Goeie bedoelings

GOEIE BEDOELINGS
Die Burger, 4 Februarie 1984 bladsy 8

Natuurlik is ons bedoelings van die grootste belang. In die beoordeling van ons dade is dit baie belangrik om te vra met watter bedoeling ons dit of dat gedoen het. ’n Daad wat met bose opset verrig is, word anders beoordeel as een wat met ’n klaarblyklik goeie bedoeling gepleeg is, selfs al is die resultaat daarvan minder gelukkig.

Tog moet ons ook weer versigtig wees om te dink dat ons bedoelings ’n finale maatstaf is vir die beoordeling van goed en kwaad. ’n Mens kan nie agter jou goeie bedoelings skuil as jy iets doen wat klaarblyklik in stryd is met die objektiewe maatstaf vir goed en kwaad nie. Ons goeie bedoelings kan miskien as versagtende omstandighede aangevoer word as ons iets gedoen het wat verkeerd is of verkeerde gevolge het, maar in laaste instansie is die maatstaf vir goed en kwaad nie ons subjektiewe goeie bedoelings nie, maar die wil van God vir ons lewe.

Die rede hiervoor is duidelik. Ons is as mense so kortsigtig, dat ons selfs wanneer daar werklik goeie bedoelings by ons aanwesig is, dikwels die situasie verkeerd beoordeel, aksente verkeerd lê, berekeningsfoute maak en dus in staat is om met ons goeie bedoelings en al ’n groot klomp onheil aan te rig. Voorbeelde daarvan kan elkeen uit sy eie lewe na vore haal.

Die saak is egter nog ingewikkelder. Die vraag of ons bedoelings werklik so goed is as wat ons self dink en sê, is nie so maklik om te beantwoord nie. Ons is nie net kortsigtig nie, ons is ook sondig. Wat ons vir ons goeie bedoelings aansien of uitgee, is meestal nie so onskuldig goed as wat ons dink nie. Aan die bodem daarvan lê nog altyd ons selfsug en selfliefde, ons bevooroordeeldheid ten gunste van onsself en diegene wat ons liefhet, en ons half onbewuste bevooroordeeldheid ten nadele van andere.

Ons sal omtrent nooit toegee dat ons goeie bedoelings vermeng is met slegte bedoelings nie. Ons verdedig altyd onsself en beduie graag hoe goed en rein ons intensies was. Maar dikwels bedek ons daarmee – selfs ook vir onsself – die werklike redes vir ons instellings en keuses, ons dade en ons ideale. Dit geld vir al die terreine van ons lewe, vanaf die mees persoonlike tot die mees openbare soos dit in die politiek en ons maatskaplike ideale uitdrukking vind. Wie sal presies bepaal wat ons ten diepste daarin beweeg?

Wat ons ook al self oor ons goeie bedoelings sê, die maatstaf waaraan ons gemeet word, is in die finale instansie of ons in werklikheid – in die praktyk soos dit bestaan – goed of kwaad gedoen het. Ons goeie bedoelings kan ons nie red as ons lyding en ellende, onreg en onbillikheid veroorsaak of geduld het nie.

Ons het altyd weer rede om onsself en ons bedoelings te toets aan die strenge maatstaf van waarheid, liefde en geregtigheid.– WDJ