DIE KONINGSKAP VAN CHRISTUS EN DIE STAAT IN ‘N GODSDIENSTIG-PLURALISTIESE LAND – Respons: W P Esterhuyse, Departement Filosofie, Universiteit van Stellenbosch.
Scriptura 12 (1984), 1-19
Abstract – The kingship of Christ and the state in a religiously pluralistic country.
Referring to the argument that the granting of more political rights to the so-called Coloured and Asian population groups will jeopardize the Christian character of the South African state, as these groups include many adherents of non-Christian religions, the author examines the question whether the ideal of a Christian state must necessarily lead to such a conclusion. He contends that those who use this argument are probably influenced by a type of theocratic thinking of Dutch origin in which the corpus Christianum ideal still plays a large role. In doing so, they too easily identify the White South African society (or even Afrikanerdom) with Christianity, resulting in their defense of a form of political discrimination against these population groups on religious grounds. The author argues that the necessity to distinguish clearly between the character of the Church and state, makes this view untenable. He contends that the Christian character of the state cannot be upheld by discriminatory political measures.
INLEIDING
Die vraag na die betekenis van die belydenis van die koningskap van Christus vir die staatkundige lewe het in ons land ter sprake gekom na aanleiding van die invoering van die nuwe grondwet vir ons land. Daarin word voorsiening gemaak vir ’n vorm van deelname van Kleurlinge en Asiërs aan die regering van die land deurdat hulle saam met die Blankes sitting het in ‘n driekamer-parlement en medeseggenskap het oor sake van gemeenskaplike belang. Omdat aangeneem kan word dat sommige van die verteenwoordigers van hierdie bevolkingsgroepe na alle waarskynlikheid [2] Moslems of Hindoes sal wees, het sommige teenstanders van die nuwe grondwet die mening uitgespreek dat dit in stryd is met die Christelike belydenis aangaande die roeping van die staat. Daar is ook gesuggereer en sons ook openlik gesê dat diegene wat ten gunste van die nuwe grondwetlike bedeling is, die koningskap van Christus verwerp.
In ’n getuienis wat deur 193 predikante van die drie Afrikaanse kerke uitgereik is, word verklaar: “(Ons) verwerp die aanspraak as sou die voorgestelde nuwe grondwet vir die Republiek van Suid-Afrika die beliggaming wees van Christelike geregtigheid in die Republiek van Suid-Afrika. Ons bely saam met die Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 36 dat die staat ’n verantwoordelikheid het om sorg te dra dat die grondslae van die Christelike samelewing nie ondermyn word nie. Dit maak magsdeling met groepe wat die Bybelse grondwaarhede verwerp, prinsipieel onmoontlik”.
Dit spreek vanself dat hierdie soort uitsprake vrae laat ontstaan het, juis ook by ander Christene wat self geen begeerte het on die koningskap van Christus te misken nie. Is dit werklik waar dat die belydenis van die koningskap van Christus dit prinsipieel uitsluit dat daar in die staatkundige lewe medeseggenskap gegee mag word aan bevolkingsgroepe wat in hulle geledere aanhangers van nie-Christelike godsdienste tel? En kan ’n mens met reg uit art 36 van die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) aflei dat diegene wat vir die nuwe grondwet gestem het, aan die gereformeerde belydenis in verband met die roeping van die staat ontrou geword het? Dit is goed dat ons hierdie vrae ’n keer rustig moet bekyk. Ons stel daarby voorop dat dit vir ons nie om die politieke meriete van die nuwe grondwet gaan nie, maar slegs om die teologiese vrae wat hier in die spel is.
ONS UNIEKE SITUASIE
Helderheid is hier nodig, omdat ons in Suid-Afrika werklik met ’n unieke situasie te make het, nl. ’n multi-godsdienstige bevolkingsamestelling in ’n land waar daar ’n sterk dominante Christelik-Westerse lewenspatroon gevestig is, maar waarin politieke omstandighede dit gebiedend noodsaaklik maak on landsburgers wat ander godsdienste aanhang, staatkundig op ’n aanvaarbare wyse te akkommodeer. Beteken ons gereformeerde belydenis dat slegs Christene aan die regering van ons land mag deelneem? En is die konsekwensie daarvan dat ons nie-Christene blywend hulle burgerlike regte of ’n deel daarvan mag ontneem? Meer nog: beteken dit dat ons hele bevolkingsgroepe van politieke medeseggenskap in die land mag uitsluit, omdat hulle aanhangers van nie-Christelike godsdienste in hulle geledere tel? Of ook: eis ons [3] gereformeerde belydenis van ons dat ons, as ons sulke bevolkingsgroepe wel hulle politieke regte gun, die land in afsonderlike state vir die verskillende bevolkingsgroepe moet verdeel om seker te maak dat die Christelike karakter van die staat waartoe ons behoort, nie bedreig word nie?
Vanuit ons Europese teologiese agtergrond kan ons nie te veel direkte antwoorde verwag op die vraag of ’n multi-godsdienstige parlement aanvaarbaar is nie. Europa ken immers nie hierdie situasie aan die lyf nie. Sedert die 4de eeu was die Christendom in Europa die heersende godsdiens wat in ’n corpus Christianum-situasie ’n dominante posisie ingeneem het. Onder die “corpus Christianum” verstaan ons ’n situasie waarin lidmaatskap van die kerk en burgerskap van die staat mekaar feitlik heeltemal dek, sodat daar sprake is van ’n “Christelike gemenebes” waarin die Christelike kerk en die Christelike staat in die nouste verbinding met mekaar staan. Die kerklike en die burgerlike sfere vloei dan feitlik ineen. Die kerk geniet allerlei voorregte van die kant van die staat, en die staat maak aanspraak op die lojaliteit en steun van die kerk.
Ondanks die verbrokkeling van die corpus Christianum en die opkoms van die sekularisasie wat sedert die 18de eeu in Europa ingetree het, besit die Christendom in baie lande nog steeds ’n bevoorregte posisie wat op tradisie berus. Die situasie in Europa word nie gestempel deur die saambestaan van verskillende wêreldgodsdienste binne dieselfde landsgrense nie, maar deur die saambestaan van Christendom en sekularisasie, of anders uitgedruk: Christendom en humanisme, maar dan ’n vorm van humanisme wat nog steeds Christelike reste in homself omdra. Die standpunte wat behoudende Europese teoloë dus in hulle eie situasie inneem, kan nie sommer direk van toepassing gemaak word op ons situasie in Suid-Afrika nie. En die opvattings wat uit die wortel van die sekulêre humanisme opkom, is vir ons van huis uit onaanvaarbaar. Daarom het ons geen ander keuse as om selfstandig na ons besondere situasie te kyk en te probeer vasstel watter siening met betrekking tot die verhouding tussen staat en godsdiens deur ons gehuldig moet word, en watter implikasies dit in ons spesifieke situasie het nie.
BY VOORBAAT UITGESKAKEL
Opvattings oor die verhouding van staat en godsdiens wat vir ons by voorbaat uitgeskakel is, is die van die sinkretistiese staat en die godsdienstig neutrale staat.
Onder ’n sinkretistiese staat sou ons moet dink aan ’n staat wat homself op ’n algemeen-godsdienstige standpunt stet, d w s op ’n [4] standpunt van godsdiens bo geloofsverdeeldheid. Die staat maak dan geen keuse tussen die godsdienste nie, maar wil almal beskerm en bevorder, omdat dit in alle godsdienste dan sogenaamd om die diens aan dieselfde een God gaan. Binne hierdie konteks word dan oor God as die Voorsienigheid gepraat, of as die Beskikker oor die lot van nasies, moontlik selfs as die Skepper, maar nooit oor God as die Vader van Jesus Christus nie. Dit kom neer op ’n soort deïstiese geloof en die verering van ’n gesiglose God. Vir Christene is so iets uitgeslote, omdat ons glo dat ’n mens God net kan ken in die aangesig van Christus. Daarom is dit nie vir ons genoeg as die staat algemeen-godsdienstig is nie, maar sou ons graag wil hê dat die staat ’n positief Christelike karakter moet dra.
Die godsdienstig-neutrale staat daarenteen gaan uit van die standpunt dat die staat in godsdienstige sake volkome neutraal moet wees. Die staat waarborg wel vryheid van godsdiens aan al sy onderdane, maar beskou godsdiens as iets wat tot die persoonlike sfeer behoort, waarmee die staat homself nie inmeng nie, maar wat ook geen invloed mag hê op die oorwegings en beslissings van die staat nie. In haas alle moderne state word hierdie opvatting vandag gehuldig, ondanks die historiese reste van die corpus Christianum-situasie wat nog bestaan.[1] Uit die voorbeeld van Amerika kan ons egter leer dat hierdie visie dikwels daarop neerkom dat in naam van godsdiensvryheid in werklikheid teen die Christendom gediskrimineer kan word, hoewel dit die godsdiens van die oorgrote meerderheid van die bevolking is[2]. Dit is vir ons in elk geval ook onaanvaarbaar, omdat ons nie glo dat daar in godsdienstige sake so iets as neutraliteit is nie. ’n Neutrale staat is in feite ’n ateïstiese staat of ’n staat wat deur ’n nie-Christelike ideologie beheers word.
Oor die afwysing van hierdie twee visies op die verhouding tussen staat en godsdiens sal daar geen verskille bestaan tussen die deelnemers aan die huidige debat rondom ons situasie nie. Ons wil almal ’n Christelike staat hê, d.w.s. ’n staat wat die koningskap van Christus erken. Die vraag is egter wat ons daarmee bedoel en watter implikasies dit in ons situasie het.
DIE KONINGSKAP VAN CHRISTUS
Almal sal dit met mekaar daaroor eens wees dat die koningskap van Christus ’n geloofsbelydenis is. Op grond van die Skrif glo ons dat Jesus Christus die Koning van die konings en die Here van die here is (Openb. 19:16). Hy het van God ’n Naam ontvang wat bo elke naam is en voor Hom sal elke knie moet buig (Fil. 2:9 ev.). Hy moet as Koning beers totdat al sy vyande onder [5] sy voete gewerp is (1 Kor. 15:25). Aan Hom is alle mag in die hemel en op aarde gegee (Mat 28:19). Hy sit aan die regterhand van God en alle magte is aan Hom onderwerp (Ef. 1:21; 1 Pet. 3:22).
Dat die belydenis van die koningskap van Christus ook betrekking het op die politieke magte, is ’n tipies-gereformeerde oortuiging.[3] Christus heers inderdaad ook oor die heersers van die aarde, of hulle dit weet of nie en Christelik is of nie. Alle owerhede ontvang hulle gesag om te regeer van God (Joh. 19: 11). Hoewel die koningskap van Christus tans nog veelal verborge is, neem Christus tog alle state soewerein in diens en sorg Hy dat hulle Gods wil met die wêreld uitvoer.[4] Dit is nie aan ons opgedra om Christus Koning te maak nie. Hy is dit reeds en handhaaf sy koningskap soewerein deur alle menslike onreg en ongehoorsaamheid heen.
Tog moet ons direk hieraan toevoeg dat die geloof in die koningskap van Christus nie maar net die erkenning van ’n bepaalde stand van sake is nie, maar dat ons ook daartoe opgeroep word om die koningskap van Christus te erken, te bely, ons daaraan te onderwerp en aan Hom alleen gehoorsaamheid te betoon. Dat Jesus die Here is, was die oudste Christelike belydenis, en dit het vir die Christene politieke betekenis gehad, omdat hulle dit gestel het teenoor die belydenis dat die keiser Here is. Dit beteken dat ons nie net op elke ander terrein van ons persoonlike en gemeenskapslewe Jesus as die Here moet erken nie, maar dat ons dit ook in ons staatkundige lewe moet doen.
Dit beteken eerstens dat ons as burgers van hierdie land daarna behoort te strewe om in ons politieke denke en optrede in alles aan Gods wet gehoorsaam te wees. Alles wat Gods Woord van ons verwag met betrekking tot reg en geregtigheid, billikheid teenoor almal, die liefde tot die naaste, die beskerming van alle ordeninge van God en die bestryding van alle politieke vorms wat sonde en onreg kan aanneem, val hieronder. Maar daarby hoort ongetwyfeld ook dat ons onsself daarvoor moet beywer dat die Naam van Christus ook politiek openlik bely sal word, dat die regering van die land homself aan God en sy gebod moet onderwerp, dat die staat nie alleen vryheid van godsdiens sal waarborg nie, maar spesifiek ook die kerk as ’n besondere instelling sal erken, die kerk en die verkondiging van die evangelie sal beskerm en, vir sover dit op sy terrein lê, sorg daarvoor sal dra dat (soos die 193 predikante hulleself uitgedruk het) die grondslae van die Christelike samelewing nie ondermyn word nie.
Tot op hierdie punt sal daar waarskynlik eenstemmigheid beers. Die verskille kom egter na vore wanneer gevra word op watter wyse [6] hierdie verhouding tussen staat en godsdiens geformuleer moet word om aan die saak reg te laat geskied. Die kerke van Nederlandse gereformeerde afkoms besit gemeenskaplik art 36 van die NGB waarin oor die amp van die owerheid gehandel word en die verhouding tussen owerheid en godsdiens omskryf word. Hierdie artikel is egter die mees omstrede artikel in die belydenisgeskrif.[5] Daarin word o a gesê dat die owerheid die heilige woordbediening in stand moet hou, alle valse godsdiens en afgodery moet uitroei, die ryk van die Antichris te gronde moet rig en die koninkryk van Christus moet uitbrei deur die evangelie oral te laat verkondig. Die vraag is wat presies hiermee bedoel word. Almal stem met mekaar daaroor saam dat hier in sterk teokratiese terme oor die verhouding van staat en kerk, en dus ook van staat en godsdiens gepraat word, maar sommige is van mening dat hierdie formuleringe vir misverstand vatbaar is en gewysig behoort te word, terwyl andere juis weer meen dat dit korrek is om so te praat. Hierdie twee standpunte staan teenoor mekaar en speel moontlik ook ’n rol in die huidige diskussie rondom die verset teen die nuwe grondwet.
DIE TEOKRATIESE OPVATTING
Diegene wat meen dat art 36 onveranderd gehandhaaf moet word, gaan uit van ’n teokratiese opvatting oor die verhouding tussen kerk en staat. Hierdie opvatting is veral verbind met die name van Hoedemaker, Van Ruler en ander teoloë uit die kringe van die Nederlandse Hervormde Kerk. Die term “teokrasie” of Godsregering slaan in oorspronklike sin op die verhouding tussen God en die volk Israel, waarby God oor sy volk regeer deur bemiddeling van ’n heilige priesterskap en koningskap wat in die nouste verbinding wet mekaar staan. In die taalgebruik van die Nederlandse teokratiese teoloë slaan dit op ’n verhouding van innige samewerking tussen kerk en staat as twee instellings van God en twee gestaltes van die koninkryk van God binne die
Id! |
Christelike gemenebes.[6] As sodanig veronderstel die teokratiese opvattings die ideaal van die corpus Christianum.
Die Nederlandse teokrate gaan daarvan uit dat die Nederlandse volk histories gesien ’n Christelike volk is en dat Nederland ’n Christelike staat is. Die Christelike staat moet ’n staat met die Bybel wees wat, soos die Christelike vorste uit die tyd van die Reformasie, self moet beslis oor wat die ware godsdiens in onderskeiding van die valse is. Die staat gaan ’n besondere verhouding aan met die nasionale of staatskerk en laat hom by sy beslissings oor godsdienssake lei deur die publieke uitleg van die Woold van God soos dit in die belydenisskrifte van die nasionale kerk uitdrukking vind. Die staat sorg vir die instandhouding [7] van die kerk deur finansiële middele, ondersteun die kerk in alles en rig die staatslewe in ooreenstemming met die Woord van God in. Hoewel die staat vryheid van gewete handhaaf, beskou hy tog net die Christelike godsdiens volgens protestantse belydenis as die enigste ware godsdiens, en hy het die reg om aanhangers van die ware godsdiens in aanmerking te laat kom vir bepaalde burgerlike voorregte. Van Ruler was van mening dat die belangrikste ampte in die staat en die verteenwoordigende liggame slegs oop staan vir diegene wat die ware godsdiens aanhang.[7]
Hoewel hierdie teoloë soms ’n uitdrukking soos “kerkstaat” sal gebruik om hulle ideaal te verwoord, bedoel hulle dit tog nie in die pregnante sin van die woord soos dit by in die Reformasietyd deur Zwingli voorgestaan is nie. Die opvatting dat die owerheid letterlik in bepaalde gevalle afgodery en valse godsdiens met die swaard moet uitroei, wat in die tyd van die Reformasie wel voorgekom het en by ’n historiese uitleg van art 36 nie buite rekening gelaat kan word nie, word deur hulle gerelativeer. Dit uitdrukking dat die owerheid valse godsdiens en afgodery moet uitroei, word deur hulle dus so geïnterpreteer dat dit beteken dat die staat die kerk op so ’n wyse moet ondersteun, dat valse godsdiens en afgodery as resultaat van die prediking van die kerk uitgeroei sal word.[8]
SOEWEREINITEIT IN EIE KRING
Teenoor die teokrate staan Abraham Kuyper en sy medestanders uit die kringe van die Geref Kerken in Nederland wat om beginselredes die hele idee van teokratiese staat afwys. Kuyper was van mening dat die Ou-Testamentiese situasie van Israel daarmee op ’n ongeoorloofde manier in die nuwe bedeling ingedra word en noodwendig op ’n vermenging van kerk en staat moet uitloop. Hy het homself daarom beywer vir ’n wysiging van art 36 wat dit duidelik sal maak dat tussen kerk en staat as instellings van God onderskei word en dat elkeen homself tot sy eie terrein en bevoegdheid moet beperk. Kuyper verwoord dit deur te praat van die “soewereiniteit in eie kring” van die kerk en die staat. Hy sluit daarmee aan by ‘n ou tradisie in die Christelike denke wat teruggaan tot in die vyfde eeu.[9]
Kuyper sien die staat as algemeen-menslike instelling van God wat uit die algemene genade opkom, nie soos die kerk uit die besondere genade nie. Die staat is daar om op juridiese terrein reg en orde te handhaaf, en dit kan hy doen op grond van sy kennis van goed en kwaad uit Gods algemene openbaring. Die staat kan nie ’n verhouding met ’n bepaalde kerk aangaan nie, want dit loop uit op ’n staatskerk of ’n kerkstaat, wat volgens [8] die getuienis van die geskiedenis altyd tot skade was van kerk en staat beide. Die staat moet vryheid van godsdiens waarborg, maar is nie self bevoeg om oor die waarheid van die godsdiens te oordeel nie. Dit beteken nie dat die staat godsdienstig-neutraal is nie. Afgesien daarvan dat die staat reeds op grond van die algemene openbaring en die algemene genade weet van sy onderworpenheid aan God, word die staat van ’n land waar die Christelike geloof ’n sterk invloed het, self ook deur die Christendom gestempel.
Kuyper praat dus nie so maklik van ’n “Christelike staat” as die teokrate nie. As hy hierdie uitdrukking tog gebruik, bedoel by nie daarmee ’n staat wat homself konstitusioneel tot ’n Christelike staat verklaar nie, maar ’n staat wat hom in ’n land waarvan die meerderheid burgers Christene is, by die Christelike karakter van die volk aanpas. Dit sal dan ook uitdrukking vind in die optrede en wetgewing van die staat. Dit behoort egter nie tot die wese van die staat nie, maar tot sy verskyningsvorm in ’n bepaalde situasie. Volgens Kuyper het kerk en Christendom eintlik net op indirekte wyse invloed op die staat, en wel deur beïnvloeding van die gewete van owerheidspersone en onderdane. Hoe meer die gewete van owerheidspersone en onderdane aan Christus gebind is, hoe groter sal die ooreenstemming tussen die staat se besluite en die wet van God wees.[10]
ANTITESE TUSSEN GELOOF EN ONGELOOF
Op hierdie wyse kan Kuyper sy denke oor die antitese tussen geloof en ongeloof ook in sy staatkundige opvattings tot uitdrukking bring. Waar die teokrate eintlik werk met die oortuiging dat die corpus Christianum-situasie normatief is vir die verhouding van staat en godsdiens, maak Kuyper homself heeltemal daarvan vry. Waar hulle ’n sterk aksent lê op die historiese verbinding tussen ’n volk en die Christendom en op grond daarvan vashou aan die idee van ’n Christelike nasie met ’n Christelike owerheid, dink Kuyper vanuit die antitese tussen geloof en ongeloof in die hede. Daarom pleit by so sterk vir suiwer grense vir die kerk, grense wat deur geloof en belydenis getrek word. Daarom kies by vir ’n vrye kerk in ’n vrye staat. Hy wil kerk en staat nie vermeng nie, maar aan elkeen sy soewereiniteit in eie kring waarborg. Die Christelike karakter van volk en staat hang saam met die konkrete wyse waarop Christene die koningskap van Christus erken en dit hier en nou tot uitdrukking wil bring deur hulle Christelike aksie. Daardeur onderskei hulle hulself van andere wat nie vanuit die geloof dink en handel nie. Daarom wil Kuyper werk met Christelike politieke partye wat Christelike programme van aksies ontwerp en die staatslewe in ’n Christelike [9] rigting wil bring en hou. Die teokrate is gereserveerder teenoor die idee van die demokratiese politieke party. Hulle is veral afkerig van die idee van volksoewereiniteit en die heerskappy van die meerderheid, asof die waarheid uitgemaak kan word deur die stemmetal. Maar Kuyper werk met die idee van die demokratiese staat en die politieke partye wat aan ons Christelike roeping op die gebied van die politiek uitdrukking moet gee.[11]
ONTLEDING
Teen die agtergrond van hierdie twee standpunte moet ons nou probeer om die uitsprake van die 193 predikante te verstaan. Ons maak daaroor enkele opmerkinge:
I Die interpretasie word bemoeilik, omdat die Getuienis van die 193 twee dinge met mekaar verbind: die afwysing van politieke integrasie en die erkenning van die koningskap van Christus. Vir albei word egter dieselfde oplossing aangebied, nl. ’n verdeling van die land in afsonderlike state vir die verskillende bevolkingsgroepe. Dit mag miskien ’n oplossing wees vir die probleem van integrasie, maar as oplossing vir die probleem van die erkenning van die koningskap van Christus is dit ontoereikend. Dit gaan immers uit van die verbinding van lidmaatskap van ‘n bepaalde volk en Christenskap met mekaar. Dit is egter twee ongelyksoortige dinge. Die feit is immers dat daar nie net onder die blankes Christene is nie, maar ook onder die ander bevolkingsgroepe, terwyl lank nie alle blankes Christene in die spesifieke sin van die woord is nie. Enige verdeling van die land met Christenskap as kriterium sal dus nooit volgens die lyne van die bevolkingsgroepe kan verloop nie. Bowendien is die Christelike geloof iets wat bedoel is om alle volks- en landsgrense te oorskry.
2 Dit is egter duidelik dat die 193 nie aan Christenskap in die individuele sin van die woord dink nie, maar min of meer globaal die blanke bevolking van ons land as ’n Christelike nasie beskou in die sin waarin die teokrate dit ook met Nederland doen. Hulle werk dus met die idee van ’n soort corpus Christianum in ons land, altans vir sover dit die blankes betref. Hulle ywer dus nie daarvoor dat geen persoon wat die Bybelse grondwaarhede verwerp, deelname aan die landsregering ontsê moet word nie. Hulle stel dat magsdeling met groepe wat die Bybelse grondwaarhede verwerp, prinsipieel uitgeslote is. Daarmee word globaal daarvan uitgegaan dat die Kleurlinge en die Asiërs as groepe die evangelie verwerp. Dit is ’n onvriendelike standpunt vir sover dit minstens die Kleurlinge raak, wie se [10] volksbestaan ook tog histories in ’n groot mate deur die Christelike geloof gestempel is. En dit hou nie rekening met ’n groeiende getal Christene onder die Asiërs nie. Maar ook alle blankes is tog nie Christene nie. Daar is onder die blankes ook “groepe” wat minstens bepaalde Bybelse grondwaarhede verwerp, soos by Jode, Moslems en humaniste. Moet die 193 dan nie ook pleit dat sulke groepe uit die deelname aan die landsregering uitgeskakel word nie?
3 Die Getuienis van die 193 wek ook in ‘n ander opsig die indruk dat hulle met ’n teokratiese voorstelling van die staat werk. Dit mag dan waar wees dat ons land heeltemal nie volgens die teokratiese ideaal funksioneer nie: hier is geen staatskerk, geen staatsgodsdiens, geen diskriminasie teen mense op grond van hulle religieuse geloof nie. Hier bestaan volledige godsdiensvryheid. Tog verwag die 193 juis diskriminasie van die kant van die staat in politieke opsig teenoor bepaalde groepe van die landsbevolking op grond van hulle godsdienstige oortuiging, sodat hulle óf blywend van hulle burgerregte verstoke moet bly, óf (desnoods teen hulle eie sin) in ’n aparte staat ondergebring moet word. Anders sou die staat volgens hulle toelaat dat die grondslae van die Christelike samelewing ondermyn word. As die 193 meer vanuit Kuyper se visie sou gedink het, sou hulle die antitese tussen geloof en ongeloof nie verstaan het as iets wat die staat met politieke maatreëls orent moet hou nie, waar sou hulle geywer het vir ’n Christelike politiek wat die beginsels van geloof en ongeloof in die hele volkslewe teenoor mekaar stel met die doel om ook die staatkundige lewe Christelik te deursuur.
4 Noukeurige lees van die Getuienis as geheel maak dit egter duidelik dat dit daarin eintlik gaan om ’n getuienis vir die geloof “aan die reg van volke op behoud en eerbiediging van hulle eiesoortigheid, sowel as die reg van elkeen am sy identiteit te handhaaf en selfbeskikking te verwerf”. Daarom word ook soveel kiem gelê op sake soos Afrikanereenheid, Christelik-nasionale roepingsgeloof, Afrikanerweerbaarheid, Afrikaneraandrang op Christelike norme in die volkslewe, ens. Afrikanerskap en Christenskap skuif hier ineen. Dan val handhawing van die Christelike grondslae van die samelewing en handhawing van die Afrikaner se volksidentiteit saam. Dat Christelikheid ook iets te doen kan hê met ’n poging om politieke diskriminasie teen nie-Afrikaners te probeer beëindig, kom dan op die agtergrond. Wanneer Christenskap en die bestaande blanke samelewing eenmaal met mekaar vereenselwig is, volg dit dat die staat alleen “Christelik” handel as by die bestaande “Christelike” samelewingspatroon van die blankes handhaaf. Maar is dit teologies [11] verdedigbaar? Sou ’n veelvolkige staat nie ook op Christelike grondslae gebaseer kon wees nie? En wat is presies die inhoud van die begrip “Christelik” as dit op hierdie wyse hanteer word?
HOE DAN WEL?
Uit hierdie kort ontleding sal dit duidelik wees dat die 193 baie nouer aansluit by die opvattings van die teokrate as by die van Kuyper en sy medestanders. In ons reaksie daarop kan ons onmoontlik nie ingaan op die verskille tussen die teokrate en die Kuyperiane nie. Van weerskante is daar indringende kritiek op mekaar gelewer en in baie gevalle is daardie kritiek ook ter sake. ’n Mens kan jouself nie sonder meer by een van die twee groepe skaar nie. In ons land het die opvattings van Kuyper oor die algemeen ’n baie dieper ingang gevind as die van die teokrate. Dit is ook nie vreemd nie, want die wyse waarop die verhouding tussen kerk en staat in ons land gereël is en die wyse waarop vryheid van godsdiens in ons land gewaarborg is, lê inderdaad baie nader aan Kuyper se opvattings as aan dié van die teokrate. Tog sal ’n mens ook by Kuyper verskillende dinge vind waarop jy kritiek sal moet lewer. Hy het homself inderdaad soms baie misverstandelik uitgedruk en dit is nie vreemd dat by daarvan beskuldig is dat hy eintlik en neutrale staat voorstaan nie.[12] Ook is dit waar dat hy soms gewerk het met ’n teenstelling tussen natuur en genade wat teologies onsuiwer is.[13]
Maar as dit alles gesê is, dan is dit tog duidelik dat Kuyper en sy gereformeerde medestanders ’n groot mate van gelyk aan hulle kant het as hulle duideliker as die teokrate onderskei tussen die funksies van kerk en staat en die eie karakter van elkeen van hierdie twee instellings van God tot sy reg wil laat kom. Albei standpunte wil die erfenis van Calvyn bewaar, en albei beroep hulleself ook met ‘n groot mate van reg op Calvyn. Maar as ’n mens vra na wat die diepste intensies van Calvyn was, dan was dit tog dat hy, anders as Luther met sy radikale skeiding tussen kerk en staat, en ook anders as Zwingli met sy teokratiese verbinding van kerk en staat, hom daarvoor beywer het om duidelik tussen kerk en staat te onderskei.[14] Die idee van ’n vrye kerk in en vrye staat doen in laaste instansie meer reg aan Calvyn se bedoeling as die idee van ’n teokratiese staat. Dit laat in elk geval ook meer reg geskied aan die onderskeie aard van kerk en staat. Al maak ons onsself ook los van Kuyper se spesifieke verdediging van sy konsep, sal ons tog moet vashou aan die duidelike verskil tussen kerk en staat. Hulle is verskillend in samestelling, in gesag en in hulle funksie. Uitwissing van grense kan hier net verwarring bring. [12]
Daarom is dit vir ons ook onaanvaarbaar om art 36 te verstaan as ’n belydenis dat die corpus Christianum-situasie normatief vir die verhouding van kerk en staat of staat en godsdiens is. Ons moet art 36 verstaan as ‘n belydenis van ons geloof met betrekking tot die amp van enige owerheid, in watter situasie dit ook al mag wees. Dit sal daarom ook goed wees as ons een of ander tyd maar die knoop kan deurhak en art 36 kan wysig in ooreenstemming met die gees van die diskussies van die Geref. Ekumeniese Sinode in hierdie verband.[15] Dan sal dit duideliker wees dat ons nie van die staat iets bely wat nie sy roeping is nie. Die staat het ander verpligtinge en bevoegdhede as die kerk, ook wanneer dit om godsdienstige sake gaan. Vir die kerk is die Christelike geloof konstitutief, maar dit geld nie van die staat nie. Die staat omvat nou eenmaal burgers wat nie Christene is nie en hy het geen reg om teenoor hulle te diskrimineer omdat hulle nie Christene is nie. Dit lê nie op die weg van die staat om eredienste te hou of evangelisasiewerk te doen nie. Dit is ook nie die staat se taak om, met wetgewing of andersins, sy onderdane te dwing om aan in bepaalde kerk te behoort of om ’n sekere godsdiens te bely nie. Daarom is dit vir die staat ook ongeoorloof om bepaalde staatlike voorregte, immuniteite, voorkeure of beletsels en nadele aan lidmaatskap van ’n bepaalde kerk of die belydenis van ’n bepaalde geloof te verbind.[16] Die staat moet vryheid van godsdiens vir almal waarborg, mits dit nie die openbare orde of moraal bedreig en die gesag van die staat op sy eie terrein ondermyn nie. Waar publiekregtelik gekwalifiseerde inter-verhoudinge in die spel is, moet die staat toesien dat die godsdienstige gevoelens van al sy onderdane eerbiedig word. Dit geld van alle kerke en godsdienste gelykelik, sonder dat die staat hierin teen bepaalde godsdienste mag diskrimineer.[17]
Dit beteken egter nie dat die staat godsdienstig neutraal is nie. Wat sy eie oortuiging betref, is dit ’n Bybelse eis dat die staat die koningskap van Christus sal erken, dat die Naam van Christus openlik bely sal word en dat die staat hom in al sy handelinge deur die Woord van God sal laat lei. Maar dit hou nie in dat die staat op godsdienstige gronde teen nie-Christene mag diskrimineer nie. En dit hou ook nie in dat ons bepaalde volksgroepe van deelname aan die regering van die land mag uitsluit, net omdat ons by voorbaat vrees dat hulle moontlik verteenwoordigers sal kies wat Christus se koningskap nie sal kan erken nie. Wie waarborg dat die blankes nie ook sulke mense sal kan kies nie? Die Getuienis van die 193 verwag iets van die staat wat by juis as Christelike staat nie mag doen nie.
Ons kan nie die Christelike karakter van die staat waarborg deur [13] teen nie-Christene te diskrimineer nie. Ons sal vir die Christelike karakter van die staat moet stry langs die normale Christelike weg van getuienis en oorreding. Ons sal ons moet beywer om die hele Suid-Afrikaanse samelewing met die boodskap van die Christendom te deursuur. Ons sal moet stry vir die behoud van Christelike beginsels oor die hele linie van ons politieke en maatskaplike bestaan. En ons het, wat die staatkundige lewe betref, nie ’n ander middel as die demokratiese weg om ons oortuigings mee te verwerklik nie.
DIT IS HULLE PROBLEEM
Ons het in Suid-Afrika ’n owerheid wat duidelik kant gekies het vir die Christendom. Weliswaar word daar in die aanhef tot die grondwet na God slegs verwys as “die Almagtige God”, maar dit was in die ou grondwet ook so, en niemand het daaraan getwyfel dat daarmee die God van die Bybel bedoel word nie. In die aanhef van die nuwe grondwet word selfs nog uitdruklik verklaar dat die regering daarna sal streef om Christelike waardes en beskaafde norme te handhaaf, iets wat baie naby kom aan die 193 se uitspraak dat die staat moet sorg dat die grondslae van die Christelike samelewing nie ondermyn word nie. Daarby weet ons ook dat die regering tot nou toe gevoelig was vir die waarskuwing om nie aan Christelike oortuigings ontrou te wees nie.[18] Dit is klaarblyklik nie die bedoeling van die nuwe grondwet om ’n ander standpunt by die regering ten opsigte van die Christendom tot uitdrukking te bring nie.
Die eintlike probleem raak dan ook op hierdie moment nie soseer die Christene nie, maar die nie-Christene. Hulle mag deur die nuwe grondwet in die posisie gestel word om deel te. neem aan die regering van die land op die basis van ‘n grondwet waarin die Christelike geloof erken word. As hulle bereid is om dit te doen, is dit hulle probleem dat daar Christelike gebede gebid word, dat die Christelike Sondag en feesdae eerbiedig word e.d.m. In die verlede was Jode en humaniste in dieselfde posisie. As dit vir hulle ’n probleem oplewer, moet hulle dit op ’n bepaalde manier te bowe kom. Hulle sou by kon verkies om nie teenwoordig te wees as in die Naam van Christus gebid word nie. Hulle sou verlof kon kry om in hulle eie kring te bid. Dit gaan hier egter om praktiese probleme wat opgelos kan word sonder om aan die Christelike geloof onreg te laat geskied.
Een ding sal ons daarby seker van parlementslede wat Christene is, kan verwag, en dit is dat hulle nie Christus moet verloën in ’n poging om nie aanstoot te gee nie. Hulle mag nie dink dat dit aanvaarbaar sal wees om maar in ’n soort algemene godsdienstigheid [14] te bly vassteek en die Naam van Christus liewer te verswyg of om kompromieë te maak wat die Christelike geloof in die gedrang bring nie.
GEMEENSKAPLIKE GROND
Juis omdat dit egter vir die staat gaan om die terrein van die reg en die orde, is dit duidelik dat daar saaklik en breë terrein is waarop Christene en nie-Christene met mekaar sal kan saamwerk, sonder om die Christendom te verloën. Kragtens Gods algemene genade is daar soveel besef van reg, billikheid en moraliteit aanwesig by nie-Christene, is daar ook soveel insig in wat saaklik korrek is in hulle midde, dat dit nie uitgeslote is om juis in tipiese staatlike sake met hulle tot ’n ooreenkoms op baie punte te kan kom nie. Die staat waarin die Christene in die eerste eeue geleef het, was ’n heidense staat. Nogtans lees ons nie alleen dat Christene in die Nuwe Testament herhaaldelik opgeroep word om die gesag van die staat te erken nie, maar in die boek Handelinge merk ons ook hoe Paulus juis deur hierdie nie-Christelike staat beskerm word en hoe die reg van die Romeinse staat onbedoeld ’n diens aan die koninkryk lewer.
Wanneer ons vir ’n Christelike staat pleit, is dit nie omdat ons dink dat slegs ’n Christelike owerheid werklik in owerheid in die volle sin van die woord kan wees nie. Dit is ook nie omdat ons op een of ander manier die staat wil verkerklik nie. Dit is egter omdat ons glo dat die lig van die evangelie ’n soveel helderder insig kan gee in die aard van die diens wat die owerheid moet lewer.[19] Daar is egter aspekte van hierdie diens wat saam met nie-Christene verrig kan word, sonder dat die Christelike karakter van ons land daardeur in die gedrang hoef te kom. Veel sal in elk geval afhang van die kwaliteit van ons Christenskap. Miskien moet ons onsself veel meer daaroor bekommer, as oor die moontlikheid dat In minderheid van nie-Christene aan die landsregering sal kan deelneem.
Prof W D Jonker
Dept Dogmatologie
Fakulteit Teologie
Universiteit van Stellenbosch
7600 Stellenbosch [15]
RESPONS – WP Esterhuyse
1 Prof Jonker het uitstekend daarin geslaag om aan te toon dat die getuienis van die 193 predikante op veronderstellinge berus wat totaal onhoudbaar is. Uit sy ontleding is dit duidelik dat die belydenis van die Koningskap van Christus en die idee van ’n Christelike samelewing ten onregte deur die 193 gebruik is as regverdiging van een van die mees flagrante vorme van politieke onreg wat daar kan wees, naamlik die eensydige ontsegging van die burgerregte van diegene wat nie wit is nie. Daarmee word die Christelike godsdiens – bedoeld of onbedoeld – voor ’n ideologiese karretjie ingespan.
So iets het al dikwels in die geskiedenis van die wêreld gebeur. En tot groot skade van die Christelike godsdiens wat daardeur aan geloofwaardigheid moes inboet. Die deurwerking van die Evangelie word immers ernstig gekortwiek wanneer die Christelike godsdiens misbruik word om politieke ideale te regverdig. Niks kan ook meer verwaand wees as die aanname dat God die besit van ’n bepaalde kleurgroep is wat daarmee ’n soort uitverkorenheid ontvang nie. Die God waarvan die. Bybel getuig is nie ’n “stamgod” nie. Hy is wel partydig – maar partydig vir reg en geregtigheid. Daarom is ’n volksidentiteit en voortbestaan wat deur middel van onreg aan ander in stand gehou word – soos byvoorbeeld die ontsegging van burgerregte – alles behalwe ‘n roeping deur God opgelê.
1,0 |
2 Die probleem waaroor dit gaan, naamlik wat ons as Christene met die Koningskap van Christus moet maak in ’n godsdienstig-pluralistiese staat, is ook baie goed deur prof Jonker verwoord. Sy ontleding word gedra deur die aanname dat die Evangelie van Jesus Christus wel relevansie het vir die staatkundige terrein en nie ingeperk durf word tot ‘n private vroomheid of individualistiese saligheidsbedryf nie. Wit hierdie relevansie is en hoe dit gekonkretiseer moet word wanneer ons oor die staat praat, is die eintlike vraag waaroor dit gaan.
Hierdie vraag kan op verskillende maniere beantwoord word. Twee hiervan, naamlik die teokratiese en die idee van soewereiniteit in eie kring, is deur prof Jonker aan die orde gestel. As ek hom reg verstaan het, het by ’n bepaalde affiniteit met laasgenoemde.
3 Persoonlik het ek ernstige probleme met die idee van ’n “Christelike staat” – veral as daaronder verstaan word dat die staat, as ’n instelling, die Koningskap van Christus moet [17] “erken en bely”. Van die talle probleme wat so ’n staatsopvatting meebring, noem ek slegs die volgende:
Daar moet duidelik tussen die konsepte “staat” en “regering” onderskei word omdat hulle nie saamval nie – behalwe moontlik in die geval van ’n outokratiese en totalitêre staat. Die staat is ’n instelling waarin mag en gesag met die oog op ordereëlings geïnvesteer is. Die regering van die dag is die agentskap wat hierdie mag en gesag in praktyk uitoefen en administreer.
Stel ’n mens jou op die basis van ‘n Christelike staat wat die Koningskap van Christus moet erken en bely, sou ’n mens inderdaad kon vra: Wat gebeur wanneer die regering van die dag uit ’n meerderheid nie-Christene bestaan wat hulle by die uitoefening en administrasie van staatsmag en -gesag nie deur die Koningskap van Christus laat lei nie? Kom die idee van ’n Christelike staat dan nie in die gedrang nie? En, indien wel, moet daar dan nie – ten einde hierdie moontlikheid te voorkom – maatreëls getref word om regering deur nie-Christene te voorkom en so die idee van ‘n Christelike staat in praktyk te red nie?
Hierdie vrae hang onder andere seam met die probleem hoe ’n staat, gegee sy aard as instelling, die Koningskap van Christus in praktyk moet erken en bely. ’n Konstitusionele verskansing is klaarblyklik nie die uitweg nie. Wat immers op papier staan, maak nog nie van die staat iets Christelik nie. Dit is hoogstens ‘n verklaring van voorneme – en dan ’n voorneme wat deur die regering van die dag gekonkretiseer moet word.
Ek mag verkeerd wees, maar dit lyk vir my dat die idee van ‘n Christelike staat – veral as dit gaan oor ’n belydenis van die Koningskap van Christus deur die staat – ernstige probleme skep. Hierdie probleme word nie uit die weg geruim deur in ’n godsdienstig-pluralistiese samelewing die onus op nie-Christene te pleas of hulle in so ’n Christelike staat wil saamwerk of nie wil saamwerk nie. Omdat nie-Christene ’n demokratiese reg op deelname het – voortspruitend uit die geregtigheidseis – is deelname nie ’n kwessie van keuse nie, maar ’n kwessie van legitieme aanspraak.
4 Indien die idee van ’n Christelike staat wat die Koningskap van Christus moet erken en bely, nie houdbaar is nie, hoe moet die hele kwessie dan benader word?
Algemeen gesproke kan gesê word dat die staat as instelling waarin mag en gesag geïnvesteer is, ’n orde-funksie het. In naam van die staat word hierdie funksie deur verskeie organe [18] uitgevoer.
Vanuit ‘n morele oogpunt beskou, gaan dit egter nie bloot om orde ter wille van orde nie. Anders gestel: mag en gesag is per definisie nie eties neutraal nie. Die orde wat gestig word, moet deur reg en geregtigheid gekwalifiseer word. En alle burgers van ‘n staat het in beginsel ’n gelyke aanspraak op reg en geregtigheid.
In die soort waardes en norme in terme waarvan ‘n staatsorde op die basis van reg en geregtigheid probeer stig word, kan die regering van die dag hom aan Christelike waardes en norme verbind. Hierdie verbintenis sal in hoe mate afhang van die aard van die gemeenskap wat in staatsverband georganiseer is en die soort verteenwoordigers wat verkies word. Maar dit daar gelaat.
Die punt waaroor dit gaan, is egter dat die verbintenis aan bepaalde waardes en norme, en in terme waarvan aan die geregtigheidseis inhoud gegee word, iets anders is as ‘n belydenis van die Koningskap van Christus. Tensy ek die begrip belydenis te eng interpreteer, is die aanvaarding en erkenning van byvoorbeeld Christelike waardes en norme nie dieselfde as ’n geloofsbelydenis nie. In ons Westerse beskawing is daar byvoorbeeld Christelike waardes en norme wat algemene gemeengoed geword het, maar wat as sodanig nog nie beteken dat diegene wat dit aanvaar en erken noodwendig in ‘n geloofsrelasie met God staan nie.
Vanuit ’n Christelike perspektief gesien, kan daar myns insiens niks meer gesê word as dat dit verkieslik is dat die agentskap van staatsmag en -gesag, naamlik die regering van die dag, hom in die konkretisering van orde op die basis van geregtigheid sal laat lei deur Christelike geregtigheidseise. Hierdie eise sal, wat my betref, ook insluit dat diegene wat nie die Christelike geloof bely nie ook hulle regmatige burgerregte sal geniet. Daar kan nie teen hulle gediskrimineer word op grond van geloofsoorweginge nie.
So gesien, het die staat nie ’n belydenistaak nie. Al wat gesê kan word, is dat die staat, deur sy ordereëlings, die vryheid van godsdiensbeoefening moet waarborg omdat dit deel vorm van die geregtigheidseis.
Dit alles beteken dat dit die taak van kerke en Christene is om enersyds beleidsmaatreëls wat getref word, aan die hand van Bybelse geregtigheidseise te toets en andersyds hulle daarvoor te beywer dat Christelike waardes en norme die deurslag sal gee by die tref van ordemaatreëls. [19]
In dié verband kan ek my wel vereenselwig met ’n frase wat prof Jonker ook gebruik, naamlik: “Christelike karakter”. Dié frase spel uit wat ek in gedagte het, naamlik dat dit die verantwoordelikheid van kerke en Christene is om hulle daarvoor te beywer dat Christelike waardes en norme in n samelewing gelding sal ontvang.
Ten slotte die volgende: in ’n godsdienstig-pluralistiese samelewing kan daar op grond van geloofsoorwegings nie maatreëls getref word wat een godsdienstige groep polities, sosiaal of ekonomies bo ’n ander groep bevoordeel nie. Sou dit wel gebeur, word ordemaatreëls getref wat op generlei wyse van ’n Bybelse regverdiging voorsien kan word nie. Bowendien, wanneer dit van die staat verwag word om die Christelike geloof te beskerm deur teen ander op grond van hulle godsdiens te diskrimineer, word daarmee by implikasie ’n vraagteken agter die werkingskrag van die Evangelie geplaas. Miskien moet ons minder praat oor die idee van ’n Christelike staat en ons oor die belydenis van die Koningskap van Christus opwen, en meer werk maak van ons getuienis as Christene en ons roeping om Christelike geregtigheid te konkretiseer in beleidspraktyke en gesagstrukture. Dan sal mense dalk al ons praatjies oor “Christelike beginsels” begin ernstig neem en ons samelewing in praktyk ook ‘n Christelike karakter vertoon.
Prof W P Esterhuyse
Departement Filosofie
Universiteit van Stellenbosch
7600 Stellenbosch
EINDNOTAS
[1] Vgl. E-W Böckenförde: “Staat, Gesellschaft, Kirche”, in: Christlicher Glaube in moderner Gesellschaft 15, 1982.
[2] Vgl. J D van der Vyver: Die juridiese funksie van staat en kerk, 1972, 103 e v.
[3] Vgl. G C Berkouwer: Het werk van Christus, 1953, 249 ev.; ibid: De voorzienigheid Gods, 1950, 124 ev.; W A Visser ‘t Hoof t: Het Koningschap van Christus, 1947.
[4] Vgl. K Barth: Rechtfertigung and Recht, 1938, 9 ev.
[5] Vgl. A D R Polman: Onze Nederl. Geloofsbelijdenis, Franeker, 266 ev.; S v d Linde: Twee gestalten van het Rijk, in Woord en Werkelijkheid, 1973, 91 ev. Vgl. ook die eindelose diskussies daaroor binne die kringe van die Geref Ekumeniese Sinode.
[6] Vgl. Van der Linde: a art, 91 ev.
[7] Vgl. G Holdijk: Denken over Kerk en Staat in de negentiende eeuw, in: Woord en Werkelijkheid, 1973, 148.
[8] Vgl. Van der Linde, a art, 96 ev.; G Holdijk, aw, 111 ev.; G Ph Scheers: Philippus Jacobus Hoedemaker, 1939; A A van Ruler: Religie en Politiek, 1945; J H P van Rooyen: Kerk en Staat, 1964.
[9] Vgl. Van der Linde, a art, 93.
[10] Vgl. A P Treurnicht: Grense tussen kerk en staat, in: Grense, 1961, 44.
[11] Vgl. Diepenhorst: Historisch-critische bijdrage tot de leer van den Christelijken staat, 1943, 112 ev.; Van der Vyver, a w, 31 ev.; Holdijk, aw, 123 ev.; A Kuyper: Antirevolutionaire Staatkunde I, 1916, II, 1917; ibid: De gemeene gratie, I-III, 1902-1904.
[12] Vgl. H P van Rooyen, aw, passim.
[13] Vgl. Van der Vyver, a w, 48 ev.
[14] Vgl. B van der Walt: Zwingli oor die staat, Woord en Daad, April 1984, 15.
[15] Vgl. die verslae oor die diskussies hieroor in die Algemene Sinode van die NGK, Agenda, 1982, 499 ev.
[16] Van der Vyver, a w, 192.
[17] Van der Vyver, a w, 195.
[18] Vgl. by die wette oor Christelike onderwys vir die blankes.
[19] Vgl. G C Berkouwer: De Voorzienigheid Gods, 1950, 144/145.