DIT IS GRIEWEND
Die Burger, 11 Februarie 1984, bladsy 8
Daar is in ons samelewing baie dinge wat vir ’n mens onaanvaarbaar is maar waaraan baie min gedoen kan word, sodat jy eenvoudig maar moet leer om daarmee saam te lewe soos met ’n pyn in jou nek. Dit kan byna nie anders in ons onvolmaakte wêreld met sy veelheid van uiteenlopende belange en instellings en vergroeisels nie.
Maar daar is tog ook ander dinge waaraan daar wel iets gedoen kan word, sodat dit nie nodig is om toe te laat dat ons onnodig daardeur gepynig hoef te word nie. In hierdie verband kan ’n mens dink aan die ydele gebruik van die Naam van God en van Christus wat blykbaar in die laaste tyd in die openbaar toeneem – veral ook in sekere media.
Vroeër is daar sorgvuldiger hierteen gewaak en is van geval tot geval nagegaan of die ydele gebruik van die Naam van die Here as aanstootlik beskou moet word of nie. ’n Mens is immers bereid om aan te neem dat daar in ernstige kuns, ruimte kan wees vir die gebruik van die Naam van God binne ’n konteks waarin dit nie noodwendig aanstootlik hoef te wees nie. In die jongste tyd wil dit egter voorkom of geoordeel word dat die misbruik van die Naam van God en Christus normaalweg nie as aanstootlik beskou moet word nie.
Die gevolg daarvan is dat ons soms getrakteer word – soms tot binne-in ons woonkamers waar ons kinders vroegaand nog aanwesig is – op ’n herhaalde misbruik van die Naam van die Here in stukke wat as komies bedoel is. Dit is nog die ergste as juis die misbruik van die Naam van God veronderstel is om die grappige element te wees.
Dit is eenvoudig griewend vir ’n sensitiewe mens, wat nog te vir ’n mens vir wie die Naam van God en Christus heilig is. ’n Mens is bewus daarvan dat sulke dinge meesal nie voorkom in materiaal wat plaaslik vervaardig word nie, maar dat dit hoofsaaklik voorkom in rolprente wat uit die buiteland afkomstig is. ’n Mens weet ook hoe moeilik dit gaan om geskikte materiaal te vind vir die “honger” elektroniese media wat daagliks ure lank vermaak moet verskaf. Maar selfs dan bly dit nog vir Christene iets besonder pynliks dat sulke dinge steeds veelvuldiger invloed gaan uitoefen op ons openbare spraakgebruik, leefwyse en instelling.
Hier het Christene nie te make met een van daardie soort dinge wat nie verhinder kan word nie. Hieraan kan tog hopelik iets gedoen word, en moet ook iets gedoen word, juis omdat Christene Christelike waardes en standaarde in ons land wil handhaaf. – WDJ