Vredemakers

VREDEMAKERS
Die Burger, 21 Januarie 1984 bladsy 8

Dit het deur die eeue heen gegeld dat die geskiedenis van die mensheid met bloed geskryf is. Van alle lewende wesens is die mens die mees aggressiewe, die gevaarlikste en venynigste, omdat hy die intelligentste en mees ambisieuse is. Daarom is alle eeue gekenmerk deur oorloë en bloedige stryd.

In ons tyd is daar egter ’n punt bereik waar die wêreld bedreig word deur ’n totale oorlog wat baie maklik kan uitloop op totale vernietiging – nie net van die vyand nie, maar ook van die eie lewensmoontlikhede, omdat die ewe self deur die moderne wapens bedreig en totaal uitgewis kan word. ’n Mens kry ook die indruk dat toestande besig is om hulself toe te spits en dat die wêreld deur talle kleiner konflikte oor die hele aarde heen, besig is om die pionne reg te skuif vir die groot slagting wat die een of ander tyd byna onafwendbaar moet aanbreek.

Die ergste is dat die volkerewêreld klaarblyklik in ’n net gevang is waaruit ons nie kan ontsnap nie. Daar sit iets onafwendbaar en tragies in die gang van sake, omdat almal glo dat hulle geen ander keuse het as om aan so ’n vernietigingsoorlog deel te neem nie. Elkeen glo dat by dit sal moet doen in belang van die hoogste waardes waarvoor die mensheid staan. Die afwysing van die doelwitte van die vyand is so radikaal, dat hier blykbaar geen moontlikheid van ’n kompromis gesien word nie. En daarom is albei kante bereid om die hoogste prys te betaal, selfs al hou daardie prys die moontlikheid van selfvernietiging in.

Vir Christene moet dit tog eintlik ’n onhoudbare situasie wees. Daar is dan ook talle tekens dat Christene en kerke oor die wêreld heen protes aanteken, teen ’n gang van sake wat op so ’n totale oorlog moet uitloop. Die Christendom is te diep deurdronge van die woord van Christus dat die vredemakers geseënd is, omdat hulle kinders van God genoem sal word (Matteus 5:9); hulle is ook te diep onder die indruk van Paulus se oproep dat hulle ook moet bid vir regeerders en almal wat gesag uitoefen, sodat ons ’n rustige en stil lewe kan lei (1 Timoteus 2:2), om eenvoudig meegesleur te word in die défaitisme wat glo dat oorlog onafwendbaar is, of om aan die militaristiese gees in die wêreld te help bou.

Die taak om in ons gevaarlike wêreld vredemakers te moet wees, is nie eenvoudig nie. Wie naïef te werk gaan, kan vind dat sy bes bedoelde pogings vir vrede deur één van die partye vir eie gewin misbruik kan word. Vandaar dat die vredesbeweginge in die wêreld dikwels verdag is. Dit mag egter nie beteken dat ons dus liewer maar niks moet doen om vrede te bevorder nie.

Ons is in ons land nog veels te min betrokke by die saak van vredestigting. Ons bid te min vir die afwending van oorlog, veral ’n atoomoorlog. As Christene het ons egter ’n roeping daartoe. – WDJ