kopiëring van die lewe van Christus nie. Dit bestaan in die verloëning van onsself en ons eie heerlikheid, die bereidheid om ’n dienskneg te word en ons lewe as ’n dankoffer aan God te wy.
Die deelname aan die lyding van Christus beteken egter nog meer. Dit beteken óók dat die Christen bereid moet wees om saam met Christus te ly. Dit is ’n swak getuigskrif vir ons verburgerlikte Christendom dat dit vir ’n prediker vandag so moeilik is om aan die gemeente duidelik te maak wat dit beteken om saam met Christus te ly. Dit spreek van ons verwêreldlikte soort Christendom wat geen lyding om Christus ontwil ken nie, omdat ons nie vir die wêreld ’n bedreiging vorm nie. Dit is tog ondenkbaar dat die hele wêreld tot bekering gekom het, en daarom van die vervolging van die volgelinge van Christus afgesien het! As ons beter Christene was, as ons die waarheid liefgehad het, as ons minder kompromisse gemaak het, sou ons meer vervolg gewees het. Die vraag is in ons tyd eerder omgekeerd, of ’n groot deel van die kerk nie meedoen aan die vervolging van diegene onder ons wat werklik ter wille van Christus opsygeskuif en beswadder word nie. Hoe dit ook sy: die prediker moet in die lydenstyd die gemeente daarvan bewus maak dat getuienis en martelaarskap in die Vroeë Kerk onlosmaaklik aan mekaar verbonde was, sodat dit selfs met dieselfde woord uitgedruk kon word. Dit is net moontlik dat ons ’n tyd tegemoetgaan waarin ons dit weer proefondervindelik sal moet leer.
Het die lyding van Christus ook iets te sê vir die ander gestaltes van ons lyding? Daar is ’n breër sin waarin Christus vir ons in al ons lyding betekenis het. Dit geld in eerste instansie van sy voorbeeld. Ons is so bang om Christus as voorbeeld aan die gemeente voor te hou, en tereg, want dit kan tot ’n oppervlakkige moralisme lei. Christus is veel meer as ’n morele voorbeeld. Tog is dit waar dat Hy in die Nuwe Testament ook uitdruklik as ’n voorbeeld vir ons voorgehou word. ’n Mens kan selfs sê dat niemand homself op Christus as Borg en Middelaar kan verlaat, indien hy Hom nie ook as Voorbeeld wil aanvaar nie.19. Spesiaal in die wyse waarop Christus gely het en in sy lyding teenoor God en die mense gereageer het, is Hy vir ons tot ’n voorbeeld. In sy wete dat Hy, in alles wat mense Hom aangedoen het, in laaste instansie met God self te make het; in die lydsaamheid waarmee Hy die kwaad verdra het, in die trou waarmee Hy onder alle omstandighede, tot in Getsemane en aan die kruis aan God vasgehou het, is Hy vir ons tot ’n voorbeeld in ons lyding, van watter aard dit ook mag wees.
Die betekenis van Christus vir ons in ons lyding gaan egter nie op in sy voorbeeld nie. Die troos van die geloof is ook dat Christus in ons lyding by ons is. Dit geld nie net van ons lyding onder vervolging om Christus ontwil nie. Dit geld van alle lyding wat as gevolg van die sonde, selfs van ons eie sonde, oor ons kom. ’n Mens hoef nie ’n Hegeliaanse of Moltmanniaanse teorie daarop na te hou, om te verstaan dat God in Christus in ons lyding ingegaan het nie. Al die gebrokenheid van die skepping, al die pyn van ons bestaan is deur Hom gedeel. Daarom het sy lyding sy ganse lewe omvat. Al ons lyding en verdrukking wat deel is van die sugte van die skepping (Rom. 8:16 ev.) is opgeneem in die smarte van Christus. Ons mag dit wel nie alles interpreteer as lyding ter wille van Christus nie, maar ons mag dit alles verstaan as deel van die lyding waarin Christus binnegetree het om ons daarvan te verlos. Hy het ons krankhede op Horn geneem. In ons verlatenheid mag ons weet dat ons nooit meer verlate kan wees soos Hy verlate was nie. In en aan Hom word dit duidelik dat God nie maar net oor ons lewe beskik nie, maar dat Hy dit met ons goed bedoel met wat Hy oor ons toelaat. Ons smarte is geen straf meer me, maar kastyding, loutering, ’n leerproses en ’n geleentheid tot oorwinning. Dit laat ons die kruis sien.
So is die lyding van Christus vir ons tot ’n onuitspreeklike troos, nie alleen in ons bewussyn van ons sonde nie, maar ook wanneer ons terneergedruk word deur die kwaad wat in die wêreld skynbaar heerskappy voer, en in die pyn van ons eie lyding. Noudat God só diep tot ons neergedaal het, is ons lewe omvang deur die genade en staan dit in die teken van die lig.